SêNet-briewe | Letters

 
Die leë saal en die groot gesprek oor Afrikaanse musiek en musiekteater
Die onlangse artikel in Huisgenoot Tempo 2012/1 deur Ilza Roggeband, “Waarheen nou met Afrikaanse Musiek?” het weer ou wroeginge in my kop aan die gang gesit.

Ek haal aan : “Afrikaanse musiekbedryf kry die wind van voor...Daar is ’n reuse tekort aan gehalte, vertel hulle jou….

… Heelparty kundiges sê reguit die mark is oorstroom met Afrikaanse musiek van swak gehalte. Musiekliefhebbers is moeg daarvan om dieselfde ou deuntjies te hoor en soek vars, nuwe klanke en lirieke wat die verbeelding aangryp. Kortom: daar is te min komponiste, te min liriekskrywers en sangers wat vernuwend dink en doen. So sê musiekpromotors, platemaatskappye en selfs kunstenaars.”

Die artikel spreek die saak aan dat Afrikaanse CD musiekverkope aan die daal is, en die rede daarvoor is toe te skryf aan heelwat, die grootste hiervan, die feit dat die mark versadig is deur Afrikaanse musiek van swak gehalte wat deurgaans dieselfde reseppie volg en aan die publiek opdis as oorspronklike musiek. Alles klink dieselfde. Die wéét ons, en in meeste geselskap word daar vele grappe gemaak en kritiek uitgespreek en benamings ge-uiter vir die onuitstaanbare monotoniese ’sokkiemusiek’, ’doef-doef’ musiek,  ’kleuter rymelary’ en onsinnige lirieke.

Ek is gekonfronteer met die hantering van dié musiek vanuit my werk by die laerskoolkoor van ’n klein Bolandse dorpie waarin ek sommige van die sogenaamde ’trefferliedjies’ van naderby leer ken het: daar is nooit meer as drie akkoorde nie, baie beslis kinderlike rymelary, herhalende en eenvoudige deuntjies en ritmes, en die piéce de resistance: die laaste koortjie is altyd ’n halftoon of heeltoon hoër. G’n wonder dis so populêr in laerskole nie. Tot my grootste ’horror’, is dit nie die kinders wat die groot passie vir hierdie nonsens aanvuur nie. Dis die grootmense, die onderwysers. Weldeeglik het ek ook gesien hoe die lirieke meestal skaars verskuilde seksuele innuendo bevat, verwysings na liggaamsdele met seksuele ondertone ensovoorts. In my opinie hoogs onvanpas vir ’n laerskoolkoor of kinders om luidkeels en semi-histeries te sing. Bestuur van die skool, onderwysers en ouers het hiermee geen probleem nie.

Deon Maas het vir my die beste beskrywing:  “Die Afrikaanse mark is die afgelope dekade ’n vullisdrom vir talentlose mense wat die vermetelheid het om hulleself as musikante te beskryf ”. Daarby wil ek aansluit dat ’n groot getal van diesulke ’sangers’ werklik en waarlik nie ’n sangstem het, of eintlik kan sing nie (dit word gekorrigeer met uitstekende klank-ingenieurs en die hulp van ’pitch-correction’, ’n handige rekenaar-truuk wat alles mooi blink vryf), en nul talent. Wie’t nou weer van die verhoog af gevra, “Can we please have more talent in the monitors?”

Maar Kerneels Breytenbach se uitlating het my die meeste getref: “…(Daar is) te min komponiste en liriekskrywers met natuurlike talent, te min innoverende bemarkers en denkers”.

En dan vra Ilza:  “Hoe kan ons Afrikaanse musiek weer nuwe hoogtes laat bereik? Vernuwing, vernuwing en nogmaals vernuwing is nodig, sê die kenners. Mense soek musiek met diepte. Met vleis. Byt. Edge. “

Dit blyk aan my dan, dat daar ’n behoefte bestaan aan kwaliteit, weldeurdagte, vernuwende, innoverende Afrikaanse musiek en musiek-teater is. Musiek gemaak en geskryf deur kunstenaars met talent, eerlikheid, kennis / opleiding, ervarendheid en met kwaliteit as prioriteit, sonder om hedendaagse denkrigtings en fokuspunte te misken, maar raak te vat.

