John Dwyer: Klondike

  • 2


Ek het onlangs oor 'n Londense egpaar geskryf wat 'n wegvlugplekkie in die Dingle-skiereiland, Kerry, Ierland, aangeskaf het (SêNet 21 Nov). Nou het ek dit opgevolg met 'n boek wat handel oor die jeugherinneringe van iemand wat daar naby grootgeword het, naamlik op 'n plaas by Castletown in die Beara-skiereiland, Cork. Die direkte afstand tussen die dorp Dingle en Castletown is sowat 60 kilometer. Albei hierdie skiereilande, asook die een tussenin, is bergagtig en het baie inhamme, gevolglik is die afstand per pad baie langer. Hoe groot die rol is wat geografiese isolasie speel, blyk uit die feit dat Iers (Gaelies/Kelties) steeds aan die weskus in die Dingle-gebied gepraat word, maar in Beara in die suid-weste "the language hadn't been spoken ... for over a century" (bron hieronder, Kindle 486).

Die boek waarna ek verwys, is John Dwyer se Klondike: Memories of an Irish country childhood (2013, 122p, Kindle $2.99). Die outeur het 'n tyd lank in Amerika gewoon en ook 'n boek oor sy besoek aan Tibet en omliggende gebiede gepubliseer. Tans woon hy weer in Ierland. Verlede jaar was Dwyer in Gansbaai sodat hy in 'n hok wat in die see laat sak word mensvreterhaaie eerstehands kon ervaar. Die inspirasie vir sy avontuur was die rolprent Jaws (1975).

Die eerste hoofstuk handel oor Dwyer se skooldae. Sy eerste jaar (1977/78) was hy op Kilmacowen op skool. Hy moes twee myl loop om by die skool te kom. "Most children walked to school" (22). Die skool dateer uit 1870. In die vloer was daar gate waarin rotte hulle tuisgemaak het. Daar was net een onderwyseres wat onderrig aan 21 kinders versprei oor 6 standerds aangebied het. Dwyer en nog 'n kind was die enigste skoliere in die eerste standerd. Daar was geen elektrisiteit of kraanwater nie. Die toilette was van die soort waar 'n riviertjie die afval wegvoer. In die winter het die onderwyseres met hout en steenkool vuur in die vuurherd gemaak. Na sy eerste jaar is hierdie skool gesluit en is Dwyer na 'n nuwe skool in Eyeries en mettertyd na een in Castletown. Albei hierdie skole het oor die basiese geriewe beskik wat in Kilmacowen ontbreek het.

Dwyer skets skooltoestande in Ierland in die jare sewentig. Dit het my laat dink aan hoe ek sonder protes ongeveer dieselfde afstand na my skool gestap het. 'n Spoeltoilet het ek nie by my ouerhuis of die skool gehad nie. Ek lees met verbasing dat oproer in die nuwe Suid-Afrika uitbreek as kinders vyf kilometer na 'n skool moet loop en dat hulle eis dat naas vervoer ook elektrisiteit, kraanwater en spoeltoilette voorsien moet word. Dít terwyl hierdie ouers in baie gevalle nie vir munisipale dienste betaal nie, om van skoolgeld en inkomstebelasting nie te praat nie.

Die Kealincha-rivier verdeel die Dwyers se plaas in die Inches-vallei in twee. Die outeur vertel hoe die 1945-brug tydens 'n vloed in 1997 weggespoel het en hoe sy pa 'n nuwe brug gebou het. "He had not only built a bridge, he had built a monument, something solid and lasting" (205). Oor hulle plaas skryf hy: "Like most farms in Beara, it was small but enough to rear some cattle and sheep, as well as grow some vegetables" (117). Daar word ook na varke en pluimvee verwys. Die seuns het hulle pa met die boerdery gehelp, terwyl Dwyer se susters hulle ma met huistake bygestaan het. Hulle arbeid is nie altyd met sukses bekroon nie. Hulle het bv met groot moeite onkruid op 'n lap grond probeer uitroei, net om te sien dat die onkruid spoedig met hernude lewe terugkeer. "In the life of a farmer, great effort sometimes resulted in little or no reward" (189).

