Mark

  • 2

Sit vandag en bekyk weereens die mensdom, en of ons dit nou boeremark, vlooimark, designer mark of watse tipe mark ook al wil noem dit bly 'n mark. Met presies dieselle mense en dieselle houdings. Want in die spreilig-verligte malle (of is dit nou Malls?) tree mense presies teenoorgesteld op as by 'n mark. Dalk is dit omdat jy daar MOET koop en basies geen keuse het nie, want net in die supermark kan jy seep en kakpapier anoniem koop. Want niemand moet blykbaar weet jy was met Lux nie. Of vee jou agterwêreld af nie.

Hier rond is markte 'n anderse besigheid. Want hier’s baie groenes en blommekinners. Groenes is die dametjies met die groot broeke gemaak van slegs natuurlike vesels en jy sien hulle altyd kaalvoet rondloop of ronddans. Op maat van daai musiek. Jy weet, die musiek wat net die paar stemme hoor. Hulle eet net goed wat GMO vry en van onner die aarde uitkom. Tensy dit natuurlik in blom of saadvorm is en rookbaar is. Hubby het altoos 'n haredos wat Bob Marley sal laat skaamkry. En die ink het gevloei soos water want oral is daar sterre en mane en snaakse drake en soms self feetjies op die plekke wat jy eintlik net veronderstel is om te sien as julle op pad is na daardie fyne draai toe.

Loop wyd om die plekke wat vleis of vis verkoop maar doen altoos aan by die dinge vannie vlees. Want dis glad nie cool om diere te dood nie, maar plante huil tog nie so hard by die slagplaas nie, en kyk mens nie so aandagtig aan voor jy hom opsny vir jou pot of vuur of kole nie.

Dan kry jy die suurknolle. Meestal nuwe geld of pakket-anties met stywe bolippe wat erg kieskeurig is oor die snit, maar in die hipermark vuisslaan as die skaaptjoppies op special is. Maar by 'n mark is almal nie so gelyk soos in die verligte hiperama nie so jy kan bietjie rang trek en jou onkunde en vooroordele aan die ganse wêreld vertoon. Die omies moet altyd die designer-inkopiesakke ronddra want ons is nie groen nie, maar ons gaan dit waaragtig nie aan die wêreld wys nie so ons loop met die hersirkuleerde sakke rond en omie moet dit dra. Omie dra ook nooit die beursie nie, nooit nie. As hy van die groenvye hou dan beduie hy altoos dat moeder (daardie troetelnaampie is verewig in ons landskapstaal) die geld het en hy nou-nou terug sal wees om die hele plek leeg te koop.

Die blonde girls met die reguit gekamde hare en donker josef-diepsloot a la glam-guru reg op die plek brille se rondstap is egter die beste vermaak. Hulle weet alles, ken al die smake en tog staan en proe hulle aan my buurman se werklik gerookte beesrib en (i shit you not!) beduie vir hubby met die splinternuwe wit golfbroekie en kouslose tekkies dat dit die beste gerookte vark is wat sy al ooit in haar lewe geproe het. En sy gooi die Ingels en jy hoor sommer die Gauteng of is dit Kaapse rou aksent. Die Skotsman kyk in my koers en ons lag en die blonde bom met die uitgewaste hare en groot tiete lag saam want sy dink sy het die beste grap ooit vertel. Hubby weet van niks, want ek is seker hy dink aan die rooikop met die mooi gat wat die drankies by Pezula eksklusief aandra. Hy is doenig op sy Iphone en hy lyk belangrik. Soos dit hoort vir 'n vername man.

Sit en bekyk toe die laaste markgangers uitstap en ek sien die man wat by die Bonsai-bome baie lank gestaan het. Die mooi kunswerke bewonder het. Het hom lank gestaan en bekyk en ek kon sien hoe hy die somme in sy kop moes maak. Want wie loop dan nou verby 'n klein hondjie of katjie of klein boompie? Ek sien hom uitstap met 'n klein bruin potjie met 'n nuwe Bonsai-boompie in. Ek is seker hy het aandagtig gestaan en luister na die man met die slierterige hare se verduidelikings maar ek is seker hy het na die derde sin glad nie meer geluister nie. Want ek ken vir Bonsai-man en ek weet hier teen drie-uur die Saterdag het hy homself 'n hele paar bome gerook.

Bonsai koper stap weg en enigeen met 'n greintjie van 'n hart kan sien dat hy veel meer waarde gekry het as sy jonge bruid wat heel waarskynlik in die Mall rondgedwaal het op soek na iets wat darem bietjie binne die budget sal wees.

Want seep is duur, en ons weet tog almal dat die specials onder die blink ligte van die geriefsmarkte baie duurder is as die aandag en sorg en liefde wat die kleine jongeling Bonsai sal kry. Al vermoed ek dat die Bonsai na drie weke heel waarskynlik verlep innie vensterbank sal staan.

oester

  • 2

Kommentaar

  • Oester

    Dit is verfrissend om te lees dat iemand 'n weersin het in die knaende gevlug vir die werklikheid.

    Dit is asof niemand meer eerlikheid as 'n deug beskou nie.

    CM

  • Eerlikheid kry mens beslis nie in die lewe nie. Die enigste tyd wat iemand werklik eerlik is is as hy jou 'n doodstyding bring. Al het ekself hiermee ook al 'n stel of twee afgetrap met mense wat kom geld bedel het omdat sy pa dood is.

    Ek het 'n familielid wat bekend is innie politiek. Sy motto in die lewe is: honestly, its the best policy.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top