Die ysterkoei sweet nog steeds

  • 6
Opgedra aan geestelikes en ander sekswerkers van die gees, met die hoop dat hulle ons nie heeltemal in die afgrond lei nie, maar liewers wakker skrik, en uiteindelik die liggies van hulle vervlakste lampies aansteek.

Dit is die middel van die sewentigerjare in die middestad van Pretoria en ek staan voor ’n boekrak binne die hooftak van Van Schaik Boekwinkel met Breyten Breytenbach se digbundel die ysterkoei moet sweet in my hande. Ek het die bundel heel voor oopgemaak en skaars die eerste bladsy klaar gelees, toe ek heeltemal “flip”. Verhewig tot die uiterste graad, voel ek asof ek skielik ingeprop is by ’n hoë-frekwensie-energiebron wat my in staat stel om toegang te kry tot ’n nuwe dimensie, waar enigiets kan gebeur en alles moontlik is. Ek praat nie van sci-fi of sprokiesverhale nie, maar ’n geestestoestand wat jou poepdronk laat voel met inspirasie, en jy op die drumpel is wanneer jy in staat voel om in ’n taal te praat wat net die profete, skisofrene, en die gode sal verstaan. Dit is ’n oomblik wanneer tyd stilstaan, spesiaal net vir jou, sodat jy vir ’n paar al tekort oomblikke die ewigheid kan ervaar. Dan sink jy terug na die gewone driedimensionele wêreld en kyk na jou horlosie en besef dat jou etenstyd verby is en jy moet teruggaan kantoor toe. Daar moet jy dan saam met jou kollegas sit en vir die res van die middag rye groen blokkies op A4-vorms invul.

Alhoewel ek hierdie “awesome” openbaring in die boekwinkel ervaar het en eintlik reggekry het om op dieselfde golflengte in te skakel as Breyten Breytenbach, weet ek dat ek g’n “maer man in ’n groen trui” is nie, maar ’n jong en onkundige staatsamptenaar in ’n langbroek-safaripak, wat weier om vir julle/hulle sy bene te wys. Dit is daardie klein maar belangrike verskil tussen ’n lang- en kortbroeksafaripak wat my van die ander onderskei. So spel ek dit vir hulle uit dat ek nie heeltemal aan hulle kamp behoort nie, maar ’n genaturaliseerde Suid-Afrikaner is, wat gewillig is om na ander mense se kak te luister, maar wat van sy kant af gewoonlik weet wanneer om sy bek te hou, mits hy iets laat glip wat hom as ’n uitlander, en gevolglik as ’n andersdenkende sal identifiseer.
Met die “ysterkoei” in my hand stap ek in die kantoor in, my kop nog vol verbode wysheid en nuwe afgode, toe ek deur iemand aangespreek word, en toe ek my oë op hom rig, as ’n menslike wese identifiseer. Om presies te wees, ek het te doen met een van my kollegas, wat wil weet wat se boek ek vashou. Ek glo nie hy sal my verstaan as ek hom in die taal van die gode antwoord nie, dus sê ek vir hom in plein Afrikaans: “Breyten Breytenbach se die ysterkoei moet sweet.”

“Wel, laat ek gou kyk daarna,” sê hy, en gryp die boek uit my hand.

Hy maak die boek oop, en soos ek gedoen het in die winkel, begin hy van die eerste bladsy af lees. Omdat hy ’n gebore Afrikaner is, lees hy makliker en vinniger as ek, maar soos hy by die tweede bladsy kom rek sy oë wyer en wyer. Vir ’n oomblik dink ek dat ons dalk sielsgenote gaan wees, maar op hom het Breyten se woorde ’n heeltemal ander uitwerking:
“Wat de fok gaan hier aan?” sê hy, “Dis mos nie in gedig nie maar ’n klop kak! Dit rym dan nie eens nie.”

“’n Gedig hoef mos nie altyd te rym nie,” probeer ek sê, maar hy hoor my glad nie en val my in die rede: “Vat dit terug, en sê vir hulle hulle moet jou geld teruggee.”

“Ek stem heeltemal saam,” sê ons baas, Oom P, wat al die tyd daar was, maar van wie ek nou eers bewus word.
“Geen ordentlike mens sal sy boeke lees nie,” hou Oom P aan, “ Hy is dan ’n kommunis. Weet jy dan nie dat hy in die tronk sit vir hoogverraad nie?”

Ek laat my kop hang en maak asof ek fokkol weet. Saggies antwoord ek hom met ’n nee.

Maar nou, soos ek veertig jaar na die tyd hier sit en my herinneringe probeer neerskryf, wil ek vir jou, Oom P, my opregte en deurdagte antwoord gee. Of jy nou ses voet onder die grond lê, en vir die wurms ’n feesmaal geword het, of anders dalk in ’n rystoel sit in ’n ouetehuis en na jou laaste asem snak, wil ek vir jou, liewe Oom P, met opgeligte hoof en sonder enige aarseling sê dat ek vere voel vir waaroor Breyten in die tronk gesit is. Wat my aanbetref is hy ’n profeet tussen die Afrikaners, en dit is jy en jou soort, Oom P, van wie hy praat wanneer hy van die “sluwe bitter eende” skryf wat “op (sy) graf kak in die reën”.

