Die onsienlike son
Jacobus van der Riet
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN 978-1-86919-751-3
Koop Die onsienlike son op Kalahari.com
Hierdie debuut vorm in verskeie opsigte ’n uitsonderlike toevoeging tot die religieuse poësie in Afrikaans. Waar Sheila Cussons se gedigte vir lesers uit die Gereformeerde kerktradisie ’n venster op die Katolieke geloofsbelewenis oopgemaak het, bring Jacobus van der Riet ’n blik uit die Grieks-Ortodokse hoek.
In ‘n sestigtal sonnette dokumenteer die digter die lewens van minder en meer bekende heilige figure in breë trekke, en vestig hy die aandag op die uitleef van beginsels soos nederigheid, arbeidsaamheid en getrouheid aan ’n Hoër Orde, selfs tot die dood toe. In sy funksie as optekenaar of skriba van ’n lewenswyse en -ingesteldheid wat as eksemplaries gesien kan word, word die digter, net soos die Heilige Agmet in die sultan se paleis (69), ook ‘n ook kalligraaf of skoonskrywer in dié sin dat hy ‘n estetiese produk lewer. Wat danksy die digterlike optekening bly vassteek, is meer as die identiteit van die onderskeie heiliges, omdat dit in wese gaan oor hoe die vrugte van die gees nie tot lippetaal of gestagneerde oorgelewerde kennis beperk bly nie
Nog ’n vernuwende aspek van hierdie bundel is die oorrompelende visuele aanbod ter aanvulling tot sommige van die gedigte. Twaalf kleurryke afbeeldings van ikone plaas Van der Riet se werk binne ’n bepaalde verwysingskader wat vir lesers uit die Calvinistiese geloofstradisie verrassend mag wees. Terselfdertyd open dit ‘n intratekstuele gesprek tussen die poësieteks en die visuele teks, en verhoog dit die estetiese waarde en trefkrag van die bundel as geheel. Daarby maak die digter die toegif om agter in die bundel nuttige toeligting oor die onderskeie heilige figure beskikbaar te stel. Saam bied al hierdie elemente ’n prikkelende vertrekpunt om die bundel grondig te verken.
Terwyl die bundeltitel die leser reeds oor die drumpel van die alledaagse dra, funksioneer die voorplat, hier met ‘n kleurvolle ikoon omraam deur ‘n dieprooi agtergrond, om die sfeer van heiligheid, gewydheid en kontemplasie na vore te bring. Hierdie verwagting word in al die gedigte waargemaak, maar verder verdiep en genuanseer wanneer bepaalde figure in al hul gewoonheid én heiligheid te voorskyn tree. Dit is juis een van die maniere waarop die kunste ’n toegang kan vorm, hoe kortstondig of gebrekkig ook al, tot die mistieke en onsienlike.
Dit is waarskynlik wat Van der Riet met hierdie bundel in gedagte gehad het: dat hy by wyse van die digterlike woord en die visuele afbeelding, en deur die bemiddeling van refleksie en meditasie, die leser as menslike skepsel in aanraking wou bring met iets groters as hy self; met ’n ligbron (of “son”) wat paradoksaal genoeg “onsienlik” is, maar tog deels “sigbaar” word in die lewens van stoflike wesens. Hier is dus sprake van ’n poging om die mens deur ’n proses van transendering na ’n bonatuurlike kragveld te verplaas. Ideaal gesproke word die gedig ’n daad van herkenning: deur te fokus op die onderskeie historiese figure in al hul menslike broosheid en onvolkomenheid, maar ook in hul heroïese toewyding en oorgawe, maak die digter van selfs die geringstes ‘n objek van nadenke en aanskoue – en uiteindelik van inspirasie.
Vir die kritikus, soos vir die kunstenaar, gaan dit egter om meer as abstraksies. Die vraag is of die digter daarin slaag om met behulp van poëtiese tegnieke hierdie skitterende stof te bewerk en aan te bied sodat lesers werklik meegevoer raak en daardeur mede-aanskouers van die “onsienlike son” word. Dit is ’n groot opgaaf, en as beginnende digter is Van der Riet is in hierdie opsig nie oral ewe suksesvol nie. Deur sy volgehoue aanwending van ’n vaste digpatroon laat hy hom soms verlei tot die sondes van gedwonge of voorspelbare rym, geforseerde en oortollige woordgebruik en selfs gemeenplasighede in ’n poging om ’n versreël of strofe vol te maak. Om werklik ’n geslaagde sonnet te kan skryf, verg meer as die aanwending van die tradisionele veertien digreëls, die indeling daarvan in kwatryne, tersines of koeplette, en die gebruik van rym en metrum. Die sonnetdigter moet as kunstenaar in staat wees om binne die vooropgestelde patroon, sou hy daarop besluit, ’n sekere natuurlikheid, vlotheid of noodwendigheid te vind of te “veins”. ’n Mens vra jou af of die digter nie liewer van ’n vryer versvorm gebruik moes gemaak het nie. Sodoende sou hy die mooi eenheidskarakter van die bundel as sonnettereeks moes prysgee, maar daar is genoeg ander bindende elemente. Lesers met ’n oog vir perfeksie sal waarskynlik vind dat sekere vormlike gebreke in die gedigte hul entoesiasme vir die bundel op die duur laat afneem, maar sal nietemin waardering hê vir die positiewe elemente in elke vers, soos treffende beelde en woordgebruik, met dikwels ’n pragtige reël of twee wat die boustof ondersteun.
