Afrikaanse Musiek: Eiendoms (Beperk) – (Groot op gelukkige Eiland)

  • 4

Vat ’n konsep wat gelaai is met sentiment. Vat byvoorbeeld Afrikaans, ’n “bedreigde” taal. Maak ’n handelsmerk daarvan deur dit te koppel aan jou produk en siedaar, jy’t ’n besigheid. Nou het jy ’n beherende aandeel in een van die sterkste handelsmerke in die land. Afrikaans. “Ons praat jóú taal. Vir seker.” Afrikaanse musiek het in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf ’n kollektiewe begrip geword. Maar dié begrip het in die media, by konsertpromotors en in die kleinhandel beperk geraak tot ’n spesifieke genre. En dit sluit beslis nie álle musiek met Afrikaanse lirieke in nie.

Een kykie na die prospektus hier onder en trotse Afrikanerharte klop vuurwarm Babytjoklits:

Korporatiewe SA koop in. Big Time. Met Jacaranda 94-97, Pick ’n Pay en Media24 se Rapport, Sarie en kykNET wat as borge hierdie prospektus onderskryf. Selfs al is die primêre eksponente agter hierdie handelsmerk (ek praat nie van die musikante nie) nou nie juis mense wat Afrikaans as huistaal besig, of enigsins ’n traan sal pik as Afrikaans verdwyn nie. Dit kan die onderskrywers van hierdie handelsmerk ook min skeel dat daar miljoene Afrikaanssprekendes is wat hulle glad nie kan vereenselwig met die verpakking en beperkte handelsmerk-definisie wat deur hierdie prospektus aan Afrikaans toegedig word nie. Miljoene Afrikaanssprekendes luister eenvoudig nie uit vrye wil na dit wat deur die beperkte rytjie wit gesigte op hierdie prospektus gesing word nie.

Kagiso Media en Pick ’n Pay se onderskrywing van hierdie handelsmerk kan mens verstaan. Dis besigheid. Om sentiment in die mark uit te buit is nie onwettig nie. Net so geldig is die chutzpah van die organiseerders van hierdie konsert. Respek en “hats off”! Hulle is uitstekende entrepreneurs wat ’n geleentheid raakgesien het. Daar is ’n goedgelowige sektor van die “Afrikaner”-mark en dit moet ontgin word. Wat betref Media24 se onderskrywing van hierdie handelsmerk: dié mark en die handelsmerk is primêr die produk van ’n Afrikaanse mediamonopolie.

Hoe het ons hierby gekom – waar kom dit vandaan?

Boetie, dit kom ’n lang pad. Histories was Naspers die hanslakei wat as meningsvormer die beeld en beleid van die Nasionale Party (NP) moes bevorder. Die NP en sy beleid om tussen mense te onderskei volgens ras, kleur, kultuur en geloof het uitgedien geraak. Die NP het verdwyn. Naspers het Media24 geword, maar die eertydse politieke grense tussen verskillende bevolkingsgroepe word vandag steeds elke dag duidelik gesien in die definisie en begrensing van verskillende teikenmarksegmente van hierdie mediagroep. Sedert die opkoms van ’n samehorigheidsgevoel onder wit Afrikaanssprekendes is daar ’n voorliefde vir groot saamtrekke. Veiligheid in getalle. Geleenthede hiervoor word geskep met die inhuldiging van monumente, rugbytoetswedstryde, politieke saamtrekke, mannechristene-saamtrekke of skouspelagtig groot musiekkonserte. Dis ’n normale verskynsel wêreldwyd.

So is daar deesdae konserte waar Huisgenoot se definisie van Afrikaans as ’n musiekgenre aan ’n beperkte teikensegment van die Afrikaanssprekende mark opgedis word. Dit is opmerklik hoe die kultuur en taal in bemarkingsterme eksklusief toegeëien word deur, en gerig word op, ’n eksklusiewe groep Afrikaanssprekendes. Afgesien van velkleur en geloof (gospelmusiek figureer sterk) is die gemene deler by hierdie gehoor ’n kollektiewe musieksmaak wat nie juis op soek is na nuwe klanke en style nie. Ter wille van nostalgie en kaartjieverkope moet dinge liefs nie verander nie. Gaan staan maar by die deur van ’n Huisgenoot Skouspel-konsert en maak self ’n bestekopname van die algemene profiel van die toeskouers. Op vanjaar se lys van kunstenaars is daar wel ’n klein minderheid niewit gesigte. Die gehoor bly egter eksklusief wit middeljarig. Almal voel en lyk en dink en klink dieselfde.

Ná die konsert is daar Skouspel-CD’s en -DVD’s wat met mening bemark moet word. Media24 het nou ’n belang in die beeld van Skouspelsangers en dit gaan op tydskrifte se voorblaaie en in koerante en op kykNET bemark word. ’n Newe-effek hiervan is dat die media nie meer geglo kan word wanneer dit kom by die prominensie wat aan kunstenaars gegee word nie. Is die sanger(es) op die voorblad of op TV omdat hy of sy so talentvol is, of is dit net omdat Media24 ’n belang het in daardie kunstenaar se openbare profiel?

