Beste Johannes
Soos Jan Rap, en vir dieselfde redes deur hom aangegee, verkies ek ook om in ’n nuwe skrywe die debat rakende Afrikaner-belange voort te sit. Wat vir my betreurenswaardig is is dat die steriele debat rondom godsdiens hier op SêNet die belangstelling oorheers, eintlik oordonder. Ek verseker jou, as gevolg van vorige ondervinding, dat enige debat rakende die Afrikaner min of geen belangstellende reaksie gaan uitlok. En indien wel, geskied dit op ’n heulende verskil in politieke sieninge en persoonlike aanvalle deur Afrikaners op mede-Afrikaner onderling. Dan verval hierdie debat ook, soos die godsdiensdebat, in steriliteit.
Soos ek die Afrikaner deur persoonlike gewaarwording sien, en ek verkeer letterlik met honderde van hulle maandeliks as gevolg van my beroep, het hulle ’n eendersheid, nieteenstaande onderlinge, selfs hewige, verskille, wat baie sal verstom. Liefde vir sy taal. Liefde vir sy Afrikanerskap. Vir die godsdienstiges, liefde vir sy Afrikaner-gemeente, ongeag kerkgenootskap, baie waarvan van Engelse/Amerikaanse oorsprong selfs heet. Sy geheime (in die meerderheid gevalle) hartsugting vir ’n eie vaderland onder Afrikanerbeheer. ’n Pragmatiese benadering tot die veranderende samelewing om as indiwidu asook as deel van die Afrikanergemeenskap te kan oorlewe.
Jy skryf: “Die wittes wat sowel die reg om hier te bly as selfbehoud kies, het dan eintlik net een opsie vir groepsvoortbestaan, naamlik ’n eie vaderland”
Met betrekking tot ’n eie Vaderland, is daar ’n enkele faktor wat onoorbrugbaar blyk te wees, nl trek ’n 20km sirkel om enige indiwiduele Afrikaner, enige deel van die land, en hy bevind homself as Afrikaner, ’n minderheid binne daardie sirkel. Logistiek blyk daar geen moontlikheid om die situasie tot eie voordeel te kan verander nie.
Die Kanton-moontlikheid is ook ondersoek, veral in gebiede soos Pretoria-Oos / Centurion, maar die skep meer hoofbrekings as wat dit op die ou einde van enige praktiese waarde vir die Afrikaner sal voorsien. Kantonne, oral in die land, Afrikaner-eilande in ’n swart see. Pleks van kantonne, sal hulle mettertyd in ghetto’s verval. Afrikaner-tronke. Orania is ’n tipiese voorbeeld daarvan.
Tans bestaan daar geen haalbare bloudruk vir Afrikaner-selfstandigheid nie. Nadelige omstandighede is wel besig om die Afrikaner te dwing om vir oplossings te soek. Vir die eerste keer sedert 1994, is daar roeringe aan die gang, tans deur Solidariteit en AfriForum aan die spits. Die meerderheid Afrikaners sit steeds op die sylyne om te sien hoe die wind vir hom waai, alvorens hy sy meerderheid ondersteuning gaan gee. Maar alle aanduidinge is, dat dit aan die gebeur is, en sodra dit werklikheid word, gaan nie teruggekyk word nie.
Jy skryf ook: “Tans is daar net een opsie wat daadwerklik deur wittes toegepas word, naamlik uitwyking/verspreiding na ander lande, dus emigrasie; die skepping van diaspora.”
Hierdie was waar ’n klompie jare gelede met die oorspronklike aanvang van regstellende aksie, maar kan nie meer soseer gesê word nie. Met die inkrimping van ekonomiese groei in die lande waarna Afrikaners uitgewyk het, is baie besig om hulle pad terug te vind met nuwe neringe daar aangeleer, om eie praktyke hier te bedryf.
Verder ook: “Op die langtermyn beteken dit vir hulle (nageslag) assimilasie; nie noodwendig bewustelik nie, maar weens verswelging.”
Ek is nie eenders met hierdie siening nie. Daar is te veel voorbeelde wêreldwyd van ander kulture wat nie deur die meerderheid verswelg was nie. In die VSA het jy “Chinatown” “Little Italy” “Irish ghettos” “Little Japan”, ens om net ’n paar te noem. Hier in SA is die Indiër-minderheid nie deur die meerderheid verswelg nie. Hulle is deel van die land in alle opsigte, tog kultureel apart. Vir ’n minderheid is hulle nog verder in verskillende kulture met verskeie tale verder onderverdeel, voorbeelde, Gujurat, Hindi, Tamils, ens soortgelyk aan die Afrikaner / Engelse indeling onder blankes.