Ter illustrasie word ‘n gedig oor die relatief onbekende Eufrosynos hier aangehaal, spesifiek vanweë die kernbegrip van eenvoud, nederigheid en toewyding wat duidelik uit die goedgekose beelde spreek en die wyse waarop die gedagte-inhoud binne die beskeie ruimte van ‘n kloosterkombuis gestalte kry:
Die Heilige Eufrosynos die Kok
Nie vlug van gees, maar eenvoudig soos prei,
kom Eufrosynos tereg, ná seisoene van swerf,
in ’n kloosterkombuis waar hy skil, opkap en kerf,
waar sy hart begin gloei soos ’n sitroen en gedy.Vlek hy ’n vis, sing hy oor die patroon van ’n graat:
“Eer aan U, o God. U het als met wysheid gemaak.”
Oor elke kleur sing hy, oor elke fatsoen en smaak,
die rooi en rye pitte van die waatlemoen en granaat.Gestroop soos ’n ui aanvaar hy die spot wat sny
deur die skil, dog in ’n droom oor die tuin van geluk
sien die ab hoe die kok ’n tak met drie appels pluk,
wat hy by die klokkegelui vind in die vou van sy py.As siekes daaraan byt en gesond soos na ’n heilige kyk,
daag by Eufrosynos die besef: Dis weer tyd om te wyk. (56)
Ook in hierdie gedig is daar verstegniese insinkings wat deur ’n akademiese ontleding uitgewys sou kon word, maar nie alle lesers is ewe puntenerig (of akademies) ingestel nie. Hulle mag vind dat die boeiende inhoud vir die tegniese steuringe vergoed, of dat die swakplekke gewoon aan hulle verbygaan. Die probleem is nietemin dat versmatige ongelykhede ‘n leser onbewustelik kan beïnvloed, sodat hy of sy nie optimaal deur die gedig geroer word nie. Feit bly dat selfs mindere tegniese tekortkominge verhinder dat die gedig ’n afgeronde kunswerk word. En tog is die merkwaardige van hierdie bundel dat die digter se werk die indruk van geïnspireerde poësie maak, waarskynlik danksy die spreker se dubbelperspektief op die sienlike en die onsienlike, en sy innerlike oortuiging dat die stoflike deur ’n toegewyde en getransponeerde lewe (en ’n oorvloed genade, sou Luther wou byvoeg), deurdrenk kan word van heiligheid.
Van der Riet skryf helder en suiwer, sonder dweperigheid, in taal wat saam met die sintuiglike prag van die ikone ’n eiesoortige bewusmakingsproses op gang bring. Dit is ’n verademing om kennis te maak met ander praktyke binne die groter Christelike diskoers, en daarbinne tog gedeelde waardes, denke en strewes te herken wat nie altyd op dieselfde manier in die verskillende geloofspraktyke verwesenlik word nie.
Tot slot word ook die “Heilige Jerásimos van Kefalonië” (68) met sy landelike skoonheid volledig aangehaal, en met sy onvergeetlike “drink jy woorde, drink jy God”, weer eens om te toon hoe elke sonnet in hierdie reeks groot genot en verdieping kan bring, ten spyte van die kleiner jakkalsies wat in die velde van Arkadië ronddraf (soos onder andere “die vinke wat kwetter in die vlei”; die ooglopende rym in “by” en “py”; die oortollige “verwoed” in die slotreël):
Die Heilige Jerásimos van Kefalonië
Vir jou nie die velde van Arkadië, vir jou nie die lier
of ’n fluit as die ramme koppe stamp en die ooie wei.
Vir jou nie die skadu van die den, plataan en populier
as die sonbesies sing en die vinke kwetter in die vlei.Vir jou nie die loom sluimer, want jy verlang na Hom
soos ’n suikerbekkie na ’n suikerkan: In ’n grot
of klooster waar ’n monnik se hart bot, ontluik en blom,
hang jy aan sy lippe, drink jy woorde, drink jy God.In die tuin van Athos versamel jy nektar nes ’n by,
daar waar die wit baarde soos amandelbome bloei,
en maak jy heuning in jou hart, in die korf van jou py.Nou adem jou onverganklike relieke lente se kruiegeur.
Maar hulle noem jou ook Kapsalis, “die een wat skroei”,
wat besetenes se demone verwoed na buite laat beur.
Die onsienlike son verbreed die visie op die mens se belewing van spiritualiteit en die konsep van heiligheid. Lees dit gerus as u belangstel in poësie wat in ’n gesekulariseerde wêreld geestelike vervulling bied, en wil nadink oor hoe die menslike tekort tot heiligheid omskep kan word. Binne hierdie oorkoepelende tema is daar voldoende afwisseling om die belangstelling te behou. Dit is ’n prikkelende debuut, en die uitgewer verdien lof vir die aanskoulike publikasie waarmee hy Van der Riet se toetrede tot die digkuns begelei.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


