Nuwe boeke | New books

 
Die Afrikaanse Skryfgids – vir almal wat (wil) skryf

Skryf jy? Of wil jy skryf? Die Afrikaanse skryfgids het pas by Penguin verskyn en beantwoord al jou vrae. Naomi Meyer het die boekbekendstelling bygewoon en met Leti Kleyn en Riana Scheepers, die samestellers van die boek, gesels.

Leti Kleyn en Riana Scheepers

Leti en Riana, julle het pas Die Afrikaanse skryfgids saamgestel. Vir die leërskare mense wat prewel “ek wil skryf”, ’n uitkoms. Hoe het julle paaie gekruis en hoe het julle op mekaar besluit as samesteller-wederhelftes waar mens sekerlik op ’n manier skryf-geesgenote moet kan wees om die pad bloedloos te kan stap? Mag die ekonomie van woorde in jul albei se agtergrond – Riana met kortverhale, Leti met poësie – ’n raakpunt gewees het?

Riana: As mens besluit om só ’n groot projek aan te pak, dan moet jy jou “partner in crime” baie, baie  goed kies. Net soos wat ek nie sommer saam met enige persoon sal reis nie, so sal ek ook nie saam met enigiemand werk nie.  Iemand wat saam met jou só ’n enorme projek aanpak,  moet baie van jou persoonlike eienskappe en ambisies deel;  jul werkstempo’s moet  sinchroniseer.  Verder moet albei dieselfde doelwitte en werksmetodes hê, dieselfde oortuiging en drif en deursettingsvermoë. In ’n groot mate moet mens dieselfde dink. Maar dit is ook belangrik dat daar variasie en verskillende perspektiewe in die twee persoonlikhede opgesluit lê, want ’n verskil van mening en wedersydse korrektief op mekaar is altyd nodig. Dit is goed om ’n gemeenskaplike doelwit na te streef, maar twee persoonlikhede wat verskillend dink, maak darem die hele projek net baie meer opwindend.

Die projek was Leti se idee.  Ons het tydens een Winterskryfskool by UP aan die praat geraak. Toe sy my vra of ek kans sien, het ek geweet dat dit weer een van daardie projekte gaan wees wat my in een jaar tien jaar ouer sal maak, maar dat daardie tien jaar ekstra  beslis die moeite werd gaan wees, omdat dit jou twintig jaar se kreatiewe energie en vreugde  gaan gee.  Ek het kans gesien vir hierdie uitdagende projek júis omdat ek saam met Leti kon werk.  As ek aan Leti dink, dan dink ek altyd aan ’n Kruisvaarder met een of ander missie:  een wat met heilige begeestering en energie ’n magtige vyand aanpak – en oorwin. Sy is superslim, sy is sprankelend, sy is jonk en kyk met ’n vars, dwars en rebelse oog na die wêreld.  Saam met haar sal ek oorlog toe gaan. Daar sal baie bloed en drama wees, maar ons sal die oorlog wen.

Ek dink ek en Leti het mekaar in hierdie opsig uitstekend aangevul. Ons het eintlik verstommend min probleme gehad, want ons twee was in harmonie. Ons aanvanklike beplanning was ook baie deeglik, en ons medewerkers was verstommend. Ons medewerkers is die eintlike sterre van hierdie skryfgids; ons hoogste verwagtinge is oortref.

