Keke Jughashvili: My Dear Son

  • 1

Peter Watson (gebore in 1943) is 'n outeur wat my beïndruk het met omvattende werke oor die geskiedenis van idees. Ek het al op SêNet (3.05.2012) verwys na A Terrible Beauty (2001), Ideas (2006) en The German Genius (2011). Sedertdien het hy The Great Divide (2012) gepubliseer.

Die nie-fiksie boeke wat Simon Sebag Montefiori (gebore in 1965) gepubliseer het, is ook omvattende en goed geformuleerde teks wat op indrukwekkende navorsing gebaseer is. Sy terrein is geskiedenis van 'n meer populêre aard. Jerusalem: The Biography (2011) handel oor die geskiedenis van hierdie stad van die vroegste tye af. 'n Mens begryp dan waarom Jerusalem deur sommige as die sentrum van die wêreld beskou word, bv dat die meridiaan, wat die Aarde in 'n westelike en oostelike halfrond verdeel, eerder deur Jerusalem as deur Greenwich moet loop. Dan sou dit die wêreld kultureel beter as die Weste en die Ooste onderskei het, hoewel Afrika glad nie hierby inpas nie.

Montefiori het 'n omvattende boek oor die bewind van Joseph Stalin (1878-1953) gepubliseer, Stalin: The Court of the Red Tsar (London: Phoenix, 2003/2012, 720p). Hy het dit opgevolg met Young Stalin (2008), wat ek nog nie gelees het nie. Sedertdien is die volgende vertaalde teks beskikbaar gestel: Keke Jughashvili, My Dear Son: The Memoirs of Stalin's Mother (Amazon Kindle Singles, 2012, 31p, $3.99).

Hierdie herinneringe is in die argief van die departement van binnelandse sake in Georgië opgespoor. Die teks is 'n transkripsie van wat Keke op 23, 25 en 27 Augustus 1935 in Georgiaans gedikteer het. Eintlik is daar min nuwe inligting, gevolglik steun ek op sowel hierdie bron (die Kindle-verwysings) as Montefiori se 2003-boek (die bladsyverwysings).

Volgens Montefiori is Stalin se geboortenaam Joseph Vissarionovich Djugashvili. Die variasie in spelling van sy van kan aan transliterasie toegeskryf word. Hy het later op die van Stalin besluit, wat staal beteken. In sy familie was Joseph se noemnaam Soso. Toe hy later 'n beroepsrewolusionêr geword het, het hy homself Koba genoem..

Joseph se ouers het afgestam van veeboere en was skynbaar sonder geleerdheid. Sy ma se pa was 'n pottebakker. Joseph se pa se naam was Vissarion, maar hy het as Beso bekend gestaan. Keke is die noemnaam van sy ma, Ekaterina (of Ekaterine), gebore Geladze. Hulle het in Gori, Georgia, gewoon toe Joseph, hulle enigste kind, gebore is. Van 1801 tot 1878 het Rusland stuksgewys beheer oor Georgia verkry. Eers in 1991 sou Georgië weer 'n onafhanklike land word.

Keke vertel dat haar man 'n skoenmaker was wat later aan drank verslaaf geraak en haar verlaat het. Hy is in 1909 aan 'n lewerkwaal dood. Sy het noodgedwonge wasgoed en stikwerk gedoen om haar en haar seun aan die lewe te hou. Haar man wou hê dat Joseph hom as skoenmaker bekwaam, maar sy wou eerder sorg dat hy geleerdheid bekom.

Keke (en aanvanklik ook haar man) en haar ma was gelowige christene wat aan die Georgiaanse Ortodokse Kerk behoort het. Keke het Joseph by so 'n kerkskool ingeskryf. Hy was 'n uitstekende leerling, eers in Gori en daarna in die seminarie (of kweekskool) in Tbilisi (of Tiflis), die hoofstad van Georgië. Joseph het 'n goeie stem gehad, kon mooi sing en sy ambisieuse ma het die ideaal gekoester dat hy 'n biskop sou word. "One day he would surprise the world" (Kindle 343). Tydens Joseph se laaste besoek aan haar, het sy gevra: "What exactly are you now?" Joseph: "I'm something like a Tsar." Keke: "You'd have done better to become a priest" (Montefiori, p 187).

Uit haar vertelling blyk Keke se groot liefde vir Joseph. Sy noem verskeie kere toe hy as kind by die dood omgedraai het, bv toe hy pokke gehad het en toe 'n koets hom omgery en hy bewusteloos bly lê het. Sy linkerarm was daarna gestremd. Die goeie verhouding tussen ma en seun is versteur toe Joseph in 1899 uit die seminarie geskors en in die tronk beland het. Al verduideliking wat Keke verskaf, is: "He started hanging out with workers" (K 471). Reeds voor dit het sy agtergekom dat hy afsydig, onbeskof en opstandig geword het. "He wanted to turn the world upside down" (K 479).

Joseph het kontak met sy ma behou deur boodskappe aan haar uit die tronk te stuur; ook toe hy as banneling in Siberië was. By sy briewe het hy geld ingesluit. Op hierdie manier het hy sy jeugbelofte aan sy ma nagekom: "He would kiss me and assure me that he would soon pull me out of suffering and poverty" (K 455). Na die Russiese Rewolusie (1917) het Joseph sy ma egter net drie keer besoek. Hy was altyd te besig en het selfs nie haar begrafnis bygewoon nie. Joseph se kollega en mede-Georgiaan, Lavrenti Beria, het hom op die begrafnis verteenwoordig.

Toe sy 75 jaar oud was (dus in dieselfde jaar as haar diktaat), het die propagandakoerant Pravda Keke soos volg aangehaal: "The whole world rejoices when it looks upon my son and our country. What would you expect me, his mother, to feel?" (p 188). "I am happy that he has achieved his goal and become a benefactor and patron of all oppressed people. I wish Beso had also lived to see him become the pride of our country" (K 490).

Keke is in 1937 in Tbilisi aan 'n hartkwaal oorlede. In haar woonplek was 'n borsbeeld van Joseph en portrette van hom, Vladimir Lenin en Beria.

In sy beroep Joseph "grasped the convenience of death as the simplest and most effective political tool" (p 33). "'Death solves all problems,' Stalin is meant to have said. 'No man, no problem'" (p 34). Alex Ferguson het in sy resensie van Montefiori se boek oor Stalin geskryf: "How he managed to kill probably 30 or 40 million people and conceal it is unbelievable" (p vii).

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • CorneliusHenn

     

    Dankie Johannes Comestor, jou antioksidante vir die brein doen my altyd wel ...

     

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top