Skoene

  • 0

Een van die stories wat die meeste herhaal word in hierdie geweste is die storie van Ra Mavenster en sy ou paar skoene.

Die storie gaan so en dit is die absolute reine waarheid: Ra Mavenster het altoos maar die afvlerkmensies ingeneem. Met 'n lang verskoning en 'n ompad die wat kom bedel het in sy diens geneem kamma. Tot die punt waar hier later meer tuinwerkers as tuine was. Want mens moet mos werk vir jou loon of altans, so was dit nog gewees voor almal alles verniet gekry het en niemand meer betaal daarvoor nie.

So kom Goy hier in en sy werk innie tuin. Die tuin wat eintlik reeds 'n lushof is maar dis Ra Mavenster en as hy sê iemand se dienste is nodig dan werk jy bloot harder en hy duik langer want hier’s honger monde en iemand moet sorg. Want dit is hoe dit is en altyd sal wees as jy 'n hart het.

Die stories loop dik oor die betrokke dag en ek was nie hier nie maar my geliefde moeder lieg nie en haar weergawe is die waarheid. Want my moeder lieg nie. Ra Mavenster het die dag van Ons geliefde Blou dam af gekom. Enigeen wat al ooit 'n paar ure met die Blou Dam moes spook sal weet dat jy nie net uitstap en instap nie. Jy is gedaan gespook. Want Sy eis alles van jou en die bietjie wat jy kry werk jy voor.

Ra Mavenster het vir Goy beduie om bossies uit te trek. Want Goy het kom vra vir brood en melk en polony en hy het beduie sy kan solank bedrywig raak tot hy terugkom. Dis niemand se skuld dat Goy moes bossies uittrek nie, dis die noodlot. En Goy het nie gevra oor rykdom of armoede of wat ook al nie. Sy het ingestem dat daar wel bossies was om uit te trek. Bossies wat daar nie was nie want Ra Mavenster se beddings wassie vol bossies nie.

Die enigste siel wat weet wat werklik gebeur het daardie dag sal nooit uitpraat nie en die anner ene lê diep onder die grond. Tog, ons het die relaas: Ra Mavenster se ou skoene het op die stoepmuur gelê. In die son. Soos dit die gewoonte was. Ou verslete uitgetrapte ou Grasshoppers. Want as jy eers hier teen jou laat tienerjare vir die eerste keer skoene kon kry het jy hulle waardeer en waardeer jy gewone goed soos skoene vir altyd. Al is dit Grasshoppers.

As jy van die Blou Dam af kom is jy moeg, en jy het nie lus vir geraas of moeilikgeite van mense nie. Jy soek 'n liter melk en 'n lang roomys en 'n liter Coke. Soos Ra Mavenster se gewoonte was.

Ons weet tot vandag toe nie wat gebeur het presies nie, maar die arme Goy het die paar skoene op die stoepmuur gesien en gedink dit is goeie skoene om aan te trek vir tuinwerk. Ra Mavenster het haar innie tuin aangetref met sy geliefde paar Grasshoppers aan. Skoene wat hy vir baie jare en baie lang ure moes uittrap tot hulle sy voetsole kon pas.

Die storie loop steeds hoe hy haar beduie het dat net iemand wat kan werk waar daardie paar skoene kon werk hulle mog dra. Hy het haar sag dog baie, baie ferm tereg gewys dat mens nie sommer net iemand se skoene moet aantrek nie, want die eelte innie voete is mossie jou eelte nie? Jy kan mossie my skoene aantrek as jy noggie geloop het waar hulle baas geloop het nie?

Ek onthou sy het baie kere weer kom vra en Ra Mavenster het gegee so mildelik soos sy gewoonte was sonder dat my geliefde moeder geweet het daarvan, maar sy het nooit weer die kans gekry om bossies uit te trek nie. Want 'n man se skoene is sy skoene.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top