Leti: Daar is een reël wat jy BLITSVINNIG in jou lewe leer as dit by die skryf van enigiets kom: fly solo. En ek het ook so ’n soort persoonlikheid. Ek werk eerder alleen as met ander mense. Ek is te ongeduldig. My ma sal dit ongeskik noem. My lewensmaat sal sê my verwagtinge is te hoog, met ander woorde ek is onredelik.  Maar dan ontmoet jy natuurlik ook ongelooflike mense. Jy sit en verstaar jou aan Riana in aksie by die Winterskool. Jy siénhoe raak die kursusgangers op haar verlief, mans én vroue. Jy wééthoe hard werk sy daai week om terugvoer te gee. En jy weet dat hierdie iemand is met wie jy saam sal wil werk.  Bitter graag. Want sy ken die ander kant van dít wat jy ken. Ek maak boeke, ek gee klas, ek werk in die akademie. En dit is alles tegniese goed. Daar is verbasend min kreatiwiteit aan ’n keurverslag of ’n stel bladproewe wat DADELIK moet klaar, of nagte sit met ’n indeks. Jy is gesteld op akademiese taalgebruik; jou akademiese artikels kom terug met die vermaning dat jou titels te kreatief is. Jy werk met tegniese aspekte, regsaspekte, begrotings. Of transparante, power points, punte, afsprake, spreekure, sieldodende vergaderings. Jy weet hóé ’n goeie boek moet lyk, en wát jy jou kursusgangers en studente en skrywers kan leer, maar of hulle dit kan regkry, is ’n heel ander saak. Juis daarom het ek en Riana so ’n goeie span gemaak. Sy is slim. Sy is skryfslim. Sy weet van te-pletter-werk. Sy ken die wêreld van skryf en uitgewers. Sy ken die kleinste binnewerkinge van skryf. Sy weet hoe om mense aan die skryf te kry. Sy weet wát voornemende skrywers wil weet en nodig het om te weet. Sy doen dit immers al jaaaaaare! Sy ken die ander kant van my wêreld. Ek ken van boeke maak. Sy ken van boeke skryf. En glo my, dit is ’n baie aardige gevoel om jou eie boek in jou hand te hou! Jy werk dan jou lewe lank aan ander mense s’n! En natuurlik is dit geen klein eer om saam met so ’n skrywersnaam te werk nie. :-)

Medewerker Willemien Brummer: "Maar was daar tien gebooie vir joernaliste, sou dit nie ver afgewyk het van die Bybelse gebooie nie: Jy mag jou beroep as joernalis nie misbruik nie; eer jou mentors en hulle by wie jy kan leer; jy mag nie ander se woorde en gedagtes steel nie; jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie; jy mag nie lui wees nie en jy durf jouself nie verheerlik nie."

Ek skryf, daarom is hierdie boek ongetwyfeld vir my. Vir wie is hierdie boek nog bedoel?

Riana: Die Afrikaanse skryfgids is beslis vir diegene wat kreatief wil skryf, of reeds aan die skryf is.  Van die lekkerste terugvoering wat ons kry, is van gepubliseerde skrywers wat sê hoe baie hulle baat vind by die inligting; al ken hulle al die trieks, moet mens net weer aan sekere dinge herinner word.  Maar die gids is verál gerig op die persoon wat daardie dringende behoefte het om te begin skryf, maar voel dat hy niks weet nie. Waar begin mens? Té veel skrywers glo dat jy net kan skryf as jy “geleerd” is, as jy een of ander MA behaal het, wat natuurlik nie waar is nie.  Ek wil hê dat daardie soekende siel die hoofstuk moet lees van die genre waarin hy belang stel, en dat hy óf so begeesterd is dat hy dadelik begin skryf, óf hy moet duidelik besef dat dit nie vir hom beskore is om ’n vertaler, liriekskrywer, artikelskrywer of wat ook al te wees nie.

Die versoek aan ons medewerkers was om toeganklik, gebruiksvriendelik, te skryf; nie soseer vir die akademikus nie, maar vir die gewone ou, maar sonder om doekies om te draai oor die uitdagings wat elke genre stel.  Dit het hulle skitterend reggekry.  Terwyl ek die hoofstukke gelees het, het ék gevoel ek wil sekere genres aanpak, so besield was ek!

Leti: Ek het hierdie boek uitgedink toe ek die voorgraadse kursus in Kreatiewe Skryfkuns by UP aangebied het. Ek wou my studente (teen alle vermaning en voorstelle in!) leer dat skryf oor meer gaan as net gedigte, kortverhale en dramatekste. Ek het gemeen dit gaan ook oor konkrete gedigte (lekker eksperimenteel) en kitsfiksies (wat kan jy doen in 100 woorde?) en filmdraaiboeke. Toe ek daai drie goed op hulle koppe gekeer het, het ek begin werk aan ander moontlikhede. Genrefiksie, mediatekste, gaming, stripkuns ... noem maar op. En dan natuurlik sê jou studente ook nog wat húlle geleer wil word: blogging, verwerking, draaiboeke ... Ek wou my studente leer hoe om ekstra geld te maak. Hoe om ’n resensie vir die kapuskoerant te skryf, jou haatlike kuiers by familie in Deneysville in iets interessants te omskryf. Om ’n behoorlike koerantartikel oor toiletgraffiti op kampus te skryf éngeld te verdien.

