Ek kan my horlosie, wat ek nie besit nie want ek het tyd my huis belet, stel volgens ou Oompie en sy kom en gaan. Ek weet nie hoe oud hy is nie maar hy is al naby aan sy tagtigs. Moes eintlik, volgens die Boeke en geskrifte lankal nie meer gelewe het nie. Nooit vrou gevat nie (dalk is dit die fontein?) maar is so deurmekaar soos, wel, jy weet daai goed in 'n tuimeldroër, reg (en dalk is die vrouloosheid die oorsaak daarvan?).
Jongdae was hy een van die bestes van die bestes. Radiobeheer-manne wat Johannesburg en Hillbrow help mak maak het, tot die owerhede moed opgegee het en hy maar pos aanvaar het waar hy ons raffinaderye help oppas het teen onsigbare vyande wat ons met atoom en missiele sou aanval. Ek vra hom annerdag of hy nog onthou (want hy onthou min deesdae) en hy noem die plekke en strate en name op asof dit gister was.
Spierwit grys hare. Klassieke bakkebaard, altyd grof geskeer. Niksseggend oor die moderne wêreld maar is verlore sonder die ou Nokia-baksteenselfoon wat aan 'n toutjie om sy nek hang. Kom vra my altyd om die R55-selfoontyd in te sit en ons herhaal ons ou rympie dan: "Ek weet nie hoe nie, ou Oompie. Ek het kontrak," en hy loopstrompel uit op soek na iemand om tog die airtime vir hom in te sit, want hy wil mense bel wie hy tien teen een 'n uur terug gebel het om te vra hoe dit gaan. Want dinge lol maar vir ander as jou gedagtes gaan. Ou Oompie sukkel met die onthou ...
Bêre nog sy kleingeld in sy gleufie-sakkie wat destyds bedoel was vir die munte. Die note vou hy sorgvuldig van voor af op en sit dit in sy plestiek-banksakkie. Want "mens moet veilig wees met jou geldjies ..." Skaars 'n uur later is hy terug en vra my oor die airtime. Ek beduie ja, ek het 'n idee sy foon is vol en hy staan hand op die gryse bakkebaard en praat met homself: "Wat het ek nou weer hier kom maak? Donner ek het nounet geweet wat ek moet hê en nou moet ek weer terug ..."
Stap later om en loop kyk of die ou man darem nog doenig is en ek sien hom langs die stoof en hy beduie my na die bottel hardehout en ek se nee ek is besig met my eie lang ene net langensaan. Hy vee weer die plek skoon en hy kla oor die boarder wat so morsig is en nie skoonmaak nie en hy stap uit om die besem te loop haal want hy het weer 'n ietsie gesien wat nie op die vloer hoort nie. En toe vee hy maar sommer die hele kombuis uit want mens moet skoon wees. Enige tyd kan gaste opdaag en hier staan ek nou en hy beduie my na die bottel hardewater en hy haal 'n glas af en reik na die vrieskas. Praat in verskillende stemme met homself soos hy maar altyd doen sedert ek hom onthou het toe ek my oë oopgemaak het.
Wel, ek moet byvoeg: Ou Oompie praat en argumenteer nie net met homself nie. Hy doen dit selfs in sy slaap. Enigeen wat al ooit 'n nag met hom spandeer het kan getuig.
Nou wonder ek oor hierdie oudword ding en hoe min tyd ons eintlik het op hierdie kleine borrel groenheid. Ons sit en ons kommer en ons raas en rumoer en ons word ouer. En ons weet dit dalk maar ou Oompie weet dit nie. Hy word net nie ouer nie. Nie vir my nie.
Hy vergeet dalk dat hy moes loop brood koop maar sy verstand is nog so helder soos 'n Minora. Al dwaal die ou gedagtes meeste van die tyd. Vra hom nou die dag wat de hel fout is toe hy so op en af in die straat stap en hy beduie van die rylopers wat hy weereens opgelaai het (ons probeer hom daardie onbaatsugtigheid afleer maar hoe?) na hy sy maandelikse shopping by die mall loop doen het. Ou Oompie beduie die mense was so dankbaar oor die geleentheid maar hulle het lank gevat om uit te klim (Nissan 1400 bakkie met kappie op) want hulle het baie pakkies wat hulle moes uitlaai.
En nou wonder hy of hulle dalk per ongeluk sy pakkies saam met hulle s'n uitgelaai het, want hy kan net nie onthou of hy gekoop het en wat hy gekoop het nie, want daar’s niks in die bakkie nie.
oester

