Noupoort, die begin van baie ...

  • 0

Oor al die jare wat ek en vroutjie ’n huweliksband deel, is daar een dorpie in ons ou landjie wat sy eers sal moet besoek, voor sy die twyfelagtige voorreg mag smaak, om saam of sonder my, op die groengras van die buiteland te wandel. Elke keer wat ’n gespreksonderwerp in hierdie rigting neig, dan herinner ek haar aan my diepgewortelde behoefte om ontbyt of aandete te geniet of selfs net op die bankie voor die eetsaal, op die rooi politoer-vloer van Noupoort Hotel se stoep, te sit en wag.

Noupoort was die Calitz-skatkamer van die Karoo. Oupa-grootjie was ’n forse kleremakerman. Blykbaar die enigste op die dorp. Van predikante tot smouse het van vêraf gekom om ’n pak klere by Calitz Kleremakers op Noupoort te laat maak. Met die nuwe pak klere aan die bas en die ou klere in die asdrom, het die manne by Oupa se winkel uitgestap en ... “soos ’n splinternuwe sikspens gelyk”.

Deur die dae en jare van oorvertel, was daar altyd ’n storie of drie om oor die gebeure en mense van Noupoort te vertel. Soos die ontstaan van baie van ons taaltjie se sê-goed en woorde – ek is redelik seker dat hierdie taalskatte uit die onskuld vanself, daar op Noupoort gebore is.

Neem die woorde “miskien” en “kannie”. Geen enkele mens sal dink dat hierdie twee woordjies iets met mekaar te doen het nie; “nevermind” vanuit dieselfde dorp! Miss Keen was blykbaar ’n ingelse onderwyseres by die skool. Die kinders het nie veel van haar geweet nie en met die algemene gebrek aan taalvaardigheid, het die grootmense nie veel met haar gesels nie. Tot daardie een hartseer dag, waaroor die mense almal kon praat: Miss Keen het verdrink en lê dood in Noupoort se sloot. Die mense het angsbevange na hul asems gesnak en hand-oor-die-mond laat hoor: “dit kannie wees nie!” Dit terwyl “kannie” eintlik dood is van kruiwa stoot in die Noupoort-begraafplaas. Miss Keen het in die volksmond “miskien” geword; alhoewel daar geen sekerheid daaroor bestaan nie.

Dan was daar die lelike gesegde wat die frustrasie van ’n onnodige gewag moes uitbeeld: “Om soos Piet-snot te sit en wag.” Alhoewel die Noupoort Hotel bekend was vir sy lekker etes, was daar altyd ’n paar spoorweg-, afdelingsraad- en reisigermanne wat die kroeg besoek het. Een van die plaaslike manne wat saans die stof wou afwas, was Piet. Piet was ’n kroniese loopneuslyer wat verder ook nie oor die vinnigste van begrip of denke beskik het nie; hy het maar altyd gewag dat iemand hom êrens heen neem of dalk saamneem. So het dit, by oorlewering, ook soms gebeur dat Piet saam met ’n geleentheid kroeg toe gekom het en laataand, na die wynvlakke taamlik gevul was, het die ander ou sonder Piet huis toe geloop. Dit was blykbaar male sonder tal dat die dienaars van die gereg, dan vir Piet-snot moeggewag huis toe moes vat.

“Met Jan-tuisbly se kar ry”, kom ook hier uit een van die strate bo-kant die hotel. In die jare na die oorlog was Noupoort se mense meestal in die spoorweë se diens. Nie almal was ewewel-af nie. Baie gesinne het ook nie ’n eie motor gehad nie en was maar op die fiets of die trein aangewese. Hier-en-daar was daar egter ’n man met ’n kar. Soos Jan. Die dorp se kluisenaar. Alhoewel hy nie veel met ander gedeel het nie, was Jan se hart goed. So sou hy dan soms sy karretjie vir die bure leen, as hulle na ’n begrafnis op Hanover of ’n troue op Middelburg of ’n doop op Colesberg toe moes gaan. Jan het altyd by die huis gebly, maar sy kar het darem die Karoo leer ken.

Ja, daar is so baie treffende en dogmaties absurde voorbeelde, maar helaas, sal ons vandag met hierdie juweel volstaan. “Een voël in die hand, is beter as tien in die lug” – hier teen die vroeë dae van die 1950’s, was werk skaars en die geldjies dun. Die Nasionale Party was kort aan bewind en die oorlogskuld het nog swaar oor die land gehang. My Oupa (Oupa-grootjie se stoute seun) het ’n swanger vroutjie en ’n klompie monde gehad om te voed. Met die hulp van ’n mater en ’n bietjie soetwyn, het die lus vir die buurman se kalkoenhok en sy kalkoene naderhand die oorhand gekry. Kort voor lank was daar ’n nek-af kalkoen om in die bad skoon te maak en oond-toe te stuur. Die vere en karkas en natuurlik die moordwapen, is mee weggedoen. Vandaar die gesegde: “Om die strydbyl te begrawe.”

Noupoort, die begin van baie en vir baie ’n begin; en, was dit skynbaar ook so op die een wulpse dag aan die begin van 1967, wyl ’n jong getroude paartjie Noupoort kom besoek het. Hierdie uitgegroeide seun van vandag, het destyds saam met sy bronstige vader die dorp binne gery, net om later, saam met sy niksverwagtende moeder, huistoe te vertrek ...

Hennie Fritz

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top