As jong student het ek ook smartgedigte geskryf oor niemand my verstaan nie. En ja, ons wou almal bitter graag die nuwe Ingrid Jonker wees. :-) Nóóit het ek toe kon dink dat ek ’n nagskof met ’n tow-truck driver sou gaan ry of warm karre in Voortrekkerweg gaan dophou tot jou maag daarvan wil draai vir koerantartikels nie, of my frustrasies met my Zambiese priester-buurman of die wyse waarop munisipale stakings my huiswerker se broer sy lewe gekos het in ’n koerantrubriek sou kon opskryf nie. Bloot omdat ek nie genoeg blootstelling gehad het aan hierdie moontlikhede van skryf nie. En as ek terugkyk, wens ek ek het vroeër in my lewe geweet daar is meer as net gedigte wat geskryf wil word.

Dit gaan natuurlik verder as dit. Dit gaan vir my oor my eie betrokkenheid by verskillende gemeenskappe. Hoe jy ’n bydrae kan maak deur ’n stem te gee aan iets. Woorde kan vind om te vertel hóé presies daai tow-truck driver suffer om die huur te betaal, hoe die kinders van Karatera se elkedaglewe is in ’n gemeenskap waar drank die botoon voer – en dít skryf hulle vir my in hulle fietskompetisie-stories op. Ook wat hulle dagdroom en wat hulle graag wil word as hulle groot is. Een ma het vir my op die inskryfvorm geskryf ek kan maar die fiets hou, sy wil net hê haar kind moet verder kan gaan leer iewers. Die vrou in die tankwa wat vir my sê: Mevrou, dit gaan elke dag beter met my, want ek weet daar is mense wat nou weet hoe dit met ons hier gaan.

Die woord is ’n magtige medium as jy weet hoe om dit reg te gebruik. En dít wou ek vir my studente leer. En ek het dit gedeeltelik reggekry: een van my studente het  ’n Kampus-Beeld-rubriek gehad, drie het vir die kampuskoerant gewerk, een vir die radiostasie, twee se kortverhale is in die nuwe bundel van NB opgeneem, en nog een het ’n draaiboek wat deur KykNET aanvaar is. Dit hét dus gewerk, want die jong skrywer van vandag is nou nie juis die grootste leser nie! En hulle is bloedjonk daarby, so dit is lekker om te sien waar presies jy ’n hand in die saak gehad het, en as dit meer as nog ’n mynhoop-vol-verdriet-gedig is, dan wéét jy jy het iewers iets reg gedoen.

Medewerker Adriaan Meyer: "Teater is waarlik 'n smeltpot van die kunste. Dié medium word nie net beskou as dramatiese, visuele, oudiovisuele, musikale, choreografiese en multimedia-kunsvorm nie ... maar ook as literatuur."

Die Britse mark ken die Writers’ and Artists’ Yearbook, jaar na jaar. Wat is anders aan die Afrikaanse mark, wat so maklik op een boekrak saamgebondel word in ’n hoekie in ’n Exclusive Books of Wordsworth? Wáárom hierdie boek?

Riana: Ja, daar is ’n hele aantal skryfgidse in ander tale beskikbaar, en almal, glo ek, sal vir jou verhelderend wees. Maar dit is nou maar eenmaal so dat die Afrikaanse literatuur en die Afrikaanse uitgewersbedryf enig in sy soort is. Ons uitgewers het elkeen ’n eiesoortige beleid, ons literatuursisteem is anders as die Engelse of die Nederlandse literatuur. Om net ’n paar voorbeelde te noem:  Afrikaans het eiesoortige streekstale en sosiolekte soos Kaapse Afrikaans, Griekwa-Afrikaans en Namakwalandse Afrikaans.  Ek glo dat net ons Afrikaanse uitgewers dit na behore kan hanteer.  In Afrikaans het ons ook reeds ’n verstommende tradisie in die kortverhaal-genre. Waar ander literatuursisteme meer aandag gee aan  (sê maar) romans, kry jy dat die kortverhaal in Afrikaans ’n besondere plek beklee. So ook kontreiverhale.  Nog iets wat uniek is aan Afrikaans, is die feit dat daar elke nou en dan ’n nuwe taalgemeenskap of kultuurgroep na vore tree wat voorheen ongeletterd, onbekend of doodgewoon verwaarloos was.  Soos wat (eens) ongeletterde groepe tot die literatuursisteem toetree, word daar elke keer ’n fontein van taal, kultuurgebruike, streekstaal en ander wonderlikhede oopgeboor. Dit maak ons literatuur uiters opwindend en dinamies.

