Leeskringe en Winterbach

  • 5

Leeskringe is bekend en gewild in ons land. Daar is minstens drie variasies, nl damesleeskringe, mansleeskringe en 'gemengde' leeskringe. Ek is bevoorreg om reeds vir 'n aantal jare lid van 'n mansleeskring te wees (kon vroeër net nie die tyd afknyp nie). Eggenotes van lede woon ook soms vergaderings by en bydraes wat hulle lewer word verwelkom. Mans is, ten spyte van al hul ander deugde, geneig om minder sosiaal as dames te wees. Langtermyn vriendskappe van mans bestaan skynbaar alleen wanneer daar 'n gemeenskaplike belangstelling is, bv kaartspeel of 'n spesifieke sport. Hier is die dames die mans ver voor want heelwat van hulle hou 'n vriendskap in stand bloot ter wille van die vriendskap. Dink nou aan my ma en haar beste vriendin – die vriendskap het 90 jaar lank bestaan.

Terwyl seker elke dorp in ons land minstens een dames leeskring het is die manlike variant aansienlik dunner gesaai, maar dit kan sterk aanbeveel word. As mans besef dat hulle meer sosiaal behoort te wees (en dit is nodig!) is besprekingsgroepe 'n ander moontlikheid.

Ons vergader elke eerste Vrydag van die maand (Desember, Januarie en Julie is die uitsonderings). Ja, 'n boek word soms bespreek wat jou nie werklik interesseer nie, maar tog is elke byeenkoms die moeite werd. Eerlik, ek was nog nooit jammer dat ek 'n vergadering bygewoon het nie. 'n Spesiale onderwerp of 'n spreker is, by wyse van uitsondering, 'n alternatief vir 'n boekbespreking.

Die boek onder bespreking bepaal seker eerstens 'n mens se benadering teenoor die byeenkoms, maar daar is ook ander faktore, soos of jy die boek gelees het, dit op die laaste tippie deurgejaag het, jou gemoedstemming, die lede se menings (soms word ouens warm!), ens.

Die jongste bespreekte boek was Ingrid Winterbach se Die aanspraak van lewende wesens. Die inleier het moeite gedoen om hom goed voor te berei en het vir ons op die skerm selfs voorbeelde van Winterbach se kunswerke gewys. Self het ek die boek net 'n paar dae voor die vergadering begin lees en klaar gelees, maar was eintlik nie voorbereid nie. Die reaksies op die boek en die inleier se uitstekende aanbieding was alles positief. Niemand het iets negatiefs gesê nie, behalwe die swak voorbereide, de uwe, wat daarop gewys het dat die enigste karakter wat nie geradbraakte Afrikaans praat nie die ou is wat van sy trollie af is!

Die voorbeelde van onnodige engelse woorde in die teks en taalkundig swak Afrikaans is so talryk dat ek dit liewer oorslaan. (Iemand wat dalk meer hiervan wil weet kan na Johannes Comestor se resensie kyk – 22 Okt. 2013. Terloops, skynbaar is dit die enigste resensie wat die boek swak beoordeel.)

Reeds op die tweede bladsy van die verhaal lees jy al van 'n album met 'n 'befokte cover'. Om 'n lys te maak van die talle variasies van 'fok' sal 'n mens 'n aansienlike tyd besig hou en dan moet 'fuck' en sy variasies nog nagegaan word. Verbeel ek my of is daar al lesers wat al klaar ongemaklik rondskuif omdat 'n konserwatiewe 'shit stirrer' (bladsy 17) sy mond durf oopmaak oor 'n letterkundige werk wat talle pryse verower het! Nee, ek is bewus daarvan dat 'n skrywer nie atmosfeer kan skep as hy nie werklik 'n karakter se wêreld kan binnedring nie en dat dele van die verhaal soms deur die oë van 'n sekere verhaalkarakter vertel word. Nogtans, desnieteenstaande as hierdie belangrike toegewings gemaak is bly daar nog 'n donnerse vrag engelse woorde en vloekwoorde oor (die laaste een was my eie!) wat nie met hierdie verskonings verklaar kan word nie!

Die ydellike gebruik van die Allerhoogste se naam bly ook nie agterweë nie (Here/God/Got in verskillende variasies). Daar is drie teoloë in ons leeskring en alhoewel hulle aan die bespreking deelgeneem het, het nie een van hulle na hierdie aspek of die vloekwoorde verwys nie. Daarna drink ons boere- of engelse tee en geniet die besondere verversings van die gasvrou. Toevallig land ek langs een van die drie teoloë en hy is dit met my roerend eens dat daar aspekte van die boek is wat nie aanvaarbaar is nie. Op pad huis toe kom dit uit dat die man wat saam met my ry ook gedurende die verversings met ons hoofman ('n teoloog) min of meer dieselfde gesprek as ek gevoer het en naastenby dieselfde reaksie gekry het as wat ek van teoloog nommer een gekry het. (Teoloog nommer drie het skynbaar sy tee en verversings in vrede geniet!)

Wat probeer ek sê? Dit lyk of ons gevorder het van die punt waar predikante alles wat nie kosher is of selfs net effens vreemd is van 'n kant af veroordeel het tot die huidige situasie waar teoloë só versigtig is dat hulle alles oorsien. Wens iemand van die FAK, NGK of enigiemand anders wil reageer.

George Bekker

  • 5

Kommentaar

  • Hello George, 

     
    Daar is nie veel wat ek kan voeg tot die gesprek oor Winterbach nie, maar wat wel fantasties klink is die leserskring. Ek wens soms ek kan een hier in Centurion vind. Maar kry niks nie. Gelukkige jy dus. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • George, hoekom behoef jy reaksie van die NG Kerk? Winterbach se roman is gemik op die (Afrikaanse) sekulêre literêre mark. Dit teiken nie die NG Kerk of énige geloofsdenominasie nie, waarom moet die kerk dan enigsins daarop reageer? Geen leser word tog gedwing om die boek te lees as hy / sy nie daarvan hou of aanstoot neem met die inhoud nie.

