Na die stigting van die verversingspos aan die Kaap, was die meeste ‘setlaars’ daar redelik afgesonder van Europa. Min van hulle het baat gevind by enige kultuurgoedere wat die skepe vir hulle kon bring. Taal was 'n mengelmoes van die destydse Nederlands, Frans, Duits, Engels en die tale van Skandinawië, asook die tale wat uit die Ooste daarheen gebring is. Die vreemdelinge en slawe moes almal leer Nederlands praat, elkeen op sy eie geradbraakte manier, sodat daar mettertyd 'n heel ander taal ontstaan het wat baie van die Nederlands in die Laelande verskil het.
Skoolopleiding was daar nie juis nie, veral soos die ou pioniers verder van die Kaap af getrek het die binneland in. Rondreisende meesters het 'n bietjie opleiding gegee en die vernaamste leesstof was maar die Bybel en boekies wat die meesters kon verskaf. Later was daar pogings om koerantjies of joernale op die been te bring, maar verspreiding was natuurlik stadig. Dit kon maande neem vir so 'n koerantjie om die verste buiteposte te bereik. Voorbeelde van sulke koerantjies was Die Afrikaanse Patriot, Volksblad en Almanak.
As mens kyk na die taal van die Voortrekkers, het dit duidelik afgewyk van Nederlands en was dit eintlik al reeds 'n nuwe taal. 'n Voorbeeld is die Dagboek van Lewies Trigardt (ook bekend as Louis Trichardt) wat hy gehou het op sy trek die binneland in, tot waar dit tragies geëindig het in Mosambiek. Hy was ook van die eerste mense wat op skrif die term "Afrikaner" of te wel "Afrecaander" gebruik het. Trichardt het natuurlik probeer om Nederlands te skryf, maar dit nie heeltemal reggekry nie. Let byvoorbeeld op waar hy aan die "Goewerneur" van 'n fort in Mosambiek verduidelik waarom hulle die Kaapkolonie verlaat het:
"Ik z(ei) aan zijne Edelheid: 1ste, dat de grins van twee Colonies door te Swarte Natie is ver(r)inuweerd geworden; 2de, dat de Goevernement alle slaven op vrije voeten steld; 3de dat de Governement de Africaander tot soldaat vraag. (Die regering wil dus Afrikaners oproep tot militêre diens).
Daar op heb ik gezeg dat ik na de Portigiese kuste gaan zal..."
'n Entjie verder haal hy ene Carolus aan met hierdie sappige woorde, wat vandag nog geld:
" Daar op z(ei) Carolus dat het de Afrecaander zijn ongeluk is als zij wat beginnen wel (wil), dat allemaal haar eige baas wesen wel..."
(Almal wil sy eie baas wees.)
Die ou Afrikaner pioniers het graag briewe en veral gediggies aan die koerantjies van daardie tyd geskryf. In 1878 het die Genootskap van Regte Afrikaners 'n versameling van hierdie gediggies uitgegee. Ek haal enkele grepies daaruit aan:
Uit die "Voorrede"
"Die eerste voortbrengsels in alle tale was gedigte. Soos die gees van 'n nasie ontwaak ver syn taal, dan druk die gevoel sig uit in digmaat. Die ouste geskrifte in alle tale is dan oek meesal in poësie.
Net so is dit hier oek. Die eerste andwoord op die Oproeping van ons genootskap, an alle regte Afrikaners om te staan ver hul Moedertaal en Vaderland, was een stroom van gedigte gerig an "Oom Lokomotief", die onbekende redakteur van "Die Afrikaanse Patriot ..."
Versies uit die gedigte:
"Die Afrikaanse Volkslied
Een ider nasie het sijn LAND,
ons woon op Afrikaanse strand.
Ver ons is daar geen beter grond
Op al die wij'e wêreld rond.
Trots is ons om die naam te dra
Van kinders van Suid Afrika.
Een ider nasie het sijn Taal,
Ons praat van Kaap tot in Transvaal,
Wat almal maklik kan verstaan,
Ons praat so's Pa en Oupapa,
Die Landstaal van Suid Afrika. .."
"Klaas Geswint
Ou Klaas woon in die Onderveld,
Hy het gen vrou of kind;
maar waar hy kom is hy getelt,
En is 'n iders vrint.
Hy is nou oek 'n vrintje van
Die brawe Patriot
Wat nou 'n ieder lese kan,
Al wort hy soms bespot.
Die Patriot is nou mar klein,
Syn stukkies bajang kort,
Mar wag mar, dit sal beter syn
Wanneer hy ou'er wort..."
Die volgende is die tweede vers uit 'n gedig getiteld "Ver dopstekers". In die eerste vers vertel hy van drank stook:
"Dis nou nie meer mos,
Dis nou nie meer kos;
Hy is nou net sterk,
Hy sal met jou werk;
Versigtig, pas op;
Hy is nou gekook,
Hy is nou gestook;
hy lyk nie so kwaai,
Mar wat ek jou raai:
Pas op nou, ou paai;
Hy kom met een draai;
Want as jy hom drink,
Jou asem wort stink;
Jou longe verbrand,
Jy het geen verstand:
Dan mors jy jou geld,
Jy verarm met geweld;
Jou klere is vuil,
Jou vroutjie die huil,..."
Ek hoop die SêNetters vind bostaande interessant.
Varkspek


Kommentaar
Baie interessant, Varkspek, en leersaam.