Die grootste argument, myns insiens, vir ’n Afrikaanse skryfgids is dat die leser bekend en vertroud is met die medewerkers se werk as briljante voorbeelde. As jy Dana Snyman se aanbevelings by die skryf van reisverhale lees, dan wéét jy wat hy bedoel, omdat jy sy skryfwerk ken. As Murray la Vita oor onderhoude en diepte-artikels skryf, dan het jy sy eie onderhoude as ’n skitterende voorbeeld byderhand.  Ons medewerkers is elkeen ’n meester op sy vakgebied, só het ons hulle gekies; hulle is geloofwaardig en betroubaar. Die Afrikaanse leser vind groter aanklank by ons eie kerkmense as die geskrifte van ’n vreeslik geleerde ou in ’n anner land en in ’n  anner taal – as ek nou moedswillig kan wees ...

Leti: Die boeke wat jy op Amazon.com vir jou bestel, is alles goed en wel, maar as jy wil weet hoe ons dinge in Afrikaans doen, dan het jy iets anders nodig. Ons werk nie met agente nie; wetenskapfiksie verkoop eenvoudig nie goed nie ... Daar is hordes verskille tussen ons uitgeesisteem en dít wat in ander lande werk. Hierdie is ’n nodige boek. Baie nodig. Ek sien dit in die werksessies wat ek by skole aanbied, aan die manuskripte wat ek laatnag lees, aan die e-posse wat ek kry. Die redakteur/keurder/manuskripontwikkelaar kan net soveel kommentaar en raad en hulp gee. Later is jou gô heeltemal uit, want elke nee-dankie-brief word ’n verduideliking en ’n afspraak en ’n nuwe projek. Daar is ’n horde mense daar buite wat wil skryf – vra enige uitgewer wat jy ken. Die probleem is dat daar min potensiaal is. Baie min manuskripte word aanvaar vir publikasie. Baie min sit ooit op die rak in die handel (klein hoekie of te not).

En natuurlik maak dit ook my uitgewerswerk ’n bietjie makliker. Gisteraand bel my narkotiseurvriend. Sy kollega wil weet waarheen hy sy roman kan stuur ... Nou is dit maklik – ek sê eenvoudig net: Gaan kyk in hoofstuk 11 onder "Publikasie moontlikhede". :-) Nou is daar iets in die mark wat gebruik kan word om ’n klomp vrae te beantwoord oor hóémens skryf en alles wat daarmee saamgaan. JB Roux het in ’n onderhoud vir ons gevra of hierdie ’n lewenstaak was. Ek dink ons het instinktief geweet ons gaan hierdie boek een keer maak, behoorlik maak! En ons gaan ALLES insit sodat ons nie later weer so ’n groot onderneming hoef aan te pak nie. En dit is presies wat ons gedoen het, ons het álles waaraan ons kon dink ingesluit om dit so volledig moontlik te doen. En ja, dit het ook skryfskole en uitgewers en gemeenskapsdiens ingesluit, want dit gaan oor meer as net die skryf van die boek, dit gaan ook oor die maak daarvan – en soms is dit die moeilikste deel van die hele onderneming.

Medewerker Chanette Paul: "Karakters is die optieseveselkabel tussen die storie en die leser. Dit is deur hierdie kabel dat jy as skrywer met die leser kommunikeer."

Leti Kleyn

Leti, jou betrokkenheid by die poësie-afdeling in die boek is ooglopend. By watter ander afdelings van hierdie boek se samestelling was jy nog betrokke?