Daar is iets omtrent hierdie uitsprake van “Afrikaans is Groot”, en soos een van die ouens tydens ’n TV-onderhoud gesê het: “Afrikaanse musiek hoef vir geen musiek in die wêreld terug te staan nie.” Iets wat mens laat dink dat daar onderliggend eintlik ’n gevoel van onsekerheid is wat weggepraat moet word – soos die outjie wat voor slaaptyd homself probeer oortuig: “Ek is nie bang vir die donker nie.” ’n Joernalis se Facebook-statusbywerking het nou die dag gelees: “As jy ’n koevert kry wat sê daar is 2 komplimentêre Huisgenoot Skouspel kaartjies daarin, wees versigtig – dit bevat 2 komplimentêre Skouspel kaartjies!” So is daar miljoene Afrikaanssprekendes wat voel “count us out” wanneer dit kom by die media en sekere konsertpromotors se beperkte definisie van Afrikaanse musiek.

Wie bepaal die kriteria vir ’n uitnodiging om by hierdie glansgeleenthede op te tree? Hier is mos nou ’n gulde geleentheid om iets werklik groots te doen en om erkenning te gee aan ’n oop samelewing waarin daar ’n groot verskeidenheid inspirerende musiek van meer veelsydige genres is. ’n Geleentheid om tot die algemene verryking en uitbreiding van nasie-eenheid te kan bydra. ’n Geleentheid om ander kultuurgroepe te betrek en respek en liefde te genereer en vir hulle te wys “ons is nie almal só eksklusief” nie.

Onwillekeurig dink ek aan dié woorde: “Iets wens dat Mens weer in jou groei. Dat alles groots, Afrikaans, gaan word. En jy ook in mensbruin mense bloei.”(Breyten Breytenbach, “Bruin reisbrief”.)

Die versoenende krag van musiek is véél groter as dié van duisende politieke toesprake en partypolitieke beleidsverklarings. Kyk net wat het Woodstock, Isle of Wight en dies meer gedoen vir wêreldwye musiek en kollektiewe bewussyn. En hoe groot was die effek van die 46664-konserte op die verloop van die Suid-Afrikaanse sosiale en politieke landskap.

Ek droom van ’n groot “One Nation”-musieksaamtrek wat die verbeelding van alle inwoners van Suid-Afrika aangryp. ’n Musiekontploffing wat die grondslag lê vir ’n kultuur van wedersydse waardering tussen verskillende kultuurgroepe van dié land. Soos ’n musikant vriend van my dit stel: A culture of Appreciation. Ons kán dit doen.

I’m trying to reconnect
I wanna know are you serious
I wanna know, should we take a chance
Vat ’n kans, ek wil sing in Afrikaans
Staan op – DANS!

  • 4

Kommentaar

  • Johan Van Wyk

    Ek is absoluut oorweldig deur jou PRAGTIGE artikel mnr!! Veral nou dat daar soveel wonderlike ALTERNATIEWE KUNSTENAARS soos Les Javan, Tribal Echo, Straatligkinders, Jack Parow ens ... die lys is ondeindig ... wat vir my veral opvallend is, is dat die paar bogenoemde kunstenaars die "KUNSTIGE WOORDESKAT" het wat Afrikaans uitbrei ... al daai Huisgenoot PROEFBUISBABAS gebruik sulke swak engelse woorde soos BABY en AWESOME ens in hul musiek ... dit laat my KOTS!! Hulle moet vir 'n slag TRIBAL ECHO EN LES JAVAN EN RIKU LATTI EN CHURCHIL EN HEUWELS EN..EN ...EN... LUISTER dan sal hulle weet van AFRIKAANS WAT GROOOT IS..!!!! Briljante artikel!!!

  • Alhoewel ek verstaan wat Albert probeer deurgee, dink ek hy het veral die genre-verskille ten opsigte van kleur misgekyk. Daar is 'n klompie musiek wat ek nie graag by so 'n konsert sou wou hoor nie, terwyl ander mense (Afrikaanssprekendes van enige kleur) waarskynlik met 'n ander mengsel van genres gaan werk. Die opbouproses om verskeidenheid binne een taal te bevorder lê nie in die afskiet van een besondere projek waarvoor daar tog ooglopend 'n sterk mark bestaan nie, maar belegging in nog meer sulke groot projekte wat aan die ander genrés ook geleentheid bied. Die kaartjieverkope sal uiteindelik bepaal of daar werklikwaar 'n groot genoeg belangstelling is, en as daar nie is nie, moet daar gewerk word aan maniere om dit bevorder ... veral deur die kleinteater-konsep wat oral nou byval vind. Hierdie verhoë bied groot geleenthede vir genré-beoefenaars wat nie in die sogenaamde hoofstroom is nie en wie weet, dalk word dit dan die hoofstroom van die toekoms!

  • CorneliusHenn

    Dankie Sarel - die punt is eintlik dat die Afrikaanse mediamonopolie  aktief  werk aan die persepsie dat Afrikaans slegs deur 'n beperkte groepie glanstenaars in hul beperkte genre verteenwoordig word. Kyk maar na die demografiese profiel van "pryswenners" in die Huisgenoot Tempo gewildheids publieke stemming. (Dit het terloops niks met die gehalte van musiek te doen nie).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top