Daar êrens in die wintermaande van 2011, het ek eendag weer diep aan die dink geraak. Dit was nadat ek ’n klompie mense buite ’n winkelperseel agter Parow se Poskantoor vir ’n beker sop en ’n homp brood sien toustaan het. Elke dag het ek verby hierdie plek, bekend as die Wingerd, gestap en hoeveel keer gewonder waar hul hulp vandaan kom; en myself sommer geantwoord: “hul hulp kom van die skenkers van sop en brood, die mense wat genoeg tydmaak om om te gee.”
En net daar skryf ek toe sommer ’n rympie ...
Die Sopkombuis
Daar onder ver van ons huise
staan vreemdelinge by sopkombuise
op ‘n afstand sal ons hulle soms raaksien
met ‘n sug van empatie, of dalk nie.
Kyk maar net; hulle is daar buite.
Agter Parow se poskantoor sit ‘n pastoor
sy plek, sy omgewing, sy kroos; lyk bra goor.
Sy sopkombuis gee kos net een keer ‘n week
Op ‘n Donderdag is daar sop, om brood in te week.
Digby my motor hier teen ‘n muur
Sit vier armblankes na hul voete en tuur
vuil, verslete, gemeenskap se uitgeworpenes
wag hul op die sopkombuis se Donderdag lafenis.
Gaan staan eenkeer by die sopkombuis stil
wees sonder aansien en wees ver uit sig
drink in die waarheid, sien dit waarna jy kyk
dis hier waar selfrespek, finaal beswyk.
Baie verdien dit want dit is hul keuse”
so regverdig ons immers self ons leuse.
Genade van God is wat ons moet vra;
donker is die dag wanneer jy daar staan
en vreemdes, jou sop en brood moet aandra.
Vanoggend gaan ek oudergewoonte Parow Poskantoor toe om die pos te gaan haal. Parkeer die sedan en stap weer voor die Wingerd se vensters verby; so in die stap lees ek soms hul nuwe nuusgoetertjies. Vandag egter, is die vensters leeg. Ek sien tot binne-in die leë winkelperseel.
Die wingerd het verdroog en die stokke is opgetrek. Die laaste oorlewende sopkombuis in Parow het sy stoof uitgedoof, sy tafels ontruim en die geveg gewonne gegee.
Blykbaar het die oorblywende 3 plaaslike gemeentes wat nog hier-en-daar ’n brood en pot sop of –bestanddele geskenk het, se krane van beskikking ook drooggeloop en daarmee, die gees van die handjievol vrywilligers wat die kos- en lewegeeplek bedien het, insolvent gelaat. Die vervaalde vensterteken op die glasdeur, is die enigste bewys dat daar eens ’n plek was wat vir die haweloses in Parow omgegee het; al was dit dan ook net elke Donderdag.
Onder teen Voortrekkerweg sit-lê Somaliërs en Nigeriërs by hul stalletjies vol egte sjinese gucci handsakke en ray ban sonbrille. Hulle en die vragte vol goedkoop horlosies, parfuum, beursies en rugsakke (en wie-weet wat nog), suig die laaste besteebare rande uit hierdie wankelrige Parow-bewoners. Daar is nie meer geld vir die kerk en sy vermaak nie; daar’s ook nie meer geld vir skenkings ten behoewe van iemand behalwe hulself nie.
As die wingerd vrek, dan vrek hy.
Terwyl ek terugstap na my bevoorregte ingevoerde sedan – nie sjinees nie – kruip ’n beeld stadig hier kort by die hoek van my oog in.
Teen die glasruite van die poskantoor sit een van die “ou tannies” wat ek al by die streep hongeres op ’n Donderdag hier agter die gebou opgemerk het. Sommige mense vergeet name, maar nimmer gesigte. Ek is een van hulle.
Hierdie “ou tannie”; ek noem haar so want sonder om die gewaarmerkte afskrif van haar geboortedatum te sien, sou geen mens haar ouderdom presies kon skat nie. Na my slegste wete, mag sy dalk jonger as ek wees!
Maar ongeag van die datum of ouderdomsverklaring, regverdig die diep lewenssnye oor haar gesig my aanspreekvorm. Hierdie vrou is bitter baie jare ouer as wat haar “papiere” mag sê.
Ieder geval, daar waar sy teen die glas op die uriene-deurdrenkte plaveisel sit, gaan niemand haar ’n visbroodjie of vrug in die somer, of sop en botterbroodjies later in vanjaar se winter gee nie. Daai een dag ’n week se gratis ete gaan nie met ’n ander vervang word nie. Indien sy daar waar sy nou sit sou sterwe, sal min, of indien enige, naastes na haar verlang. Sy sal net nog ’n straatloper wees wat te oud en afgeleef vir prostitusie geraak het en toe opgepak en vertrek het!
Dieselfde geld vir hierdie sopkombuis. Die huislose drosters van die dorp is niemand se verantwoordelikheid nie. Indien, waar en wanneer hulle kos of enigiets anders kry, is hulle saak. “Dit is mos hul keuse”, hoor ek weer iemand mompel.
Net so terloops, my oorlede Ouma het die gebruik van die woord “mos” met ’n passie gehaat – wanneer ’n kleinkind haar beterweterig sou terug-antwoord met “mos”, dan wou die plooiemeisie handgemeen raak.
Maar, soos mos teen die kante van ’n sementdam vrek wanneer die dam in die druk van ’n droogte al hoe leer raak, netso sterf ons gemeenskap se menswees, omgee en sielsopdrag wanneer nie eens die sogenaamde laagste en minste onder ons mense, met ’n enkele ete in ’n week versorg kan word nie.
Moontlik lê die uitdaging daarin dat ons ‘n paar rand minder op ingevoerde fieterjasies en onnodighede kan spandeer en dit eerder vir iemand êrens moet gee wat die ou tannie en haar maters teen Parow Poskantoor se ruit, weer op ’n Donderdag ietsie te ete sal gee.
Dalk, net dalk, word daar op hierdie wyse ’n nuwe wingerd geplant en volvoer ons dan die ware Wingerdstok se liefde en opdrag.
Hennie Fritz


Kommentaar
Ek stem. Ons mag nie gesig wegdraai nie.