Ek het ’n vreemde liefde-haat-verhouding met die poësie. Soms hou ek daarvan, meermale maak dit my die hel in, en soms herinner dit my aan hoe skeef die literêre sisteem in Afrikaans eintlik getrek is. Ek is natuurlik vir die “small guy”, die aweregse, die randfigure, die versettydskrifte, die skrywer met die slegte attitude – alles wat nie in die hoofstroom beland nie. Ek sal nie weer in my lewe ’n gedig skryf nie – dit is iets wat ek ontgroei het. Ek het geleer om op ander maniere met woorde te werk, en dit pas my in hierdie tydvak van my lewe veel beter. Vir my was dit egter báie belangrik om in hierdie boek ook vir voornemende skrywers te wys dat daar hordes ander dinge is wat jy met ’n skryftalent kan aanpak. Self skryf ek deesdae veel meer senaatvoorstelle en kursusmateriaal as kreatiewe werk! Die punt is: Ek skryf steeds, net op ’n ander manier. Die groter konsep dus is die diversiteit wat ek wil tuisbring.

Ek en Riana het vir elke skrywer riglyne verskaf vir wat in die afdelings opgeneem moet word. En ja, hoewel ons hier en daar sterker gesteun het op dít waarvan ons meer weet, het ons ewe hard aan alle aspekte van die boek gewerk.

Ingrid Glorie en Elize Zorgman het uit Nederland gekom om die bekendstelling by te woon.

Jy het jare lange ondervinding by skryfskole in Pretoria. Het dit jou entoesiasties gemaak om hierdie vak aan te bied, of het jou moed soms gebreek as jy met ’n student se teks voor jou sit? En bied hierdie boek dalk antwoorde op sommige van jou studente se vrae?

Sjoe, ek moet erken die klasgee was besonder plesierig. Iets wat ek nou in my huidige posisie as kurrikuleerder vir akademiesegeletterdheidsmodules nogal mis ... want jou studente het altyd die vermoë om jou meer van jou eie vakgebied te leer as wat jy hulle kan leer. Ek het wonderlike studente gehad wat lekker hard gewerk het, en dit maak amper alles altyd makliker. Jou ingesteldheid teenoor studente is ook anders, en jy juig oor elke klein oorwinning. Jy leer hulle om te luister na wat jy sê, maar jy moedig hulle ook aan om die reëls te breek en te doen wat hulle dink die beste is vir hulle tekste. Ek het ’n hele sisteem uitgewerk: (i) Ek merk nie met ’n rooi pen nie, liewer groen of pers. (ii) Ek krap nie ín ’n student se werk nie, liewer op die agterkant. (iii) Ek gee ’n halfpunt vir elke ding wat in die teks werk, of wat goed geformuleer is, of wat ongelooflik klink. Ek beloon; ek boor nie ’n student in die grond in nie. En jy leer hulle van dag een af hóé om kritiek te hanteer, anders kan jy nie met hulle werk nie. Dit is jou eie goue reëls vir die jongklomp wat voor jou sit, want iewers moet jy probeer om nie te veel harte te breek en drome te verwoes nie, maar jy moet ook realisties bly. In die uitgewerswêreld werk dit natuurlik anders. Daar pluk jy maklik jou hare uit jou kop uit, voel jy jy kan jouself aan drank oorgee en vlug jy soms na ’n plek waar die rekenaar nog nie ontdek is nie, en die selfoontoring nog nie staan nie. Jy werk gereeld met manuskripte wat gewoon net nie die paal gaan haal nie ... dit weet jy op bladsy drie reeds, maar jy lees daai boek tot by die laaste letter en jy sit en skryf jou indrukke op. Jy weet ook dat die resensent van dít waaraan jy nou werk, tienduisend keer erger op jou skrywer gaan afkom, so jy werk met ’n kwaai kritikus in jou agterkop énjy het die duiwel op jou skouer.

Maar daar ís ’n verskil. Ek verwag nie van die skoolkinders of studente voor my om ’n Marita van der Vyver te wees nie ... maar van die wanna-be Marita van der Vyver verwag ek beslis om meer belese te wees, minder soetsappig te skryf en minder spelfoute te maak!

