My eerste herinnering aan Crimplene was, soos meeste van ons heel waarskynlik, 'n ouma of tante. Myne was my eie ouma. Sy het mos maar, soos meeste oumas, haar eie ruik gehad en sy het ook die blommetjies patroon crimplene rokke gedra. Hoogmode doerie tyd soos ek verstaan. Nie dat ek destyds issues daarmee gehad het nie, want mens oordeel nie jou ouma nie want sy is jou ouma en klaar. Sy druk en soen jou soos 'n ouma behoort te doen. Sulke nat suigsoene en dan vra sy hoe dit gaan op skool en voor jy antwoord vra sy hoe die rit was en hoe dit met sus en so gaan. Jy trek aan die Crimplene-rok met die blommotief en sy luister na jou uitslae en sy beduie dit is mooi so en jy gaan 'n roomys kry later as daar tyd is. 'n Draairoomys by die kafee oorkant die Chinees se winkel waar niemand dit durf waag koop nie en almal tog gekoop het want die bediende is gestuur met 'n briefie wat die Chinees meeste van die tyd nie kon ontsyfer nie. Taal, sien. Maar Fiela het tog geweet wat kort innie kombuis al kon sy self nie lees nie. En so is anonimiteit altoos gewaarborg in die eeu voor Chinese winkels die norm was op meeste dorpies met net een geteerde straat en 'n suil of monument in die middel van die dorp. Dalkies 'n fontein of twee ook wat, ek moet bieg, altyd water gespuit het met verveelde goudvisse wat heen en weer swem.
Soos ek sê: my ouma het Crimplene gedra en dit was eintlik baie cool en ek vermoed koel ook. Veral in die dorre Karoo se snikhitte waar kraaie self lankal ophou gaap het en net die sonbesies hulself verwerdig het om te bitch oor die hitte. Ek weet nie of dit net ekke is nie, maar ek het Crimplene altyd geassosieer met dik sykouse. Donker bruin (die regte naam ontgaan my nou en ekke is te lui om winkel toe te stap om die naam te sien) of vleeskleur. En jy het hulle hoor aankom altyd voor jy hulle gehoor praat het. Want hulle het altyd met 'n "swoosh-swoosh" geluid geloop duidelik hoorbaar bo die klanke van dik hakke op die plankvloer. Is dit my verbeelding of het Crimplene bygedra tot die unieke reuk wat 'n ouma om haar gedra het? Ek weetie. Maar ouma en haar Crimplene rokke is nie die rede waarom ek dit haat nie.
Dit is dalk die dames wat dit deesdae dra wat my effens afsit van die materiaal. Want hulle loop steeds so "swoosh-swoosh" en hulle het nog steeds sulke skoene aan wat, ek vermoed, in die vroeë sewentigs hoogmode was. Maar, ek vermoed, hulle ruik nie soos ouma destyds geruik het nie en ekke gaan beslis nie probeer naby ruik nie. Ek sien hulle steeds groot onderlyf, ingetrek om die middel, straataf stap. Die rok het steeds, van die middel af, sulke twee en 'n half sentimeter netjiese plooie. As hulle opstaan na 'n lang sit kan jy steeds sien, soos my moeder altoos beduie, dat kolmuis besig is om wasgoed te eet. Hulle moet die blomgetooide rok steeds, soos ekke onthou, met 'n gemaak onsigbare sweep van die hand uit die, mmmmm, jy weet, uithaal. Sykouse het heel waarskynlik gehelp met die uithaal proses want as daar reeds materiaal in die gedoente is, is ...
Ongeag. Ek verkies om aan ouma te dink as ek vrouens sien met Crimplene-rokke. Mode is 'n vreemde gedrog op sy beste en word met eentonige reëlmaat herhaal by gebrek aan enigiets beter. Ek verkies egter 'n "stretch" denim agterop 'n 1000cc. En is oneindig dankbaar dat die dae van bloomers uitgesterf het saam met, hopelik binnekort, geplooide Crimplene-rokke. Want niks kom naastenby naby die skalkse wys van 'n stukkie deurtrekkertjie nie.
oester

