Die Nasionale Kruger Wildtuin met sy ryk dierelewe word beskou as een van die gewildste wildkykplekke in Suid-Afrika. Daar is ’n verskeidenheid diere, groot en klein. Van die olifant wat tot die Elephantidae-familie behoort en as grootste soogdier bekend staan tot die malariamuskiet Genus Anopheles wat net 1cm lank is, alhoewel nie die kleinste.
Hierdie foto’s is warm uit die oond. En is dit lekker om te weet dat hierdie pragdiere tans nog lewend met ons is. U kan gerus tydens die Desember-vakansie daar ’n draai gaan maak om die diere se prag en skoonheid in lewende lywe te waardeer. Die foto’s is geneem oor ’n naweek in Junie, en is die Kruger so volop diere dat ’n kennersoog maklik in twee dae se tyd die Groot Vyf oor en oor kan kiek.
HELLO DAGGA BOY: Hierdie Buffel het nuuskierig opgekyk toe ons nader beweeg. Hy is moontlik uit die trop geskop en loop saam ander “dagga boy’s” rond. Die lewensmerke op sy horings en vel spreek van vele onderonsies met ander bulle en roofdiere. Alhoewel hy geensins aggressief vertoon, moet hy nie onderskat word, hul is een van die wêreld se mees gevreesde diere.
MODDERBADTYD: Die middag was snikkend warm en hierdie olifant onder kon nie wag om in die water te gaan rondplons nie. Haastig en slurp swaaiend het hy aangedraf gekom, en was ek te dankbaar vir die water tussen ons. Daarna het hy ’n verfrissende vertoning gegee van waterblaas en modderbad. Olifante het eens op elke groot landmassa op aarde voorgekom, maar vandag is daar net die Indiese olifant, die Afrika-bosolifant en die Afrika-woudolifant oor. Suid Afrika is bevoorreg.
KOEDOESTRATEGIE: Let op die pragtige wit chevron van die koedoe tussen die oë. Hulle is die hoogspringkampioen van die soogdiere en sal grasieus sonder ’n aanloop gemaklik oor ’n 2.5 m hoë heining spring. Hierdie een spog met ’n manjifieke paar spiraalvormige horings. Enige trofeejagter se droom.
“KLOU TJOMMA, KLOU!” Snou die bobbejaanwyfie hieronder na haar kleintjie voor hulle laat spat. Volgens die boude-styl kan jy sien tjomma is opreg geteel. Die luiperd is hul aartsvyand wat pandemonium kan veroorsaak en die trop histeries sal laat wegsketter uitmekaar.
OOG VAN DIE AREND: Bo regs vertoon die roofarend sy goudbruin kleur en geel streep langs die snawel teen ’n hemelblou agtergrond. Hul dra die hartseer storie van die kuiken wat eerste uitgebroei word, wat die jonger een gewoonlik doodmaak.
REëNDANS: Onder word die vlerk-vlug van twee reiers uitgebeeld. Kyk net die vere-vingers op die punte van die vlerke wat op die wind sweef – net soos ’n vliegtuig. (Of is dit andersom.) Langsaan is ’n bloureier wat ’n krap gevang het met sy kenmerkende geel snawel. Alhoewel hulle visse kan vang wat tot 110g weeg, verkies hul iets kleiners.
GOUD IN DIE MOND: Heelwat later die aand het ons hierdie voël onder se eensame beeld vasgevang op prent, terwyl die son alles om hom in goud gekleur het. Misdampe het oor die warm waters begin vorm en ’n misterieuse spookagtige omgewing geskilder.
KNIBBELENDE KNERSERS: ’n Kameelperd knaag aan ’n doringboom se nuwe blaartjies tussen die dorings wat na die eerste reëns uitloop. Die kameelperd is die natuur se wolkekrabers en word gesien as die hoogste dier in die wêreld. Om te keer dat die brein bars tydens kop oplig of dat die bloed te vinnig afstroom tydens water drink, het die nekslagaar spesiale kleppe wat die bloed beheer.