En verder wil ek vir jou nog net dit sê, Oom P, dat ek jou woorde nooit sal vergeet nie, toe jy my gewaarsku het teen “kunstenaars en ander leeglêers”, en dat ek bly en dankbaar is dat ek nooit jou sogenaamde sobere wysheid aanvaar het nie. Ek het geleer om jou raak te sien vir wat jy rêrig is, naamlik die volmaakte argetipe van die “gewone” mens, teen wie se waardes alle mense, wat ’n bietjie verbeelding het, gewaarsku moet word. En laastens, liewe Oom P, hier volg my tesis, wat nie gekoppel is aan enige universiteitsgraad of fakulteit nie, en wat dalk ’n bietjie te kort en te kragtig is volgens jou smaak, iets wat jy selfs as kras en kru sal beskou, maar wat die verskil probeer uitwys tussen jou en jou soort, en die kamp waarin die sogenaamde “afwykendes en dromers” behoort:

Wees versigtig in die teenwoordigheid van die gewone mens, wat in die newel staan en nie verder as sy neus kan sien nie. Alhoewel hy kan lees, neem hy alles letterlik op en is dan teleurgesteld dat hy boggerol kan verstaan. Hy is blind en dring aan dat jy die woord vir hom moet interpreteer. As hy ’n interpretasie nodig het, dan was die woord dalk in die eerste plek nie vir hom bedoel nie, en dit is dan hoe daardie fokop ontstaan wanneer die blindes gelei word deur die blindes (my apologie aan alle geestelikes).

Die gewone mens beskou homself as goed, en indien nie goed nie, dan minstens as bevredigend. Dis hoekom hy klaar oortuig is dat daar ’n plek vir hom in die hemel wag, waar die Almagtige vir hom gaan glimlag en hom op sy skouer gaan klop. Ten spyte daarvan is dit hy wat in elke land sy profete stenig, en die een oomblik ’n palmblaar waai en “hosanna” skreeu, en die ander oomblik sy verlosser kruisig. Dis ook hy wat al te maklik sy gewone klere vir ’n uniform verruil en agter ’n vlag aanmarsjeer. Al marsjeer hy in tred met die res, en voel hy uiters verhewig, besef hy min dat hy later die oorsaak gaan word van “‘n gehuil en gekners van tande”, en die tipe tragedie wat Breyten Breytenbach so raak beskryf as “’n jood onder ’n piramide van jode”.

In sy mees onvoorspelbare toestand, (en glo my, meesal is hy uiters voorspelbaar!), is dit die gewone mens wat vir Casper de Vries sal wil opblaas, omdat hy hom wil wreek op iemand wat hy glo“op die verkeerde pad” is. Min besef hy dat dit onmoontlik is om Casper op te blaas, want hy is ’n komediant en nie ’n “flipping” ballon nie. Casper gebruik humor om ons te laat lag, want hy weet, soos alle normale en intelligente mense, dat humor een van die beste medisynes is om al die kak in die wêreld ’n bietjie meer verdraagsaam te maak.

Dis ook die gewone mens wat jou skeef sal aankyk as jy droom. Hy weet fokkol van drome, en het hoogstens verwagtings, en omdat jou drome bots met sy verwagtings, sal hy jou veroordeel en verdoem. Hy is ’n polisieman en ’n “pilaar van die gemeenskap”, en niemand durf aan die struktuur van die gemeenskap raak nie. Die gewone mens kan net terugkyk, homself met verouderde wette verskans, en op dié manier sy eie tronk daarmee bou waarin hy dan glo dat hy veilig en gelukkig is. Dit is sy ideaal, en gevolglik onversoenbaar met die droom van die dromer.
Maar jy wat waag om te droom, weet dat daar sonder drome geen toekoms moontlik is nie, want drome beteken verandering, vryheid en verlossing. Al wat nodig is om te onthou dat die dromer ook moet leer om dapper te wees, en nie terugskrik vir wat Breyten Breytenbach “bloed, spoeg en sperm” noem nie, ongeag of jy so ’n idioom letterlik of figuurlik opneem. En dan word alles wat jy onder “die goeie, die mooie en die ware” verstaan, skielik soos ’n wonderwerk moontlik.

“Bloed, spoeg en sperm” en “die goeie, die mooie en die ware” is nie onversoenbaar met mekaar nie, maar slegs ’n bewys vir die dromer dat hy dit reggekry het om in twee wêrelde gelyktydig kan funksioneer. Die geheime teken van hierdie twee wêrelde is twee reguit strepe, die een horisontaal en die ander vertikaal, ’n teken wat ons al vir meer as tweeduisend jaar as vanselfsprekend beskou en nog steeds misverstaan. Dit is die teken waarop alle ware dromers vir ewig gekruisig is. Soos hulle daar hang, is hulle besig om vir die prys van hulle drome te betaal, nie noodwendig met ’n kroon van dorings op hulle koppe en ’n gebroke liggaam nie, maar met glimlaggende gesigte en vol lewenslus, want hulle doen dit uit eie keuse.

  • 6

Kommentaar

  • Ivan

    Ek het hiervan gehou.

    Daar is immers twee tipe dromers.  Die een wat net steriel idealisties bly sonder enige sigbare nalatenskap van sy drome, en die ander wat sy drome in werklikhede omskep en 'n impak  op die samelewing het.

  • Die "gewone mens" is die samelewing waaruit die deur hulle gekruisde profeet Kovács herrys het.

     Profeet Kovács,

     Hoe lyk die ysterkoei nou ?

    Kan jy ons verseker dat jou droom nie ook soos 'n kaartehuis inmekaar sal moer nie? 

    Dat jou visioen nie in bloed, spoeg en derms sal eindig nie ?

    Dat die goeie, die mooie en die ware nog soos 'n wonderwerk moontlik is ?

     Raed-na-Gael

  • Linda Henrietta Muller

    A little bit if madness is divinest sense
    It is the majority as always that prevails
    Assent and you are sane
    Demur and straightway you are dangerous and handled with a chain
    - Emily Dickenson

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top