Nou ja, hallo mense, dit gebeur onder julle neuse, en word goed bemark en publiek gemaak, al kry dit nie speeltyd op radiostasies nie (dis kwansuis nie kommersieël genoeg nie) of publisiteit in tydskrifte nie.

Ek was die afgelope klompie jare betrokke by die ontwikkeling van kwaliteit Afrikaanse musiekteater met kunstenaars en ’n besondere komponis en liriekskrywer met, in Kerneels Breytenbach se woorde,  “natuurlike talent, innoverend en denkend”, wat opgelei, sensitief en baie, baie slim is. Ons produksies en musiek het diepte. Vleis. Egde. Met bloedsweet en lang nagte se werk, geen begroting, en vasbyt bring ons dié werke na ’n paar verhoë. Ons werk met groot omsigtigheid en respek vir teks, komposisie, die spelers en sangers, die musikante. Ons weet dit is baie goed. Ons het geadverteer. Ons onderhoude is in die koerant. Ons kaartjie prys is billik, onder die standaardprys.  ’Word of mouth’ kry opgewonde reaksie: “Ja, ja, ons sal kom kyk! “

Die aand breek aan, en daar is 8 mense in die gehoor, waarvan die helfte komplimentêre kaartjies is.

Die gehore, deurgaans, is waarlik beïndruk met die produksies, wil meer daarvan hê, is van mening dat dit uitsonderlike hoë standaarde bereik, dit is toeganklik maar nie-kommersieël nie (hier verwysende na die ’doef-doef’musiekstyl) en staande ovasies en vele komplimente kom ons toe.

Net jammer daardie komplimente weerspieël nie in die kasregister nie. Ek moet, jammerlik, pateties en verskonend, die kunstenaars hulle kleine persentasietjie betaal en dink: “Liewe hemel, hierdie talent, professionaliteit, betrokkenheid en bedrewenheid verdien vergoeding van duisende rande.”

Ná die tyd kry ek dié verbaasde reaksies: “O, ek het nie geweet daarvan nie, ek sou kom kyk het”, of “ek het verkoue gehad”, “ek het gehóór dis so fantasties, geluk!” en “dis eksamen”. (Ek wonder altyd oor daai ene: wié skryf eksamen? Die grootmense of die kinders?, en bygesê, ek het al met verkoue, longontsteking, steke in my vinger met bloed op die klawers, hoofpyn, in eksamentyd, donderstorms, onder lekkende dakke, gebreekte snare en noodtoestande steeds op daardie verhoë geklim… )

Ek voel woedend en moedeloos en wil van Simonsberg met ’n moerse klanksisteem af skree: 'Waar was julle!!!' Op Stellenbosch, waar die intellektuele, kulturele en artistieke elite van Afrikaners by hul kaggels hul wyn en tamatiebredies liefderik verorber, gesels oor diepsinnige onderwerpe en grap oor die ’kommin’ Afrikaanse kulturele landskap, sal hulle nie die moeite doen om kwaliteit Afrikaanse musiek teater te ondersteun nie.

Hoekom voel dit vir my so vreeslik onregverdig dat, in Deon Maas se woorde, die “vullisdrom van talentlose mense wat die vermetelheid het om hulself as kunstenaars beskryf”, duisende rande betaal word om kleuter-liedjies met ’n beat te sing, in luukse motors rond rits, en meer publisiteit ontvang oor hulle persoonlike lewens, hulle huwelike en nuwe babas as oor enige iets anders,  en hul gehore en masse maklik sowat R150 – R350 betaal om hierdie middelmatigheid te ondersteun?

Ek het al lank gewonder en besef: dis vir my duidelik dat die Afrikaner middelmatigheid verkies. Dis lekker veilig. Afrikaanse musiek gehore bly klou aan hul lang-arm-sokkie-dans jongdae. Hulle wil nie dink nie, wil nie uitgedaag word om ’n paar breinselle te aktiveer nie, gekonfronteer word met ’n eerlike refleksie van die wêreld om hulle nie, en allermins waagmoed aan die dag lê nie.