Sommige bydraers as keuses is eenvoudig voor die hand liggend. Maar hoe het jy keuses uitgeoefen: met die klem op populêre skrywers, of met die klem op goeie skrywers? En sluit die een noodwendig die ander uit?

Sjoe, ons het gesit en lysies maak. Seker gemaak dat as ’n medewerker nie kans sien nie, ons ’n plan B het. Op die einde van die dag het amper niemand nee gesê nie! Dit het vir ons gegaan oor diegene wat góéd kan skryf oor hóé om dit te doen. Nie te akademies nie, nie te eenvoudig nie. Maar wat ook kennis het van die bedryf waarin hulle is. Jaco Jacobs en Fanie Viljoen was eenvoudig net móét-hê-medewerkers ... ook omdat hulle die uitgewersbedryf en die navorsing op die onderskeie gebiede goed ken. Ons het natuurlik ook gesteun op kennis oor hoe hierdie mense oor hulle eie werk praat. Ons het die voorreg gehad om Wim Alberts te gebruik, wat  kopiereg-ekspert en boonop ook nog skrywer is. So ook met belastingsake – C Johan Bakkes het ’n kop vir skryf en syfers! Ons het graag gebruik gemaak van mense wat skryfskole aanbied en wéét hoe sake in die praktyk werk. Willie Burger het ons gekies omdat hy die enigste mens is wat ek ken wat oor die verskil tussen populêre en literêre kan skryf sonder om enigiemand die duiwel in te maak. So het ons lysies en lysies en lysies gemaak.

Ek dink dit is juis die grootste aanwins van hierdie boek – ’n alles-in-een-gids, en waar beter as om by ’n klomp meesters te leer? My broer het op skool altyd sulke briewe in my ma se handskrif geskryf oor waarom hy nie kadette kon doen nie. Toe my ma een aand voor die wasmasjien met ’n vervalste brief uit sy skoolhemp se sak vir hom vra: Van wanneer af het jy ’n septiese ingroeitoonnael? het hy verduidelik: Die dom ou leer uit sy eie foute; die slim ou leer uit ander se foute ... Dalk het dit hier nou neerslag gevind. :-)

Jan-Jan Joubert saam met medewerker Irma Joubert: "Die romanskrywer skep karakters waarmee die leser kan identifiseer en plaas hulle dan in situasies wat baie waarskynlik kan plaasvind, sodat die leser nie net die karakter se reaksie op en belewing van die situasie kan meebelééf nie, maar moontlik ook minder bekende denke binne 'n spesifieke situasie, gemeenskap of tyd beter kan verstaan."

Riana Scheepers

Riana, jy vertel die leser van Die Afrikaanse Skryfgids van jou liefde vir bome plant en dat jy ’n boervrou is, dat elke lewenservaring ’n storie bevat (eie parafrase). Jy skryf so baie dinge, maar ek hou aan terugkeer na jou kortverhale. Is dit jou eerste liefde? En wat van met betrekking tot jou samestelling van hierdie boek: duidelik was jy betrokke by die skryf van die prosa, die redes waarom mense skryf en die skryf van die kortverhaal. Waar en wat nog?

O, ja, die kortverhaal is sonder enige twyfel nie net my eerste nie, maar ook my grootste liefde. Ek droom soms volledige kortverhale.  Die kortverhaal met sy vinnige tempo en sy variasie-moontlikhede pas my vinnige geaardheid uitstekend.  Dit was vir my wonderlik om saam met Hennie Aucamp aan die hoofstuk oor die kortverhaal te werk – hy is doodgewoon net met een woord meesterlik.  Ek het die algemene inleiding geskryf oor die kreatiewe proses, die groot aantal mites waaraan ’n beginnerskrywer so desperaat vasklou,  asook die hantering van kritiek (wat elke skrywer gaan kry). Oor hierdie hoofstuk kan ek dieselfde sê as wat hulle van spreekwoorde sê:   Dit is kort sinnetjies gehaal uit lang jare se ondervinding.  