Om verder uit te brei oor Afrikaner-eendersheid, wat hom in hierdie land insulêr sal behou, is: ’n Wrewel teen die aantasting van sy taal, kultuur en infrastruktuur deur buitestanders; ’n verafskuwing vir die barbaarse optredes van ander in hulle stryd om hulle doelstellings te bereik ten koste van ander; ’n verafskuwing vir die gebrek aan werksetiek deur die meerderheid wat alles verniet op ’n skinkbord verwag, en indien nie gegee word nie, met geweld af te vat. Selfs die Somalis wat hier met niks arriveer en deur middle van hulle eiesoortige produktiwiteit doen beter as die plaaslikes, tot so ’n mate dat hulle geteiken word om deur middle van gewelddadig beroof te word.
Neewat Johan. Die Afrikaner, vandat hy sy voet hier in Afrika geplant het, het verswelging deur die hordes in die gesig gestaar, en het bly oorleef. Dit is nie ’n nuwigheid nie, net in ’n ander vorm, met nuwe uitdagings wat ons, soos in die verlede, sal oorwin.
Jaco Fourie


Kommentaar
Beste Jaco
Ek stem in so ’n mate met jou standpunt saam dat ons twee kwalik ’n debat hieroor kan voer. Ek wil net drie sake aanspreek. Eerstens die moontlike oorlewing van verspreide klein groepies. Afrikaners het as groepe nie in Argentinië/Patagonië, Angola, Kenia en Rhodesië oorleef nie. Wel in ’n mate in Namibie. Die Indiërs is ’n goeie voorbeeld van ’n groterige groep wat tot dusver wel in Suid-Afrika oorleef het. Maar baie Indiërs (soos die uitgedunde groepie Jode wat steeds hier is) onderskryf die meerderheidspolitiek (of gee voor dat hulle dit doen). Enersyds is die vraag vir hoe lank groepsoorlewing moontlik sou wees. Andersyds is die vraag of daar onder die wittes, veral die Afrikaners, in dieselfde mate ’n eenheidsgevoel gekoester word en of hulle in dieselfde mate die vermoë en begeerte het om as ’n groep te oorleef.
Tweedens die kwessie van ’n vaderland vir wittes, veral Afrikaners. Hier is dit nodig om te onderskei tussen enersyds die wenslikheid en andersyds die praktiese uitvoering daarvan. Om oor die wenslikheid te debatteer, is myns insiens onnodig. Die nuwe Suid-Afrika is nie ’n leefbare omgewing vir ’n Westerling nie. ’n Eie vaderland sal (feitlik) noodwendig ’n groot verbetering wees. Die "apartheidsregime" het talle tuislande aan die swartes gegun. Die swartes het ’n reuse gemors daarvan gemaak. Nie net dit nie, die hele nuwe Suid-Afrika is nou in ’n soortgelyke tuisland omskep. Ek is nie die enigste persoon met hierdie waarneming nie; RW Johnson het tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Die punt is: As die "apartheidsregime" tuislande aan die swartes gegun het, waarom sou die nuwe heersers, wat meesal hoogs menswaardig voorgestel word, so onmenslik wees om dieselfde voorreg aan wittes te misgun?
Die praktiese vergestalting van ’n eie vaderland is meer problematies. Die staat Israel het eers na baie dekades van stryd tot stand gekom en dit verg voortdurend groot opoffering om Israel in stand te hou. Daar is ’n gesonde kern van Jode wat die durf het om hulle nie te laat onderploeg nie. Daarby ontvang Israel groot steun van buitelandse regerings en van welvarende Jode in talle lande. ’n Vaderland vir wittes, veral Afrikaners, sal (seker) nie op ’n soortgelyke veiligheidsnet kan steun nie. Die ander vraag is natuurlik of daar genoeg eensgesindheid en durf in Afrikaners is om so ’n onderneming te laat slaag.
Derdens is dit so dat daar sedert 1652 nog altyd wittes was wat oorleef het ten spyte van die talle wat vermoor is. Dit is so dat daar nog altyd hordes was wat die wittes vyandig gesind was. Sedert 1990/1994 het die situasie egter aanmerklik versleg. Die wittes is nou nie meer in beheer nie en die verswelging vererger daagliks; nie net weens "natuurlike" aanwas nie, maar ook weens die hordes inkommers.
Johannes Comestor
Dit is nogal verfrissend om die sterk pro-Afrikaner idees van sowel Jaco as Johannes hier op SêNet te sien.
Al stem ek nie met elke ding saam nie, het ek waardering vir die breë stellings oor die Afrikaner en sy toekoms wat beide gemaak het.
Maar ek het tog ’n mate van kommer oor Jaco se optimisme – maar veral sy gebrek aan ’n duidelike beleid of plan om die toekoms van die Afrikaner ’n bietjie te verseker en aan te help. Om dit net te stel dat die Afrikaner nog altyd teen die oormag van hordes oorleef het, is waar, maar daar is deesdae ’n groot verskil – toentertyd (selfs na die geweld van die Britse hordes) was die Afrikaner in beheer van sake. Hy kon sy eie toekoms grotendeels skep en verseker (behalwe miskien in die tydperk van '39-48).