     

    Dankie tog die dae is verby toe die NG Kerk op als en almal iets te sê gehad het, in plaas daarvan om op sy kernbesigheid te fokus. Wat die individuele teoloë betref, sekerlik het hulle die leeskringbyeenkoms as "lesers" bygewoon, nie as "teoloë" nie. Tereg kan jy van hulle verwag om as 'n leser kommentaar oor die literêre meriete / taalgebruik van die roman te lewer, maar hoekom alewig van die arme dominees verwag om die oordeelstaf nog hier ook rond te swaai? Geeneen van julle leeskring sal seker die verdoemenis ingaan omdat hulle dié boek gelees het nie.

     

    Terloops, in jou skrywe meld jy dat jy en een van die teoloë oor 'n koppie tee dit ..."roerend eens (was) dat daar aspekte van die boek is wat nie aanvaarbaar is nie..." Wie lê julle maatstaf neer oor wat aanvaarbaar is
    en wat nie? Namens wie praat julle? Sekerlik nie alle Afrikaanssprekendes nie, dalk nie eers alle gelowiges of NG lidmate nie. Die dae is vir altyd verby dat sommiges vir almal kan besluit wat aanvaarbaar is of nie is nie.

     

     

  • Dirk jou reaksie dui op 'n absolute vyandigheid teenoor die kerk. As jy 'n ateïs is, is dit goed en wel maar gaan só 'n benadering nie juis van die standpunt uit dat sake onemosioneel en objektief bespreek word nie? Skielik is daar geen teken van wetenskaplikheid nie.

    Dan jou vraag “… hoekom alewig van die arme dominees verwag om die oordeelstaf nog hier ook rond te swaai?” (Vermoedelik het jy lanklaas vir die dominees gekeer!) Hiermee bevestig ek graag aan jou dat ek beslis nie van dominees verwag om die 'oordeelstaf' 'alewig' rond te swaai nie. Die gedagte is eerder om rustig na die feit te kyk dat waar dominees 'n paar dekades gelede sulke dinge aan die grootklok gehang het hulle nou opvallend stil is, selfs waar die Here se naam ydellik gebruik word. Soos jy sal opmerk as jy weer na my brief kyk, was my vraag nie eerstens aan die dominees van die N G Kerk gerig nie, maar dit het jou gepas om dit so voor te stel.

    “Wie lê julle maatstaf neer oor wat aanvaarbaar is en wat nie? Namens wie praat julle?” Ek weet nie wie jou 'julle' is nie, maar wat myself betref wil ek net namens myself praat en skynbaar het jy ernstige besware teen openbare debat. Wat aanvaarbaar is en wat nie is nogal 'n groot vraag waarvoor ek nie regtig kans sien nie. Miskien moet ek volstaan deur te meld dat my hele lewensloop van kleintyd af dit seker bepaal het. Ek is dankbaar vir goeie ouers en dat my mening nooit oordonder was met die soort reaksie wat jy openbaar nie.

    Terloops jy het nogal 'n manier om ander skrywers op 'n lelike manier tereg te wys oor hulle taalgebruik. Ek wil voorstel dat jy met 'n volgende probeerslag nie jou poging met 'n argaïese woord soos 'behoef' begin nie.

  • George, my reaksie op jou brief maak my nie vyandig teenoor die kerk nie, nóg minder maak dit van my ‘n ateïs. Dit maak my ook nie emosioneel, onobjektief (subjektief) of onwetenskaplik nie.

    My vraag aan jou is eenvoudig: Hoekom verwag jy van die NG Kerk en sy teoloë / dominees om oordeel oor ‘n bekroonde Afrikaanse literêre boek “…aan die groot klok te hang…” soos jy sê. Dink jy nie die NG Kerk het tans veel ernstiger kwessies om oor te wroeg nie, bv die gay kwessie, Belhar en talle ander nie.

    Verder nog, verwag jy dus van die moderatuur van die NG Kerk om oor alle boeke, tydskrifte, koerantberigte, ens. wat nie volgens die kerk se “riglyne” optree nie, mediaverklarings uit te reik om die kerk se kritiek daarteen uit te spreek? Sou dit nou “wetenskaplik” wees? Waar moet hulle die streep trek?

    O ja, en moenie my beskuldig dat ek “…ernstige besware teen openbare debat…” het nie, terwyl, as ek met jou debatteer, dan gooi jy die ateïs-modderkoek in my rigting nie.

    Vir ‘n nagedagte: Al het ek die “argaïese woord” behoef in my eerste sin gebruik, is dit glashelder dat jy presies geweet het wat ek daarmee wou sê. Dis al wat belangrik is as ons skryf!

  • Dirk, ek erken graag dat ek presies geweet het wat jy met 'behoef' bedoel. Nogtans wou ek dit onderstreep dat jy in vorige reaksies op ander SêNetters kras was met mense wat hulle nie so goed soos jy uitdruk nie. Ons moet vir hulle 'n plekkie op SêNet gun en hulle aanmoedig.

    Afgesien van die N G Kerk, in die algemeen, sleep jy nou die moderatuur ook by, ten spyte van wat ek in my vorige kommentaar meegedeel het. So 'n moontlikheid het nooit in my wildste gedagtes bestaan nie. Die moontlikheid van 'n lekker debat oor sake wat ek geopper het, bestaan nou waarskynlik ook nie meer nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top