Ek het ook die hoofstuk oor die kortverhaal se niggies, al die verwante vorme van die kortverhaal, geskryf. En die hoofstuk oor die ewige soeke na ’n mentor.  Ek dink die grootse behoefte wat ’n jong skrywer het, is aan ’n mentor. Maar dit is skaarser as ’n hoendertand.  Gevestigde skrywers sien selde of ooit kans daarvoor om ’n jong kunstenaar se mentor te wees – dit is dikwels die pad na groot frustrasie en ongelukkigheid. Maar wat is dan die alternatief? Ek bespreek dit in dié hoofstuk. Die allerbeste alternatief vir ’n mentor is eintlik bitterlik eenvoudig ... Lees maar.

Medewerker Louis Esterhuizen: "Hoe is dit moontlik dat die digkuns steeds kan floreer ten spyte van al die negatiewe faktore wat direk daarop en op die taalgroep waarbinne dit opereer, inwerk? Waarskynlik omrede die digter se vroegste voorloper, die sjamaan, as tussenganger tussen die primitiewe mens en die gode gedien het; eweneens omrede nog ’n voorloper van die gedigte, die troebadoer, die mense in die tyd voor die drukpers vermaak en ingelig gehou het met sy ballades en die harte van geliefdes vermurwe het met sy minneliedere ..."

Kon enigeen jou leer om ’n kortverhaal te skryf? En wie was groot inspirasie of hulp op die pad van jou skryfloopbaan?

Ek het begin skryf toe daar nie die luukses van  skryfskole of  kreatieweskryfkursusse was nie; ek was alleen en het maar my eie literêre voete  moes vind.  Ek het boonop op ’n klein, afgeleë kusdorpie gebly, baie ver weg van alles en almal. Ek het intuïtief geskryf, asof my lewe daarvan afhang. En miskien hét my lewe daarvan afgehang, want deur my verhale het ek my bestaan gedefinieer.  Ek het waansinnig en driftig geskryf, aangevuur deur die adrenalien van woord en verhaal, totaal onkundig en onbewus van al die literêre slaggate waarin ek my kon begewe. As jy ’n beginnerskrywer is, dink jy nie aan jou (toekomstige) plek in die letterkunde, en aan kritici en literêre pryse nie, jy dink nie aan geld en roem of literêre poliemieke nie; jy is oorbluf en begeesterd deur dít waarmee jy besig is. Dit is altans hoe dit met my was. Vandag verlang ek nogal na daardie algehele oorgawe aan die skryfproses in my beginjare as skrywer, die naïwiteit en onkunde waarmee ek geskryf het.  Ek is bly ek het nie ’n mentor gehad nie – dalk sou dit my inhibeer het.  My grootste inspirasie was elke keer die tema van my boek; ek kon nie genoeg kry van dít waarmee ek besig was nie.

Wat was die lekkerste deel van die samestelling van hierdie boek vir jou – en wat was die moeilikste?

Die lekkerste deel van die samestelling was om die bydraes van die medewerkers in te kry. Ek het elke keer so ’n krieweling gekry as ek sien daar is ’n hoofstuk gestuur.  Dit was ook die moeilikste deel, want beide ek en Leti moes met die oog van die duiwel se advokaat na die bydraes kyk. Ons het kommentaar gelewer, voorstelle gemaak, teruggestuur, saam met die outeurs gewerk totdat dit reg was.  Ons medewerkers was verstommend.  Hulle het ongeveer  vyf maande gehad om die opdrag te voltooi, maar die eerste bydraes het gekom ’n week nadat die skrywer ingestem het om dit te doen. Ons medewerkers het nie net gewys hoe deeglik hul kennis van die onderwerp is en hoe grondig hul begrip en toepassing daarvan is nie; die spitsvondigheid, humor en kreatiwiteit waarmee hulle geskryf het, het my baie ure se plesier verskaf. Harry Kalmer het byvoorbeeld sy hele hoofstuk oor kopieskryf met die kort sinne van advertensiekoppe geskryf.  Verstommend. Mens kan nie anders nie as om besield te wees as jy al hierdie bydraes lees nie. Ek is van voor af lus om te skryf: radiodramas en strokiesprente!

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Luzia van Niekerk
2014-01-05 @07:54
Ek het nou my 1ste boek geskryf.  Waarheen kan ek dit stuur dat ander mense dit kan lees.  Ek het oor depressie geskryf.

Baie dankie

Luzia
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address