Deurbraak: ’n lesersresensie

  • 0

Met die 12 jong spelers wat Christine Falck byeengebring het vir haar Deurbraak 2012-produksie, slaan sy ‘n kishou. Daar is geen tekort aan talent en bedrewenheid nie, wat my oortuig dat dié jong kunstenaars reeds ‘n standaard van professionaliteit bereik en dat hul “deurbreek”-moment al klaar agter hulle lê.

Riaan Visman (regisseur) verweef elke kunstenaar se individuele bydrae tot ‘n geheel wat logies en meesleurend sin maak. Sy regie ontgin elke speler se sterk punte met empatie en verkry ‘n deurlopende subteks wat besonder interessant uitspeel, met onverwagte kinkels wat baie vermaaklik is. Daar is teksture, stories en dimensies wat deurlopend ‘n nimmereindige mosaïek vorm en jou aandag behou.

Om die show met ‘n fopdosser te begin, is uitdagend en heerlik riskant – sommige lede van die gehoor wat meer konserwatief is, sal dalk skrik, maar mens besef baie gou dat Roxy le Roux se verhaal menslik en weerbaar is. Sy laat jou vinnig besef dat, “drag” of nie, dieselfde ervarings en pyn in almal herkenbaar is, en haar storie word duidelik dié van Jan Alleman/-vrou.

En so begin die tou tussen al die bydraes, tot aan die einde, sy pad (letterlik) deur almal se stories weef. Marlie Kock is ‘n powerhouse performer wat met haar skets oor karwagte die meeste mense se gevoelens verwoord en terselfdertyd die spieël vir ons ophou sodat ons onderlangs ongemaklik raak met ons eie vooroordele. Haar parodie-liedjie, soos al die ander in die produksie, is skerp en slim. Pierre van Heerden as haar effe kamp haarkapper is, sonder om ‘n geluid te maak, verskriklik snaaks. Stephanie Badenhorst volg Marlie met ‘n heerlike skets oor die dilemma van die “vet aktrise”; sy sing met ‘n gemak en lekkerkry wat oorspoel na die gehoor.

Lize-Mari Smalberger se pragtige spel móét meer gesien word. Hierdie aktrise, wat ook baie goed kan sing, se bydrae tot Deurbraak is ‘n hoogtepunt. Haar skets oor die verlate skelmpie van die bruidegom – by die bruidegom se troue – is skreeusnaaks terwyl sy met perfekte beheer al hoe meer besope raak en die gehoor aan die einde van haar parodie op “I will always love you” vol simpatie in die palm van haar hand het. Brian Robson as die verleë kelner skitter.

Pierre van Heerden se solo is baie, baie genotvol. Hy verskyn op die verhoog om die gebroke Roxy le Roux op te help en te troos. Die man sing soos ‘n engel, sleep jou saam op sy reis en sit jou dan, steeds met teerheid, weer terug op jou stoel. Ek kry nie genoeg van sy “Ik heb je lief” van Stef Bos nie. O, my hart …

Simone Biscombe gee mens ‘n kykie in die gedagtes van ‘n gemolesteerde meisie, en aan die einde, met haar pragtige weergawe van “Wonderful world” bewonder mens haar moed om emosioneel te oorleef. Hierna is Brian Robson aan die beurt met sy skets oor kuberromanse, wat hy met sy fenomenale talent sekuur aan die gehoor oordra. Sy terugkeer na die verhoog ná die romantiese afspraak tref met één kyk na die gehoor, wanneer mens onmiddellik besef dat sy date toe wel ‘n “trol” was, en hy met sy verslae parodie dinge mooi bymekaartrek. Marlie se Afrikaanse weergawe van “God help the outcasts” uit Disney se Hunchback of Notre Dame som al die afgelope situasies perfek op. Sy sing dit so mooi dat hoendervleis oral uitslaan.

Johan Falck verbeeld deurgaans die donker psige, en sy vertolking van die gedig “Talle tonge”, met Roxy aan die tou soos ‘n leiband agterna, is ‘n uitslaanhou. Marika Reincke antwoord hierop met “Ek sal staan”, met al die gatskop wat mens verwag, tot groot lekkerkry van die gehoor. Ek het gehou van die curtain call: dis anders en interessant, lekker vinnig sonder enige uitgerekte buigings, en vermaaklik.

Lucas Heinen se musiekregie en begeleiding saam met Josh Prinsloo is net op die regte plek. Hulle begelei met simpatie en empatie, koester hul sangers en skep ‘n lieflike atmosfeer wat die hele produksie ‘n baie bevredigende ervaring maak.

Ek hoop van harte dat gehore in hul massas opdaag om hierdie heerlike produksie te sien. Dis voorwaar die moeite werd, en gee mens hoop vir die toekoms van teater as mens kyk na die jong talent op ons voorstoep.

Maak jou voordeur oop en gaan kyk.

Deurbraak speel verder by Aan de Braak Teater, Alexanderstraat, Stellenbosch, op 1, 2, 3 en 4 Augustus. Bespreek by 082 335 3105. Kaartjies kos R60 vir volwassenes en R30 vir studente.

Rika Vermeulen

Lees ’n onderhoud oor Deurbraak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top