Ek is ’n Afrikaanse kunstenaar, deeglik en goed klassiek opgelei, doen dít wat ek doen baie goed, is reeds 28 jaar lank met passie en determinasie in die teaterbedryf doenig in vele genres, en het jare gelede besluit om nié my siel te verkoop aan die Mefistofeles van kommersialiteit en vervlakking nie. Ek het verbete bly vasklou aan die etiek van kunstenaarskap: respek vir woordkuns en teksskrywers, musici, tegnici, regisseurs, kwaliteit en eerlike uitbeelding op ’n verhoog, met Churchill se woorde soos ’n mantra in my kop: “Never, never, ever give up.”

Maar oom Winston, my oorlog hou nie vier jaar lank aan nie, dit hou al 28 jaar aan. Dis ’n bietjie te lank, ek is bietjie te oud, en baie moeg.

Rika Vermeulen

Comments 3 Reaksies | 3 Comments
Delete Comment
avatar
Perdebytjie
2012-06-12 @13:23

Rika

Jy verwoord presies hoe ek al die jare voel. Ek gaan nou nie name noem nie, maar iemand na aan my het ontsettende talent, het al CD's uitgegee, met pragtige lirieke en musiek. Maar dit kry nie veel aftrek nie. Dis nie standaard doef-doef-sokkiemusiek nie, maar wel van hoogstaande musikale gehalte.

Ek is jammer om te erken dat Afrikaners nog nie opgegroei het wat musieksmaak betref nie en as kinders aangemoedig word om te dink die "Leeuloop" is die toppunt van musikale "kuns" in Afrikaans, is ek bevrees dat dit 'n verlore stryd is!

Ek weet ook nie wat jy meer kan doen nie, want die groepie mense wat goeie musiek waardeer, is maar yl gesaai. As 'n mens eerlik wil wees, is swak musiek 'n wêreldwye tendens. Luister maar net na al die Engelse en Amerikaanse gemors, wat die mark oorspoel. Dis nou maar eenmaal so dat vervlakking in musiek en kunste lei tot vervlakking van 'n samelewing. Dis maar een van die simptome van 'n baie verkoue, grieperige wêreld.

Groetnis

Perdebytjie

Delete Comment
avatar
Daniel
2012-06-13 @10:39
Rika
 
Ek stem 100% saam met die here Maas en Breytenbach.  Vir jou voel ek baie jammer dat die pogings wat jy aanwend nie waardeer of ondersteun word nie.
 
'n Mens kan seker nie 'n goeie produk verwag as "kunstenaars" name soos Snotkop. Beeskraal, Kombuis aan hulle produk koppel nie. Terloops, ek dink die woord "kunstenaar"  is die mees misbruikte woord in Afrikaans.
 
In my versameling van honderde musiekdiskette,  is daar skaars 'n handvol Afrikaanses.  Ek is nie trots daarop nie, maar ek kan nie geld op swak Afrikaanse diskette spandeer nie.
 
Ek het onlangs 'n disket aangekoop van Stepohen Foster se werk wat deur die Robert Shaw Chorale uitgevoer word..  Die liedj,ies is tussen 1850 en 1860 gekomponeer en vir die eerste keer gedurende daardie tydperk uitgevoer..  Eenvoudig maar diep!  Hoeveel van die "kunswerke" wat ons vandag hoor, sal oor 10 -  50 jaar nog gehoor word?  Min of geen, sou ek dink.
 
Enjee
Delete Comment
avatar
Sarel
2012-06-14 @14:24
Rika
 
Ek weet en verstaan presies hoe jy voel.
 
Oor die bestaan van doef-doef musiek: Ons moet dit aanvaar. Daaraan kan mens niks doen nie. En ek moet erken daar is sommige van die melodieë, verwerkings en selfs lirieke wat gladnie so sleg is nie - sommiges kan selfs slaag as kuns as dit op die regte manier verwerk word. Ek kan ook verstaan hoekom soveel mense daarvan hou. En juis om die laasgenoemde rede is daar soveel musikante en sangers wat hulle hoop daarop bou om in hierdie mark te slaag. Dit is ook nie noodwendig 'n verkeerde ding nie want uiteindelik gaan al die mense wat nie die mas opkom nie, wegdribbel en selgs die heel gewildste (nie altyd  noodwendig die heel beste nie) gaan oorbly. Hoe wyer die basis is vanwaar ons top talent egter kom, hoe beter gaan die hoofstroom uiteindelik wees.
 
