Slow Poetry: Die lieflikheid van langsaamheid in hierdie gejaagde jare

  • 2

Die week in woorde

As daar een karakter in ’n boek is waarmee ek uit en uit identifiseer, is dit die wit haas in Alice in Wonderland – die een met die horlosie wat so haastig op pad is orals heen. Ek loop vinniger as gewone mense en ek is altyd besig om iemand aan te jaag. Ek voel gedurig angstig en haastig oor alles: haastig om by die werk te kom en haastig huis toe, en baie haastig om op my bed neer te val en haastig deur ’n boek te haas.

Maar nou in dan is daar ’n boek wat halsstarrig vasskop teen my haastigheid. Ek het gister uiteindelik Ivan Vladislavic se meesterlike Portrait with Keys klaargelees – meer as ’n maand nadat ek dit begin het. Vir iemand wat gewoonlik binne ’n week of so deur ’n boek woer, is ’n maand ’n laaaaaaaaang tyd. Maar Portrait with Keys is ’n langsame boek en een wat die leser tot langsame lees noop. Moet my nie verkeerd verstaan nie – dit was nie sleg om so stadig aan Vladislavic se boek te lees nie. Mens wíl nie vinniger gaan nie. Elke stadige oomblik is ’n heerlike en weelderige, byna sondige verweer teen die gejaag van die res van die dag.

 

My langsame vordering het my vanoggend laat dink oor langsaamheid in die algemeen. En ek het onthou dat ek eenmaal ’n hele boek gelees het waarin Milan Kundera (langsaam) herkou oor die tema. Gelukkig kon ek my commonplace book van daardie jaar (seker 2002 rond) nader trek en die aanhaling opspoor. In Slowness skryf hy:

Why has the pleasure of slowness disappeared? Ah, where have they gone, the amblers of the yesteryear? Where have they gone, those loafing heroes of folk song, those vagabonds who roam from one mill to another and bed down under the stars? Have they vanished along with footpaths, with grasslands and clearings, with nature? There is a Czech proverb that describes their easy indolence by a metaphor: they are gazing at God’s windows. A person gazing at God’s windows is not bored, he is happy.

Soos een gedagte maar altyd na ’n volgende lei, begin ek toe wonder wat die verband tussen poësie en langsaamheid, of “slowness”, is. Ek dink byvoorbeeld oor die verskil tussen die tydsaamheid van poësie en haastige sms’e en e-posse, partymaal getik sommer terwyl jy stap, of erger nog, bestuur. Gelukkig kom ek tydens my meditasies oor die onderwerp (lees: my Google-soektog oor die onderwerp) op die volgende artikel af wat my gedagtes presies opsom:

 

To read poetry now is to be part of a Slow Language Movement. Poetry demands that the language matter, that it's neither disposable nor simply denotative. Poetry needs quiet to be written, and is resistant to speed both in composition and comprehension. It is not for a fast life.

En tot my groot verbasing vind ek nog ’n hele web van informasie oor die Slow Poetry-beweging. Dis soos Slow Food (wat die plesier van kos in verband bring met volhoubaarheid en omgewingskwessies) vir die letterkunde. Dale Smith, redakteur van die aanlynjoernaal Slow Poetry,skryf:

Instead of disrupting global market platforms, a poem does something else in the lives of its readers. It's like opening a sliding-glass door, stepping outside, for a moment, and rubbing one's eyes in the sunlight of what's real.

Wat ’n pragtige herinnering aan wat dit is wat gedigte doen. Terwyl ek my van plek tot plek haas en van website tot website jaag, vergeet ek flippen vinnig dat gedigte eintlik waardevol en belangrik is.

In ’n artikel deur Peter Middleton skryf hy oor poësie se waarde en langsaamheid:

Poetry is slow politics. Slow because poetry rarely has a direct impact on national life and, even when it does, the time it takes for the effect to be felt is likely to be measured in years or decades, and unlikely to be traceable. It is not that poetry makes nothing happen; it simply takes a long time and its influences are subterranean. Slow because poetry like most other arts is marginal to modern culture, for many reasons ranging from radical changes in social formations to the ascendancy of the sciences. Slow because of the speed of modernity.

Hierdie wit haas sit vir eers haar horlosie terug in haar onderbaadjie se sak en verkeer langsaam tussen woorde. Ek blaai deur my ou boek, met die hand gemaak in die dae voor mens mooi goed kon pin en quotes kon retweet. En vind iets wat ek afgeskryf het uit The Lord of the Rings, waarin die Elks mos so staaaaaaaaadig (in gedigte?) praat: “We do not say anything, unless it is worth taking a long time to say, and to listen to.”

’n Gedig is ’n ding wat ’n lang tyd neem om te sê en nie altyd met die eerste oogopslag ingeneem kan word nie. Maar as jy net onthou om dit stadig te vat, vind jy dikwels daarin iets wat die moeite werd is om te sê en te hoor.

’n Leeslys om jou langsaam aan te verlekker

Ek kan ’n paar van Kundera se boeke aanbeveel. Daar is natuurlik die klassieke The Unbearable Lightness of Being, en dan ook Slowness waaroor ek hier bo geskryf het. Onlangs het ek ook Laughable Loves gelees, waaroor ek heel gek was; en ’n ander titel wat ek vaagweg onthou uit die lange geledes is Life is Elsewhere.

As jy klaar geKundera is, kan jy gerus – staaadig – aanbeweeg na Vladislavic: begin by The Loss Library, een van my absolute gunstelinge van die afgelope jare. Probeer ook Double Negative wat verlede jaar verskyn het en Propaganda by Monuments, ’n versameling kortverhale wat in 1996 verskyn het. Een waarby ek self nog moet uitkom is The Exploded View – ek hoor net goeie dinge daarvan.

Nog dinge om te lees oor langsaamheid

Hier is die artikels wat ek aanlyn opgespoor het oor Slow Poetry:

 

Gedigte op LitNet

De Waal Venter se Trantromer-vertalings pas net so perfek in by vandeesweek se tema, veral “Langsame musiek” met sy besonderse slot, wat die konsep van langsaamheid in so ’n sterk beeld vaslê:

Ek kom te min na die water toe. Maar nou is ek hier,
tussen groot rotse met rustige rûe.
Rotse wat langsaam rugwaarts uit die golwe gestap het.

Lees die volledige gedig hier. Lees nog nuwe gedigte op LitNet hier.

 

 


   

  • 2

Kommentaar

  • Bibi

    Heerlike lees op ’n baie haastige oggend.

    Daarom die haiku uit waardering:

     

    gedig

     

    die eerste reel:

    roerlose stroom om

    ’n blaarenjambement

     

    Johan Anker

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top