Die outeur vertel hoe hulle forelle in dié rivier gevang het. "There's something deeply satisfying about enjoying a meal that you caught yourself" (150). Hy het ook, soos sy broers en susters, in die rivier geswem. Die hooffunksie van die boek is blykbaar om aan veral stedelinge plaaslewe te verduidelik. Maar hy wissel die hoofstukke met suiwer plaasinligting met ander onderwerpe af. In die derde hoofstuk is die tema skape; hoe hulle lam, wei en deur 'n skaaphond aangekeer word, sodat hulle geskeer, gedip en gedoseer kan word. Ook hoe skape 'n eiendomsmerk kry en opgepas moet word teen aanvalle deur jakkalse en honde.

Veen of turf (ook "peat" genoem), dus grond wat ryk aan halfvergane plante is, word as brandstof gebruik. "It warmed the kitchen where we gathered to eat. It cooked our meals, baked the bread for our school lunches, and dried our clothes after a rainy day" (387). "Cutting turf was always a long and hungry day" (321). In April wanneer die grond in die na-somer op sy droogste is, word die sooie in die moeras uitgespit. "After a while, black sods completely filled the bank, scattered like dead soldiers after a battle" (366). Daarna moet die sooie teen mekaar staangemaak word om uit te droog. Mettertyd word hulle in sakke, "old fertilizer and cattle-feed bags" (379), verpak en in 'n stoor bewaar.

Soos in die geval van veen kom Ogham-klipsuile nie hier by ons voor nie. Die is klippe met inskripsies in Ogham, 'n antieke Gaeliese skrif. Hierdie klippe is duisende jare gelede staangemaak en kom wydverspreid in Ierland en in mindere mate in Skotland, Isle of Man, Wallis en Engeland voor. Die Ballycrovane Ogham-klip is die langste, 17 voet, en is naby die Dwyers se plaas. "The name Ogham was derived from the Celtic god of literature and eloquence, Ogma. An individual letter contained one to five vertical or angled lines. Ogham is read from top to bottom and from left to right ... each of Ogham's twenty letters bears the name of a tree" (423). As kind het die outeur sy naam as "'Séan', the Gaelic word for John" (446), op 'n langwerpige klip uitgebeitel omdat die meeste Ogham-inskripsies name is. Hy het hierdie klip staangemaak en sodoende sy eie Ogham-klip geskep.

Daar word in besonderhede vertel hoe daar in die era voor meganisering hooi verkry en miedens gepak is. "Cutting and saving the hay was an important part of the farming season and ensured a food supply for the cattle and sheep during the winter" (474). 'n Lap grond waarin vee nie kon kom nie, was nodig en bemesting verkry van die beeste is daar gestrooi. Die gras is met 'n sekel of sens gesny. Onkruid wat skadelik as veevoer was, moes met die hand verwyder word. Daarna moes die gesnyde gras uitdroog. Om dié proses te verkort, moes die gras wat onder lê op 'n daaglikse basis met 'n piek na bo gekeer word totdat die gras pleks van groen helder geel en droog is. As dit sou reën word die gras swart en verrot. Miedens is onderdak gepak.

In 1845 tot 1847 het meer as 'n miljoen mense in Ierland weens honger gesterf toe die aartappeloes misluk het. 'n Verdere miljoen het geëmigreer, wat meegebring het dat Ierland se bevolking met 'n vyfde of 'n kwart verminder het. Deesdae is aartappels steeds die stapelvoedsel. Die Dwyers het ook uie, rape en wortels verbou. Beesmis en seewier is as bemesting gebruik. Daar word vertel hoe hulle aartappels in 'n donker skuur gehou het totdat hulle uitloop. Dan word hulle twee keer per jaar (in Februarie en Mei) as moere in vore geplant met die uitloopsels na bo. Kraaie is lastige peste. Daarom word voëlverskrikkers by aartappelbeddings opgerig. Die plantjies moet ook met gifstof bespuit word om skimmel of roes te voorkom. Aartappels moet versigtig uit die grond gehaal word. Hulle moet nie raakgesteek word nie. Wanneer hulle geoes word, blyk al die arbeid die moeite werd te wees. "They were cool in my hands and had smooth skin, like the eggs of some underground creature that had abandoned her nest. It was satisfying to see what the soil could produce with hard work" (585). Die aartappels wat hulle nie geëet het nie, is as pluimveevoer gebruik.