Vandag is dit totaal anders. Die Afrikaner is nie alleen NIE in beheer nie – hy het hoegenaamd geen seggenskap oor sy toekoms nie! Die dinge waaroor hy in die verlede nog kon op terugval, word weggekalwe soos sy skole – en deesdae selfs sy kerk (verwys Belhar).
Daar sal dus ander instellings, metodes, planne gevind moet word om oorlewing van die Afrikanervolk moontlik te maak. En dan vind ek Jaco se afwysing hier en elders teenoor ander instansies as Solidariteit/Afriforum teleurstellend, selfs skokkend. Genugtig, hy verwerp selfs die konsep van Orania!
Ek het waardering vir wat Afriforum doen oor kwessies soos Afrikaans in skole, die naam van Pretoria, ens. Dit is goeie buite-parlementêre optrede. Maar daar sal baie meer gedoen en beplan moet word as protesaksies – en dit sal in samewerking met ander organisasies gedoen moet word. Op die oomblik is die enigste aksies wat as beduidend of dalk prakties beskou kan word, die dinge wat Jaap Kelder aangevoer het om ’n soort van ’n kantonstelsel te skep. Hy word sterk gesteun deur ’n beduidende aantal groepe wat soms sterk van mekaar verskil. Maar Afriforum skitter in sy afwesigheid!
Dan is my vraag: waarheen wil Afriforum? Het hy ’n beduidende, dalk werkbare plan vir die toekoms?
Wil hy – met Willie Spies aan die spits – die VF+ as politieke party vervang of is hy bereid om die VF+ te laat voortgaan om in die Parlement ’n rol te speel, terwyl hy (Afriforum) buiteparlementêr optree? As Jaco dink dat hulle dinge op hul eie sal kan doen, maak hy ’n ernstige fout. Dit het tyd geword dat alle Afrikaanse organisasies – hoe gering ook al in ondersteunersgetalle – saam praat, saam dink, saam beplan. Dit sluit selfs die godsdienstige bekrompe VVK, die verregse Israelvisie, Dan Roodt se Praag en my ou onbeduidende Vereniging van Vrydenkende Afrikaners in.
Ek word by die dag meer pessimisties oor die toekoms van die Afrikaner in hierdie land – onder meer oor die gebrek aan samewerking – nee, eintlik openlike vyandigheid wat daar heers. Miskien is emigrasie en die skep van Afrikaner kolle (dalk ghetto's?) dan die enigste oplossing. Ek gee elke dag vir die jonges in ons familie die raad om hulle voor te berei en beroepe na te streef wat hulle in staat sal stel om enige plek in die wêreld te werk – en hulle lewens so in te rig dat hulle vinnig sal kan padgee.
Beste Johannes en Thys.
Johannes.
Heel tereg. Afrikaner-kolle in die buiteland het wel gekwyn of tot niet gegaan, elkeen om verskillende redes. Humbate in Angola, weens die burgeroorlog daar, en die terugbeweeg na Namibia, eintlik deur die S.A. regering omgekoop om terug te keer; Eldoret in Kenya as gevolg van Mau-Mau moorde; Rhodesia en Zambia, as gevolg van swart oorname. In Afrika kon hulle behoue gebly het, maar Afrikaner Suid Afrika van die tyd was op die ou einde ’n sterker heimat. Met betrekking tot Argentinia, was dit beslis ’n geval van assimilasie, verswelging deur die meerderheid. In laasgenoemde geval was dit verswelging van blankes deur blankes, soortgelyk aan wat uiteindelik gaan gebeur met Afrikaners in Australia; Kanada; VK; en Nieu-Zeeland.
In S.A. onwaarskynlik, weens die feit dat die Afrikaner nie ’n onbenullige minderheid is nie. 4mil is beslis nie te versmaai nie. Naas Suid Afrika, het Algeria die tweede grootste blanke inboorlinge gehad. Met die Algerynse oorlog, het omtrent almal (Franse burgers) net oorkant die Middelandse-see na Frankryk gevlug. Afrikaners het nie hierdie “backup” nie en sal in geheel moet staan of val hier in S.A.
Thys.
