Ek het onlangs verneem dat dr Otto Terblanche die opdrag aanvaar het om die UPE en NMMU se geskiedenis op te teken. Ek glo hy's as gesoute historikus goed toegerus om die ou afgesaagde meningsverskil oor wie die stigter van die universiteit was, buite rekening te laat en hom op die realiteite van die universiteit se prestasies én falinge toe te spits.
En belangrik vir sy storie is ook die insidente van humor wat 'n intrinsieke daaglikse kenmerk van die universiteit se geskiedenis was:
So byvoorbeeld het professor Ernst Marais se nogal obsessionele voorneme as fisikus om dosente se produktiwiteit in terme van 'n wiskundige model te meet, 'n spoedige dood gesterf nadat hy prof Eddie Davies in 'n informele onderhoud gevra het hoe lank dit hom neem om 'n lesing voor te berei. Die blitsige antwoord van die gevatte prof van Engels was vernietigend: "A lifetime Mr Principal!"
Dit was op die Birdstraat-kampus dat 'n ouer ons legendariese faktotum gekonfronteer het met die vraag waarom 'n prof van sy seun nie die middag in sy kantoor was om 'n afspraak na te kom nie: "Werk die mense hier dan nie smiddae nie, Meneer?" was sy ongeduldige en nogal smalende vraag. Oom Sampie se antwoord het klassiek in ook koerantkringe geword toe hy antwoord: "Dis in die oggende dat hul nie werk nie, Oubaas! Smiddae is hulle glad nie hier nie."
'n Eerstejaartjie wat tydens 'n toets bly peins het sonder om 'n woord te skryf, se antwoord op my vraag as toesighouer waarom hy nie skryf nie, is in die idioom van 'n hoendervleis advertensie beantwoord: " Prof, ek skryf so min want ek weet so min!"
In 'n lesing oor Leipoldt se "Oktobermaand" is die klas aangemoedig om die ekstase in die gedig ook buite die klas in hulle daaglikse omgang uit te leef deur 'n lewensblyheid "om te sing en te fluit".
'n Karnallie wat ek al in die onder 20-rugbyspan as onmoontlik ondeund uitgeken het, het sy hand opgesteek en gevra of hy asseblief die kamer mag verlaat: "Om te gaan fluit - en nie omdat ek wil nie prof maar omdat ek móét!"
'n Derdejaar dame wat betrap is met 'n metaalpennehouer waarop sy die kern van die tema van 'n toetsantwoord opgeteken het, se verskoning was dat sy nie die vorige aand kon leer nie omdat sy haar ouma moes oppas.
"Juffrou", het ek streng uitgeroep: "Dink jy ek is onnosel?" Haar antwoord het my soos met 'n veertjie platgeslaan: "Haai nee professor, ek dink u is wonderlik!"
Ten slotte vergun ek my die insident toe ek as voorsitter van die Personeelvereniging na een van ons jaarlikse dinees in die Humerailsaal met 'n kollega se vrou in die post-partytjie aan die wals was en ons liewe rektorsvrou in die verbygaan glimlaggend opmerk: "Professor, as mens jou so vroom in die ouderlingsbank sien sit, sou mens nooit kan dink dat jy hier met 'n ander prof se vrou kan dans dat die stof so staan nie.” Omdat sy so 'n "sport" en geliefd was, het ek in die swaai van die "hartseerwals" dit gewaag om te antwoord:"Mevrou, ek het weer gehoor: 'n dame met 'n negatiewe persoonlikheid kan altyd in 'n donker kamer ontwikkel word!"
Humphries Du Randt


Kommentaar
Ek geniet dit om hierdie humoristiese vertellings te lees!