Oor die koeie vertel Dwyer hoe hulle gemelk en die melkkanne by 'n plek afgelaai word, van waar die na 'n fabriek vervoer word. Hy verduidelik die moeisame proses wat sy ma deurgaan om botter te maak. Dit begin deur die roomlaag van die melk af te skep, die room in 'n bottel te skud. die botter te was en te sout en dit dan in blokke in die yskas te bewaar vir gebruik, bv wanneer kos gekook of daar gebak word, of deur die botter op brood te smeer. Die beeste word snags op stal gehou en bv hooi gevoer. Strooibeddens moet vir die beeste voorsien en skoongemaak word. Die beesmis moet verwyder en as bemesting bewaar word. Die bevrugting van koeie moet bestuur word. "A bull ... could take on three or four cows in a day. It must have been a happy time for the bull as he watched the stream of visitors looking for his services" (669). Kalwing kan enige tyd van die dag of nag plaasvind en daar kan voor of tydens die geboorte probleme opduik waarvoor die hulp van 'n veearts nodig is. In Castletown word veeveilings gereeld gehou. Maar dié dorp is agt kilometer van die plaas af. Die vee wat te koop is, moet daarheen aangejaag word.

Die voorlaaste hoofstuk handel oor Kersfees. "Killing an animal for the table was part of life on the farm" (734). Sowel klein- as grootvee word soms geslag. Vir Kersfees is dit 'n kalkoen wat dit moet ontgeld. 'n Kersboek met bestanddele soos meel, vrugte, botter en melk word gebak. 'n Denneboom met 'n mooi vorm en wat nie so hoog soos die huis se plafon is nie, word afgekap en in 'n emmer vol grond staangemaak, versier en met liggies verhelder "before placing the slightly worn plastic star at the very top" (765). Op die vensterbanke word brandende kerse geplaas. 'n Vuur brand in die kaggel. Die kinders het briewe met versoeke aan Kersvader geskryf en die geskenke word Oukersaand by die boom uitgedeel. Op 'n grammofoon word Kersmusiek soos "Stille Nag" gespeel. Kersoggend word 'n kerkdiens in Eyeries bygewoon. Daarna volg die kersmaal met die kalkoen wat die ereplek inneem, maar daar is ook aartappels, altyd aartappels, fyn en gebak; ook nagereg: struif, jellie en roomys.

Wat die outeur duidelik maak, is dat die werk op 'n plaas veelvuldige vorms aanneem en sowel kundigheid as liggaamlike inspanning verg. Daar is altyd nog werk op 'n plaas en dit is daarby harde werk. Om suksesvol te wees, moet die take gesinkroniseer en by die seisoene en weer aangepas word. Die inligting wat oor visvang, skape, hooi, aartappels, beeste en Kersfees verskaf word, is van 'n elementêre aard en kan sommige lesers verveel. Die hoofstukke oor die skool, veen en Ogham-klippe is meer insiggewend.

Toe ek die boek gekoop het, het ek gehoop op 'n meer nostalgiese teks. Die outeur is egter nog so jonk dat daar nie van so iets sprake is nie. Daar is eintlik bitter min emosie in die boek. Sy ouers, broers en susters word nie uitgebeeld as mense met persoonlikhede nie. In die meeste gevalle word selfs hulle name verswyg. Hulle almal is bloot funksionarisse op die plaas. Desnieteenstaande is die boek hartlik deur resensente aanbeveel.