KROKODILEILAND: Hierdie seekoei wat uit die water klim trap versigtig tussen al die krokodille. Seekoeie en krokodille verdra mekaar slegs as die watermassa genoegsaam is. Moenie dat die seekoei se komieklike bou of vreedsame voorkoms jou flous nie. Hierdie enorme amfibiese soogdier kan soms woedend storm. Die gaap van die seekoei is in werklikheid ’n aggressiewe gebaar.
VERRASSING IN ’n BOTTEL: Hierdie bobbejaan onder byt ’n plastiekbottel oop wat iemand na hom gegooi het. Opsoek na die nektar wat mense drink vasgevang in houers. Met hul kragtige bou en groot tande kan die mannetjiesbobbejaan tot die dood toe met mekaar veg. Mannetjies lei die bewegings van die familiegroep, inisieer paring en verdedig hoofsaaklik die trop.
LEEUS OP DIE DUINE: Nee, hierdie duin is baie vêr van die see af en is net ’n hoop sand naby aan die Olifantsrivier. Die rustigheid van hierdie trop was vredevol en kon ons kiek en kiek. ’n Goeie lens trek diere heelwat nader, aangesien hierdie trop vêr van die pad af was.
TRIPPE-TRAPPE-TRONE: Hierdie wals van die voël onder op die sementdam is nie verniet nie. Kan jy die akkedis regs onder in die foto se hoek sien? ’n Spel om lewe en dood. Langsaan is ’n bloukoggelmander. Kyk net na die ongelooflike kamoeflering. Slegs wanneer jy ingestel is op hierdie klein diertjies, sal jy hulle in die Kruger raaksien, aangesien die groter diere soveel meer aandag trek.
VINNIG KOEKELOER: Hierdie hiëna-kleintjie het onder die teerpad in ’n waterpyp weggekruip. Hulle was ’n groot werpsel, maar was ons gelukkig om hierdie een te sien wat moed gevat en kort-kort uitgeloer het. Later die aand toe ons weer daar verby ry was die res van die trop ook daar. Hierdie diere is die vullisverwyderaars van die Wildtuin omrede van hul verstommende eetlus. Selfs menslike oorblyfsels sal opgegrawe en gevreet word.
.jpg)
DORINGBOOM-VERSIERING: Die troupant is ’n voël wat met die mooiste kleure spog. Lilakleurige bors met wit strepe en vlerkrande wat ’n helderblou weergee. Hierdie voëls is lief vir die droë en oop bosveld. Hulle het ’n kenmerkende tuimelende pronkvlug wanneer hul met byna toegevoude vlerke val en maak ’n skor-roep-geluid wat glad nie by hulle skoonheid pas nie.
KOLLEKAT-FLUISTERAAR: Dis nie maklik om ’n luiperd te sien oor ’n kort naweek nie. Hierdie een was baie vêr en lyk die omgewing se herfsblare net soos sy kolle. Die lens kon hom egter nader trek en die begeerte om die volle groot vyf raak te kon sien gedurende die naweek, het ’n vervullende en tevrede gevoel meegewerk.
MOENIE DIE RENOSTER VERGEET: Natuurlik nie. Gebou soos ’n ware oorlogstenk loer hierdie renoster skelm na ons van agter ’n struik. Kliek - het hom! Die renoster se vel kan die kleur van die modder aanneem waarin hy bad, of selfs die kleur van die grond in ’n spesifieke gebied. Mooi kyk – daar is ’n renoster op jou skerm wat hopelik nog die savanna van die Kruger deurkruis.
GEESTESSKILDERY: En dit was aand, en dit was môre ...
Loof die Here, o my siel!
Wat Uself omhul met die lig soos met ’n kleed,
wat die hemel uitspan soos ’n tentdoek
wat sy solders bou in die water
berge het opgerys, laagtes het weggesak –
na die plek wat U vir hulle reggemaak het...
(Ps 104)
Geniet en waardeer die Skepping
Trienie Mahne


Kommentaar
Hello Trienie,
Nieteenstaande die alledaagse eise wat aan ons gestel word, het ons nog baie om voor dankbaar te wees. Ek geniet dit ook om in die Wilde Krugertuin te kuier. Ek geniet trouens alle plekke waar daar wilde diere op is. Ons kyk nou die dag na 'n program op TV toe ek aan my vrou noem dat ons werklik in die paradys woon. As mens die oppervlakte van ons land in ag neem teenoor die res van die wêreld, en mens tel al die soorte plante, gevogeltes en diere, is ons loshande die land met die grootste verkeidenheid.