Jy skryf: “Maar ek het tog ’n mate van kommer oor Jaco se optimisme – maar veral sy gebrek aan ’n duidelike beleid of plan om die toekoms van die Afrikaner ’n bietjie te verseker en aan te help”
Ek het my eie “pet” teorie. Indien nie ’n volksstaat haalbaar nie, dan, “if jou can’t beat them, then join them”, benadering. Moontlikhede vir selfbeskikiking waaroor ek al voorheen geskryf het. (1) ’n Eie buiteparlemenêre “Raad” binne die huidige politieke bestel van die NSA, wat verteenwoordiging in die Raad van Tradisionele Leiers setel het. (2) ’n Virtuele Staat, waar grondgebied nie ter sake is nie. Waar Afrikanerbelange met Afrikanergeld gefundeer word. (In die argief is boekdele deur my oor hierdie onderwerpe reeds geskryf sonder om weer hier te herhaal).
“Om dit net te stel dat die Afrikaner nog altyd teen die oormag van hordes oorleef het, is waar, maar daar is deesdae ’n groot verskil – toentertyd (selfs na die geweld van die Britse hordes) was die Afrikaner in beheer van sake.”
Wat keer die Afrikaner om weer in beheer van sy eie toekoms terug te neem? Afrikaner selfbeskikking van die verlede het nie op ’n skinkbord plaasgevind nie. Daar was aan gewerk en opofferings is gemaak. Indien gedurig op die huidige staat te steun, welke steun ontbreek, sal die Afrikaner nie in beheer van sy eie sake wees nie. Die benadering voorts moet wees private Afrikaner ondernemings. Private skole, universiteite, ens. ’n Staat binne ’n staat.
“En dan vind ek Jaco se afwysing hier en elders teenoor ander instansies as Solidariteit/Afriforum teleurstellend, selfs skokkend. Genugtig, hy verwerp selfs die konsep van Orania”
Ander instansies heul tans teen Solidariteit / AfriForum, veral onder die verregse groeperinge, o.a. Dan Roodt. Nou waarom die skok? Dit bly ’n skande dat hulle nie hulle samewerking vir Solidariteit maar eerder afbrekende kritiek te gee? Met betrekking tot Orania. Ek het geskry in die kanton konteks, waar indien ’n kanton onafhanklik is, en die NSA regering besluit om sodanige grens te sluit, dan word sodanige kanton ’n Afrikaner tronk met finansiële ontbering in die vooruitsig. Inteendeel ek bewonder die Afrikaners van Orania. Hulle het nie net gepraat soos die ander nie maar het daad by die woord gevoeg. Hierdie siening van my insake Orania is op record. Ook op record is Dan Roodt se afkeur vir Oriania.
“Jaap Kelder aangevoer het om ’n soort van ’n kantonstelsel te skep.”
Sover my kennis strek is Jaap se benadering daarop gemik om dienste van die munisipaliteite af te dwing. Nog nie van politieke kantonne uit sy mond gehoor nie. Hy self het gesê hy werk vir beide wit en swart belastingbetalers, albei sy ondersteuningsbasis.
“Dan is my vraag: waarheen wil Afriforum? Het hy ’n beduidende, dalk werkbare plan vir die toekoms?”
Die verregse groeperinge se bloudrukke is vir hulle in klip vasgelê, voorskriftelik en onverdraagsaam. AfriForum in teenstelling is tans besig om die tradisionele Afrikaner infrastruktuur in te palm, nl Taalraad; ATKV; Afrikaanse onderwysunies; Afrikaner sakekamers, ens. Nie enige van die regse groeperinge kan daarop aanspraak maak nie. Sodra die “hedgemony” van Afrikaner belangegroepe gevestig is sal Afrikanertoekoms onderling uitgehamer word. Die groot verskil tussen hulle en die VVK en die se groeperinge is finansies. Die VVK se groeperinge het nie die geldelike middele om enigiets vir die Afrikaner te kan vermag nie. AfriForum met sy vennote is finansieel sterk. AfriForum het dit bewys deur middel van die duur hofgelde in Afrikanerbelang uitgegee. Geen ander Afrikaner-groep kan daarop aanspraak maak nie.
“Dit het tyd geword dat alle Afrikaanse organisasies – hoe gering ook al in ondersteunersgetalle – saam praat, saam dink, saam beplan. Dit sluit selfs die godsdienstige bekrompe VVK, die verregse Israelvisie, Dan Roodt se Praag en my ou onbeduidende Vereniging van Vrydenkende Afrikaners in”.
Dit is ook AfrForum se verklaarde siening. Die verskil is dat van hierdie organisasies reeds te kenne gegee het hulle wil nie met Afrikaners praat wat volgens hulle siening “liberaal” is, en AfriForum is al as sulks deur van hulle beskuldig.
Thys. Doen jouself ’n guns. Volg AfriForum op die internet, en sien werklik wat hulle doen, hulle alliansies, en wat hulle doelstellings is. Jy praat toegeeflik, maar ek kom agter dat jy vanuit ’n vooropgestelde vooroordeel die saak beskou.
“If nothing happens, nothing happens. You have to DO something to make something happen!”
Jaco Fourie