Ons moet ook dankbaar wees dat daar soveel belangstelling in die vermaaklikheidsbedryf is. Na my beskeie mening het ons nog nie naastenby al die geleenthede benut wat daar kan wees nie.  Daar is soveel vlakke in die gemeenskap wat nog kan vermaak en daar is soveel geleenthede om te benut vir almal om te kan sing en speel. En hoe meer ons sing en speel, elkeen hier onder op ons eie vlak, hoe beter gaan die vlakke boontoe wees ... skole, kerke, kroegvermaak, kafeteriasangers, kleinteater vermaak, groot produksies, ens. ens. en uitendelik gaan ons hoofstroomkunstenaars werklikwaar fenomenaal wees. Ons is in die proses om hierdie groei te bewerkstellig. As ons nie hierdie toeloop het nie, gaan die top kunstenaars steeds nie wees wat dit moet wees nie. Die stormloop gaan die sifting makliker maak en ook die "regte" (as daar ooit soiets gedefinieer kan word) mense bo laat uitkom.
 
Maar meer oor jou uitdaging: Dink jy nie dat dit dalk by opleiding en/of opvoeding lê nie? Hoekom is dit so dat RSG 'n redelike mate van kunsmusiekprogramme kan uitsaai en dit so goed ondersteun word? Dit is omdat die radiostasie oor 'n tydperk van dekades belê het in die "opvoeding" van luisteraars - ek kry nie hierdie inligting by RSG nie, ek lei dit maar net af uit dit wat ekself oor die dekades gehoor het op daardie stasie. Ons het ook op 'n sekere gemeenskapsradiostasie in die Oos-Kaap, 'n baie sterk (eintlik totaal oorheersende) doef-doef komponent. Ons het met die aanbied van 'n sekere program begin om brug te bou tussen die doef-doefers en die luisteraars wat waarlik kunsmusiek waardeer deur goue middeweg-musiek te speel en die teelaarde vir die ware Jakob voor te berei. Ons sien weekliks hoe meer luisteraars ontvanklik word vir iets anders as doef-foef en so trek ons hulle al hoe nader na die punt toe waar ons glo hulle kan wees. In die proses verloor mens sommiges langs die pad, maar meesal word die luisteraar in 'n web van klank en liriek ingetrek wat hy nie geweet het bestaan nie. En kort voor lank byt die spinnekop en kan hy nie daaruit nie! Ons sien ook hoe daar meer belangstelling is vir die "dieper" besoekende kunstenaars aan ons area. Voorheen kon ons feitlik geen konsert van 'n dieper kunstenaar aanbied nie en nou is daar darem al gemiddelde gehore van 150 tot 250 in 'n gebied waar bywoning in elk geval (selfs van die doef-doef vertonings) gladnie 'n gereelde ding is nie.
 
Nou wonder ek hoe dit sal wees as ons almal toegang tot radiotasies het wat bou hieraan en wat ons mense, wat gladnie enigiets anders as doef-doef verstaan nie, kan lei om uit die heuningpot van kuns te drink. Dalk lê die uitdaging op hierdie vlak ... dit is dalk iets wat jou moegheid sal laat verdwyn ... die kans dat jy nie net betrokke is by die maak van kuns nie, maar ook dat jy maniere kan vind om mense daarnatoe te lei. Glo my, dit sal baie bevredigend wees.
 
En so gaan jy die behoeftes van ons mense ook beter leer ken en miskien gaan jou kuns ook effens buig om daarby aan te pas ... wie weet?
 
In kort: As die probleem die tekort aan gehore is, moet ons fokus verskuif en daaraan werk!
 
Groete
 
Sarel
 
 
 
 
 
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address