Beste Trienie,
Dankie vir hierdie ongelooflike- wonderlike versameling van foto's met gepaardgaande teks. Alles is so perfek en profesioneel dat jy dit in boekvorm moet publiseer.
Groete,
Pieter Redelinghuys
"so volop diere dat ’n kennersoog maklik in twee dae se tyd die Groot Vyf oor en oor kan kiek."
Ek weet nie so mooi nie.
Ek het in die 70's gereeld daar uitgekom en die afgelope paar jaar eers weer twee keer daarheen gery. Ek was in die somer en winter daar. Waar ons tydens al die vorige kere saam slegs een of twee renosters op 'n baie ver afstand gesien het, het ons die laaste keer binne 3 dae meer as 30 gesien in die suide van Kruger Wildtuin. Dit was ongelooflik.
Ek het slegs gedurende die laaste twee besoeke ooit 'n jagluiperd gesien; 3 keer tydens die twee besoeke, en die een keer was dit so gekamoefleer in 'n boom dat jy regtig baie mooi moes kyk om dit raak te sien. Nog nooit 'n luiperd gesien nie.
Waar mens normaalweg gelukkig is om ten minste een keer op so 'n vakansie 'n baie groot trop olifante en ook buffels te sien (en soms sommer tussen hulle op te land in die pad - dis dalk nie so gelukkig nie), het ek een jaar, na ons onder in die wildtuin begin het, tussen Satara en Punda Maria nie 'n enkele olifant gesien tydens al daardie ure en myle se ry of by enige van die watergate nie. Slegs hul mishope as teken dat hul wel daar was.Soms kom jy by 'n watergat en dit lyk of die hele wildtuin se diere daar vergader het, ander kere kan jy vir ure daar sit en niks sien nie, of dit nou vroegoggend, smiddags of laatmiddag is. Soms kan jy op die stuk pad tussen Skukuza en Onder Sabie baie troppe (verskillende soorte) diere sien, ander kere weer niks nie, en dan is dit nie omrede jy die verkeerde tyd van die dag kies om te ry nie.
Ek het slegs eenkeer 'n trop wildehonde gesien naby Skukuza en op 'n ander keer 'n enkellopende hiëna naby Onder-Sabie.
Alhoewel goeie beplanning noodsaaklik is, (die meeste diere gaan een of ander tyd by 'n watergat uitkom), is dit maar 'n kwessie van geluk ook. Soms kruis daardie dier(e) die pad net in daardie 3 minute tydsgaping wat jy nie toevallig op daardie plek is nie.
Of dalk ontbreek die "kennersoog." 🙂
Jammer ek moet verskil van die ander.
Mens het al so baie van hierdie gesien dat dit lankal vervelig is, ek is al sat daarvan!
Buitendien, die natuur is gladnie so mooi soos julle sê nie. Dis grof, rof en onbeskof en wrede moorde vind daagliks plaas op groot skaal. Slange, leeus, luiperds en krokodille verskeur en verslind ander diere. Waar is die skoonheid daarin? Julle leef in 'n droomwêreld.
Tiens
NS: Voeg by roofvoëls. Dit is juis die onskuldige, "mooi" diertjies wat altyd die slagoffers is.
Pragtig,Trienie! Ek hou veral van die foto van die sonsondergang met die reier.
Wouter, Jy moet asb gereeld natuur asook vars lug inkry, dis genesend vir die self asook liggaam. Vernaam vir jou. Mens kan nie heeldag net rekenaar insnuif nie!
Reusedwerg? (Glimlag) Ek hou van jou “gevogeltes” wat daar by julle aangetref word. By ons is net voëls.
Pieter R – dankie jou bemoediging. Dis motiverend.
Pieter,
Hoe bedoel jy maar min diere in die Kruger?
