WF 2012: Kittel

  • 0

“Tee, Kamer 12.” Die skril geluid van die robotstem in Kittel se gehoorstuk irriteer hom grensloos. Asof hy herinner moet word! Hy het in 2088 hier begin werk, so dit beteken hy werk al 15 jaar vir Heer Shamel. Vir slegs 27 van daardie 5478,75 dae het Heer Shamel nie om 12:00 in sy biblioteek tee gedrink nie. Heer Shamel het egter gister die oorstuk vir Kittel gegee en gesê dat hy dit onder geen omstandighede mag uithaal nie.

Kittel balanseer die skinkbord op een hand en klop met sy ander hand. “Gee my net vyf minute, Kittel.”

“300 sekondes.” Kittel fluister die getal saggies vir homself. Van kleins af is Kittel goed met syfers. Sy ma sê hy sou baie goed gedoen het op skool. Daar is egter vyftig jaar gelede besluit dat slegs kinders van die hoër klas mag skoolgaan en dat al die ander kinders in fabrieke moet begin werk om genoeg krag te genereer vir al die nuwe elektriese toestelle wat in gebruik geneem is.

Kittel het vir vyf jaar in die fabriek gewerk. Hy was eendag besig om te werk toe Heer Shamel daar instap. Hy het reguit na hom toe gestap en gevra: “Seun, wil jy vir my kom werk?” Natuurlik het Kittel ingestem, want almal weet dat net die regtige gelukkiges ’n kans kry om uit die fabriek uit te kom. Van daardie dag af werk Kittel vir Heer Shamel.

“Kom maar in, Kittel.” Heer Shamel se diep stem laat Kittel uit sy gedagtes wakker skrik. Kittel stoot die deur oop en gaan sit die skinkbord op die koffietafel by Heer Shamel se stoel neer.

“Middag, Kittel.”

“Middag, U Hoogheid”, sê Kittel terwyl hy die tee skink. “Is daar enigiets anders?”

“Sit gou vinnig, Kittel.” Kittel gaan sit kiertsregop op die punt van die bank oorkant Heer Shamel. Dit maak hom altyd ongemaklik as ryk mense maak asof hulle gelyk is. Hulle is nie.

“Kittel, ek weet nie of jy bewus is daarvan nie, maar vandag is die vyftiende herdenking van jou diens hier aan my.”

Natuurlik weet hy dit, maar dit voel vir hom effens vreemd dat Heer Shamel dit weet. Kittel besluit om eerder dom te speel. “Só, my heer?”

“Ja. Dis ’n lang tyd en ek wil dankie sê vir jou getroue diens aan my deur die jare.”

“Dis my werk, U Hoogheid.” Kittel gaan nie jok en sê dat hy dit geniet nie. Sesuur opstaan en twaalfuur gaan slaap elke aand is nie kinderspeletjies nie. In die werklikheid is dit nader aan slawerny as werk, maar tog is dit ’n beter lewe as wat hy in die fabriek sou hê.

“Hoe voel jy vandag, Kittel?” Heer Shamel kyk ondersoekend na Kittel.

Die gesprek laat Kittel al hoe meer ongemaklik voel. “Ag, maar dieselfde as elke dag, U Hoogheid.”

Shamel lag nie. “Geen hoofpyn, naarheid of duiseligheid nie?”

“Nee, U Hoogheid …”

“Jy kan maar verdaag,” val Shamel hom in die rede.

Kittel wil vra wat die rede vir die vrae was, maar weet dat dit nie sy plek is om ’n gesprek te begin nie. Hy draai om en stap by die deur uit. Hy wil net by die trappe afstap toe hy onthou dat hy die skinkbord binne gelos het. Hy draai om en stap terug. Hy lig sy hand om te klop. Heer Shamel se stem laat hom vries.

“Jy was reg. Hy is die een. Dis ’n jammerte dat ek vyftien jaar moes wag vir hierdie dag.”

Kittel weet nie wat besig is om te gebeur nie. Hy is heeltemal seker hulle praat van hom. Hy besluit om verder te luister.

“Jy weet, ek gaan hom eintlik mis. Hy was ’n heel intelligente knapie.” Die gesprek laat Kittel se arms met hoendervleis uitslaan. Hy weet nie of hy moet begin hardloop of verder moet luister nie. “Ekhard, ek weet. Ek weet hoe lank dit jou gevat het om ’n geskikte persoon te kry. Jou tyd was tog my geld, Ekhard, maar uiteindelik het ons een. Môre het ons honderde en die dag daarna duisende. Nee, die plan gaan voort. Al wat ek nou nog moet doen, is die knoppie druk.”

Kittel se gedagtes maal. Ekhard was sy fabrieksbaas. Dit klink asof Ekhard en Heer Shamel hom uitgekies het om te kloon. Duisende Kittels ... Sy kop begin draai; hy voel hoe sy knieë meegee. Sy lam lyf tref die grond. Hy wil opstaan en hardloop, maar hy kan nie. Hy het nie meer beheer oor sy liggaam nie.

Skielik is Heer Shamel bokant hom. “Ek sien die senuwees is nou al aangetas. Weet jy hoe ons dit gedoen het?” Kittel kyk op met oë wat nie meer kan knip nie. “Ons het ’n oorstuk ontwerp wat jou brein van die binne-oor af aantas. Interessant, nè? Jy moet geëerd voel dat ons jou gekies het. Dis omdat jy so ’n briljante brein het dat ons jou gaan kloon. Dink net hoe goed dit in die fabrieke sal gaan met sulke slim werkers soos jy.” Hy lyk sieklik opgewonde.

Kittel wil skree, wil spoeg in Heer Shamel se gesig, wil hom aanval. Hy kan nie. Hy is ’n gevangene in sy eie lyf.

Heer Shamel se opgewonde glimlag val skielik weg. Hy kyk met somber oë na Kittel. “Dit gaan nie seer wees nie. Tel net tot drie.”

 

Een, twee, drie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top