WF 2012: 00:00

  • 0

Die man gly deur die skadu’s van die bome, die mes in sy hand net sigbaar toe die maanlig daarop val.  Ek kyk om my rond.  Amy se oë is styf toegeknyp.  Rebecca se gesig is wasbleek.  Pieter probeer sy bes om te lyk asof dít wat gebeur, hom nie interesseer nie, maar hy is doodbang.  Ek kyk weer na die skerm.  Ek wonder: As dinge anders was, sou ek bang gewees het?  Die man is nou in die huis en die brandmaer aktrise, wat hard probeer om bang te lyk (en misluk), roep in ’n totale cliché uit: “Wie‘s daar?”  “Bly stil, jou idioot,” sis Amy, haar een oog nou op ’n skrefie oop.  Izak lag. “Komaan, Amy, die movie is so fake soos daai girl se tan.”  Ek voel hoe my hart bokspring, flip.  Hy staan op en strek.  “As julle my sal verskoon, die movie is dom verby en as die wêreld regtig môre gaan eindig, wil ek beslis nie hê dit moet die laaste ding wees wat ek gedoen het nie.” “Kama?”  Hy kyk vraend na my.  “Ek kom,” sê ek. “Daar is twee koppies koffie by my huis met ons name op.” 

Ons loop in die straat af. My horlosie wys 22:00.  “Jy weet,” sê ek, “as die wêreld regtig môre eindig, het ons net twee ure oor.”  Hy glimlag net sy lui glimlag, die een wat my knieë lam maak.  Ons gaan al twee maande uit. Ek wonder of ek ooit die moed bymekaar sal skraap om hom te vertel. Nie dat hy my sal glo nie.  Voordat ek verder hieroor kan dink, is ons voor my huis.  Die eerste ding wat ek sien, is dat die ligte af is.  “Dis weird, my ouers gaan slaap nooit so vroeg nie en hulle los altyd vir my ’n lig aan.”  Ek voel vir die eerste keer in my lewe die gevoel wat ek nie by die grilfliekmarathon kon voel nie: vrees.  “Ek is seker hulle is fine,” lees Izak my gedagtes.  Ek stoot die voordeur oop en sit die lig aan.  Ek hoor asof van ver hoe Izak sy asem intrek. Ek doen niks.  Ek het dit verwag.  Cathy en Jako, die twee mense wat vir alle doeleindes my ouers was, lê in ’n plas bloed.  Cathy se oë staar na iets wat sy nie kan sien nie, maar my aandag is op die nota wat aan Jako se voorkop vasgekram is.  Daar is net vier woorde op:  “Môre, net na twaalf.” 

“Dit het begin.”  Dis eers toe Izak vra: “Kama?” dat ek besef ek het hardop gepraat.  Ek kyk op my horlosie. 22:30.  Ek het ’n uur en ’n half.  Die Uniegebou is veertig minute se ry as ek jaag.  Ek is halfpad by die deur uit toe ek van Izak onthou.  Dit lyk asof hy enige oomblik gaan omval.  Ek gryp sy hand.  Daar is nie nou tyd vir simpatie nie.  “Kom, ek sal op pad verduidelik.”  Ons klim in Jako se Landrover.

“Verduidelik?”  Izak is wasbleek.  Ek haal diep asem voor ek begin.  Ek wil hom nie vertel nie – hy sal my nooit glo nie, maar ek kan aan geen logiese verduideliking dink vir die bloedbad by my huis nie.  “Ek is ’n robot.”  Ek sien hy wil stry en maak hom met my hand stil. As ek dit nie nou sê nie, gaan ek nooit.  “’n Groep wetenskaplikes het in 2041 ontdek hoe om deur tyd te reis.  Een van hulle, ’n ou so mal soos ’n haas, het na die jaar 3135 toe gegaan.  Aardverwarming het alles vernietig.  Oorloë oor kos en water, genetiese manipulasie van mense. Basies: die beskawing het geëindig.  Hy het toe uitgewerk dat die skade tot in 2013 nie permanent is nie.  Ons moet dit dus nou, in 2012, stop.  Hy glo die enigste manier is om alle mense dood te maak.  So, toe ontwikkel hy die Kamakazi-program.  Voor hy dood is, het hy twee robotte gebou.  Die een was ’n flop, maar die ander een, ek, werk perfek.  Sy handlangers, almal Kamakazi’s – mense wat bereid is om dood te gaan vir dié siek plan – moet my net aansit, en boom.  Die perfekte klein biobom: al wat ek doodmaak, is mense – enigiets anders sal ongeskonde wees.”  Izak lyk siek. “Jou ouers?   Waarnatoe gaan ons?”  “Ek was heeltemal bereid om dit te doen – ek is immers ’n robot.  Ek is gebou; ek het geen gevoelens nie – net een.  Mense verdien om te sterf.  Toe ontmoet ek vir Amy-hulle.  Vir jou …  Ek weet nou nie almal is sleg nie.  My ouers is vermoor om my te herinner aan wat my eintlike doel is.  Om jou ander vraag te beantwoord, die laboratorium, waar hulle die rekenaars wat my beheer hou, is in ’n geheime kamer in die Uniegebou.”  Ons ry ’n ruk in stilte.  23:30. 

“Ons is hier.”  Ek spring uit en hardloop na die versteekte ingang wat ek gelukkig ’n paar jaar tevore uit nuuskierigheid kom ondek het. 23:40.  Ek storm by die kamertjie in.  Die rekenaars is duidelik uit ’n meer gevorderde jaar en ek verloor kosbare minute om uit te vind hoe die goed werk.  Uiteindelik kry ek ’n program genaamd Kama. 23:55.  Die program is besig om vyf minute af te tel.  Verwoed druk ek knoppies tot ek een kry wat sê: “Kanselleer.”  Die verskil is oombliklik. Dit is asof ek nog altyd my asem ophou en nou skielik lug kry.  Ek weet ek gaan nooit ontplof nie.  “Ons het dit gedoen,”  glimlag ek vir Izak.  “Daar is nog ’n program.”  Ek kyk na waar hy beduie.  “Kazi,” lees ek.  “Dit is seker die ander robot.  Dis oukei – dit werk nie.” “Ek doen – hulle het my reggemaak.”  Izak se stem is sag, amper onhoorbaar.  “Mense verdien om te sterf.”  “Izak, waarvan praat jy?” “Wag … Kazi, Izak …  Die ander robot – dis jy …”  00:00.  Sy lui glimlag is die laaste ding wat ek sien voor hy ontplof.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top