Aankondiging en uitnodiging: Projek oor SA Drama en teaterbewaring

  • 0

’n Suid-Afrikaanse drama- en teaterbewaringsprojek word tans deur die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap by Unisa en in samewerking met die Unisa Biblioteekargief van stapel gestuur.

Die uiteindelike doelwit met die projek is om ’n netwerk van medewerkers (“partners”) van regoor die land te mobiliseer wat almal daartoe sal bydra om die bewaring van ons land se drama- en teatererfenis te ondersteun en uit te bou. Verskeie instansies wat in die verlede besondere versamelings opgebou het (oa die Staatsteater in Pretoria se argief en die Sentrum vir Teaternavorsing by die RGN) het agv verskeie redes die versamelings afgesluit, terwyl ook die toeganklikheid tot hierdie versamelings al hoe moeiliker word. Die besondere rol wat die ou Streeksrade (TRUK, SUKOVS, NARUK, KRUIK) ook tov bewaring gespeel het, het in meeste gevalle heeltemal verdwyn. Die opkoms van’n groot aantal kunstefeeste het ’n nuwe era van teaterbeoefening in Suid-Afrika ingewy. Die aspek van bewaring geniet egter in meeste gevalle nie by die onderskeie feesbesture hoë prioriteit nie en slegs die Nasionale fees in Grahamstad word relatief goed geargiveer.

As eerste stap probeer ons dus om gewoon ’n bestekopname van bestaande inligting (versamelings) te maak. Hierdie inligting sal op ons webblad geplaas word – met waar moontlik “links” na die bepaalde webadres. Kort omskrywings van die versamelings (“directories”) sal verskaf word om potensiële navorsers te help om spesifieke inligting op te spoor.  Ons sal soveel moontlik relevante “links” wil inbring om die inligting so omvattend as moontlik te maak.

Tweedens poog ons ook om ’n veilige bewaarplek vir enige teatermateriaal te wees. Ons nooi enige produksiehuise, asook individuele kunstenaars uit om ons te kontak, indien hulle enige materiaal (oa tekste, fotos, plakate, programme, edm)  sou wou bewaar volgens erkende argiefstandaarde. Die onderneming is slegs om hierdie materiaal professioneel te bewaar, te indekseer en beskikbaar te stel vir navorsingsdoeleindes. Kopiereg en opvoeringsregte bly by die kunstenaar/produksiehuis.

Ons werk saam met Prof Temple Hauptfleisch aan hierdie projek (ons beskou sy ESAT-projek en ons voorgenome projek as komplementerend tot mekaar) en geniet ook reeds die steun van kollegas by die Dramadepartemente van die Vrystaat, Stellenbosch en TUT. Ons wil egter graag hierdie netwerk van medewerkers  uitbou en nooi dus  alle belangstellendes wat sal wil deelneem aan ons projek om ons te kontak.

Prof Marisa Keuris (Tel:  012/429-6319 of keurim@unisa.ac.za) en me Lida Krüger (Tel: 012/429-6424 of krugeja@unisa.ac.za)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top