Die week in woorde
Dis 8 Januarie 2012. Episode 10 668* van Die nimmereindigende opvoeding van Bibi Slippers. In episode 10 660, net agt dae gelede, het ek wéér geleer hoe woes (en suidwes) die wind in die Kaap kan waai. En in episode 10 661 het ek vir die eerste maal kennisgemaak met die konsep Tweede Nuwejaar – ’n ou tradisie in Kaapstad.

Op Tweede Nuwejaar (2 Januarie elke jaar) paradeer duisende Kaapse Klopse deur die stad, maak musiek, voer danspassies uit en versprei ’n algehele vrolikheid wat jy moeilik elders sal teëkom. Ek was al die 2de terug by die werk, en het heel per ongeluk in die feestelikheid vasgeloop, maar ek was so bly ek het! Dit was ’n wonderlike manier om die nuwe jaar oor te begin na die aaklige wind op Oujaarsaand en Nuwejaarsdag. Maar nog was dit het einde niet: vanoggend, so het ek besluit, is Derde Nuwejaar.
Derde Nuwejaar is van nou af die dag waarop jy begin om jou literêre nuwejaarsvoornemens na te kom. Nee, jy sou nog nooit daarvan gehoor het nie, want dis eers vandag om dagbreek uitgedink, toe ek dit uiteindelik, vir die eerste maal die jaar, regkry om my intensie uit te voer om vyfuur op te staan om te begin skryf. Dis nie noodwendig prakties om op 1 Januarie los te trek met jou magnum opus nie – teen 5 Januarie mag jy dalk net agterkom dis die babelas geskribbel van ’n mallerige mens waarop jy jou tyd verwyl het. Die Chileense skrywer Isabel Allende het ’n meer wyse gewoonte: sy begin, sedert 1981, elke boek op 8 Januarie.
Maar selfs 15 Januarie of 1 Februarie is nog betyds om aan die gang te kom met wat dit ook al is wat jy beplan om jou produktiwiteit as skrywer (of leser!) te verhoog in 2013. Vir inspirasie kan jy gerus hierdie artikel oor die daaglikse roetines van skrywers gaan lees, of hierdie lysie van 15 skrywers se literêre nuwejaarsvoornemens bestudeer.
En as jy soos ek is, en eers aan die draf kan kom as jy ’n paar nuwe tekkies gaan koop het (belaglik, ek weet, maar uiters effektief), kan jy dalk een van hierdie boeke oorweeg om jou om vyfuur uit die bed te kry:

Lees die koerantresensie hier.
Naomi Meyer se resensie op LitNet is hier te lese.

Lees die koerantresensie hier.
Izak de Vries se resensie op LitNet is hier te lese.
Nou gaan ek (in my nuwe tekkies) om die blok draf.
Môreoggend, episode 10 669 – hopelik een met ’n gedig of ’n storie.
Mooi skryf.
Bibi
[* Werklik, ek het dit gaan uitwerk. Kyk gerus self hier.]
Nuwe gedigte op LitNet hierdie week