In 'n poging om die teks op te kikker, word van insidente vertel wat fiktiewe elemente kan bevat, soos toe 'n ram hom bestorm het, 'n koei sy melkemmer omgeskop het en hy nie die nek van 'n kalkoen met die eerste probeerslag met die byl kon afkap nie. Eers in die laaste hoofstuk kom daar 'n meer persoonlike noot te voorskyn en word die leser ingelig oor waar die boektitel vandaan kom.

In 1882 is koper in Butte, Montana, VSA, ontdek. Mike Dwyer, die broer van die outeur se oupagrootjie, Johnny, het Ierland verlaat en sy fortuin daar gaan soek en teen 1888 by ander myne in Montana. In 1896 is goud naby die samevloeiing van die Klondike- en Yukon-river in noord-wes Kanada ontdek. In 1897 het Mike gevolglik na Dawson City verhuis. In 1900 het hy sy belange daar aan mynmaatskappye verkoop. Hy was een van min mense wat redelik welgesteld uit die Klondike-goudstormloop getree het. Mike het na Butte teruggekeer. Hy het die eienaar van 'n kroeg ("saloon") en in 1909 'n speurder in die polisiediens geword. In 1923 het hy afgetree en toe 'n sigaarwinkel geopen. Mike het in 1929 'n kankeroperasie in Rochester, Minnesota, ondergaan, longontsteking opgedoen en gesterf.

Sy broer Johnny het intussen op die familieplaas in Ierland geboer en is in 1898 getroud. In 1902 het Mike geld aan Johnny gestuur, wat hom in staat gestel het om die plaashuis in Beara te bou. "If he hadn't gone there and sent some money back, the family home would never have been built" (934). Johnny het vyf kinders gehad, waarvan twee vroeg dood is. Teen 1910 is Johnny ook na Butte, maar sonder sy familie. "We don't know much about Johnny's activities but he spent a short time in Butte before he tried his luck in other mining towns in Montana and Utah" (888). In 1915 het hy sy familie in Ierland besoek. In 1917 is Johnny na Phoenix, Arizona, en is in 1918 daar op 40-jarige ouderdom aan myntering dood.

Toe hy oud genoeg was, het die outeur se oupa, een van Johnny se kinders, die boerdery oorgeneem. Hy is getroud en het gesien hoe sy een kind na die ander na Boston in Amerika emigreer. "Only my father John returned from Boston to take over the farm. Unlike his grandfather Johnny, he stayed. Better still, he met my mother while in Boston and they were married shortly after they arrived home in Ireland" (902). "My father erected a plaque outside the front gate of the house. The simple inscription read, 'Klondike House'" (934). Die outeur het ook 'n tyd lank in Boston gewoon en gewerk, maar soos sy pa na Ierland teruggekeer.

Johannes Comestor

  • 2

Kommentaar

  • Ai Comestor

    Met hierdie opsomming van jou maak jy nostalgiese gevoelens in my los. In my kinderjare was die plaaslewe nie vir sissies nie. Maar ja - wanneer die ryp aartappelplant omgedolwe word, lê sy vrug soos geelgoud oor die rooi oopgeploegde grondvoor en wanneer tamaties netjies verpak is in houtkissies op pad na die mark, het pa dit sy rooigoud genoem. Snaaks - warm melk uit 'n speen gespuit in die mond kon ek nooit verdra of regkry soos my broers, maar niks was so lekker soos heuning uit 'n waskoek wat wieltjies draai in die koue room wat ma gesmeer het op 'n warm stuk tuisgebakte sny brood nie.

    Vandag woon ek in 'n woelige stad. Vra my my hartsbegeerte? Terug plaas toe asb!  Dankie vir jou interessante boekgesprek.

  • Johannes Comestor

    Dankie, Trienie, vir jou kommentaar. Ook my dank aan Jan Rap vir kommentaar op van my vorige skrywes. Ek het deesdae aanmoediging nodig.

    Johannes Comestor

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top