Ja wel – jy moet maar jou paaie en omgewing goed ken. Sekere diere hou van sekere areas. Dan stel ek voor ry baie stadig, soos in stadig, nee, nog STA..DI..GER! – (ai, as hul tog net vir my wil luister) want jy moet KYK waar is die klein wild ook. Pasop vir die miskruiers in die pad! Staan baie vroeg op, wag voor die hek. Kom baie laat terug, want net voor sonsondergang kom die katte uit wat wil jag. Dan begin die sports. Die diere praat ook met jou. As die rooibokke senuweeagtig voorkom of blaas, weet daars ‘n kat agter hul aan. Laat los jou stadsmaniertjies en praat met die mense wat van vooraf verby jou ry. Hulle weet wat hulle gesien het. Dierestories versprei vinnig. Kyk na die dierespore in die pad, goeie aanduiding. As die kinders moeg word, los hul in die kamp. Daar is nie ‘n oggend of namiddag rit nie. Daars net EEN rit – ‘n volle dag. Hierdie fotos bo is in die omgewing van Satara en Skukuza geneem. Daar pronk die groot vyf GROOT.
Dankie julle!
Amen....
In die natuur is daar nie moord nie, daar is nie goed of sleg nie, daar is net dit wat binne dit afspeel. Die mens staan van buite en oordeel dit goed en sleg, die natuur is nie vir sissies soos ek nie, sonder enige twyfel, een hap en ek is weg, maar tog is die natuur iets waarna gekyk kan word sonder end en iemand wat moeg is vir die natuur, is moeg vir die lewe en afgestomp vir die vreemdheid van alles hier, die grootheid van dit alles.
In menseterme is die natuur wreed en ongenaakbaar en daarom, as mens, vind ek dit afstootlik. Ek glo ook die wildsbokkies en ander klein onskuldige diertjies geniet dit nie eintlik nie, hulle leef gedurig in vrees en moet rondkyk of daar nie 'n roofdier naby is nie - en dikwels vlug vir hul lewe.
Die natuur - selfs die wrede gebeure, word gedurig in mens se keelgat afgedruk, nes godsdiens. Dis dikwels op TV en in tydskrifte en in sekere programme op TV skep hulle skynbaar 'n behae daarin om te sien en te wys hoe bv 'n leeu 'n wildsbok verskeur. Ek meen die mense wat daarvan hou om dit te sien, is dieselfde tipe wat gevegshonde aanhou en teen mekaar opsteek vir hulle pret.
Ek wonder of Trienie wel sodanig lief is vir diere, want van die koedoe se horings sê sy "Enige trofeejaer se droom." Dink sy dan aan die diere doodmaak ter wille van trofeë en is sy nie lief vir die dier as sulks, dws lewendig, nie?
Tiens
Tiens
Ek weet presies hoe jy dink en voel. Glo my, ek het al menigmaal die 'remote' van die TV neergesmyt en opgestaan met die woorde aan my seun. "Nee, ek is klaar met dierekyk, ek kyk nie verder nie. Dis te wreed..." vernaam as jy nog die verhaal ook van die dier gevolg het.
Maar ek moes leer. Daar is 'n ekologiese sisteem wat homself beheer. Kan jy dink hoe sou ons moes lewe as rooibokke net kon aanteel en in ons strate, skole en werksplekke infiltreer? Wat nog van Olifante en leeus wat oorneem en losgelaat word.
Ek verstaan jou hart Tiens, ek voel net so. Maar net die volgende keer as ek die kolle van die luiperd sien wanneer ek verby die TV loop, trek dit my soos 'n magneet op die stoel af. My asem slaan weg met die woorde: "Seuna, kyk net na daardie geel oë van die Leeu. Voel of hy deur jou siel kyk. Ongelooflik!" net om weer op te spring later met die woorde "ek wil dit eerder nie sien nie." (sug) Skielik het ek baie ander werk om te gaan doen...
Hello,
Ek is baie lief vir die natuur en het het die foto's baie geniet. Ek wil egter noem dat die foto van die 'troupant' vir my baie lyk na 'n bruinkopvisvanger. Help my reg as ek verkeerd is.
Dan praat een persoon van die jagluiperd wat hy in die boom gesien het. Was dit nie dalk 'n luiperd nie? Ek vra maar net.