Die Breytenbach Sentrum bied op 14 September die Tuin van Digters-fees in Wellington aan. Adam Small, een van die besonderse digtersname op die program, keer terug na sy geboortedorp om van sy gedigte uit sy nuutste bundel, Klawerjas, voor te lees. Dit is die eerste keer in dekades dat Small in die publiek sal optree.
Ná veertig jaar is daar weer ’n Afrikaanse digbundel deur Adam Small. Ná Oos Wes Tuis Bes Distrik Ses (1973) het hy demonstratief net in Engels begin dig, en ná sy drama Krismis van Map Jacobs (1983) het sy skrywerstem stil geword. Verlede jaar is die Hertzogprys uiteindelik aan hom toegeken, en vanjaar verskyn nie net hierdie digbundel nie, maar ook sy Afrikaanse drama Goree, wat in 1978 in Engels geskryf is.
Small gee in die titelgedig van die bundel te kenne dat Klawerjas ’n uitvloeisel is van ’n bestaanswyse, ’n uiting gee aan die gewaarwording dat hy te midde van soveel armoede en verknegting een van diegene is wat darem nog woorde het “wat aftas teen die mure van ons donker kamers van bestaan, al soekend na die deure, openinge na die lig”. Dit is gedigte wat spreek van deurleefde ervaring, diepe oortuiging en ’n opregte meegevoel met die lot van die veronregtes. Dit is praatverse wat getuig van ’n fyn oor vir die musikaliteit van die alledaagse, die melodie wat spontaan en ongekunsteld opklink as jy die doodgewone in verwondering gade slaan.
Ander hoogtepunte op die program sluit onder andere in die toneelstuk, Die 100 gewildste Afrikaanse gedigte, wat saamgestel is deur Juanita Swanepoel, met Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Nicole Holm, Waldemar Schultz en Kyle Seconna in die rolverdeling. Leserskring, in samewerking met By en RSG, het 'n bloemlesing en CD bekendgestel met die 100 gewildste Afrikaanse gedigte, soos deur 'n openbare stemming gekies. Die produksie wat op hierdie bundel geskoei is, neem jou op 'n reis deur die Afrikaanse poësie-skatkis. Verder sal Gert Vlok nel optree, saam met kunstenaars soos Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert, Vernon Swart en Albert Frost, en sal digters soos Carina Stander, Diana Ferrus, Clinton V du Plessis, Loftus Marais en Marius Crous van hul gedigte voorlees.
Die volledige program kan verkry word by www.breytenbachsentrum.co.za; besprekings by info@breytenbachsentrum.co.za, 021-8732786.

