SALA Bloemfontein!
Op ’n koel lentemiddag in die eerste week van Oktober 2012 ontvang ek ’n betekenisvolle e-pos. My debuutboek, ’n Hemelhoë hekkie, is vir ’n Suid-Afrikaanse literêre toekenning (SALA) benoem en ek en ’n metgesel word uitgenooi na die toekenningsaand op 10 November in Bloemfontein. Ingesluit daarby is ook ’n gas-uitnodiging na die Africa Century International African Writers Conference wat van 7 tot 10 November op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat plaasvind.
Vreugde en ongeloof loop hoog; selfs my onkoste word betaal! Ek sien egter gou hoe half ek gelees het en die blydskap word ’n dilemma. Die vliegkaartjie sal ek self moet betaal. Slegs my hotelverblyf vir 10 November word gedek en verder mag ek kosteloos soveel aanbiedings, besprekings en werkswinkels as wat ek tydens die voorafgaande vierdag-konferensie kan inpas, bywoon. Maar om enige van daardie aanbiedings te benut, sal ek nog meer moet spandeer aan bykomende verblyfkoste.
Ek weet maar min van hierdie spesifieke toekennings, en afgesien van die reiskoste begin ander vrae ook knaag. Wat kan ek verwag van die kreatiewe-skryfwerk-werkswinkels wat ek beoog om by te woon? Hoe ernstig behoort die meriete van die benoemings opgeneem te word? Daar is wel ’n hele klompie ander Afrikaanse skrywers ook op die kortlyste, maar is daar enigsins ’n moontlikheid dat ons pionbenoemings op ’n skaakbord van kleur- en rassekorrektheid is? Ek skaam my vir daardie twyfel, maar die vader weet, in hierdie land van ons is dit soms ingewikkeld om net suiwer en gewoon ’n Suid-Afrikaner te wees. Veral as jy jou beursie kort voor Kersfees vir ekstras moet uithaal.
Google-soektogte bring meer gemoedsrus. Die SALA-toekennings word beskryf as die verwesenliking van Raks en Sindiswa Seakhoa van the wRite associates se droom om boeke oor alle grense heen in Suid-Afrika te bevorder en erkenning te gee aan skrywers wat uitsonderlike werk lewer. Ook prominente Afrikaanse skrywers is die afgelope paar jaar bekroon.
Maar Google kompliseer ook dinge op ’n ander vlak vir my ná veral die lees van ’n stuk op LitNet Akademies deur dr Marlies Taljaard: Kleurvol hibried: Kleur kom nooit alleen nie en die talige ruimte van saambestaan kyk onder meer na versoeningstrategieë in die werk van Antjie Krog; spesifiek in die digbundel Kleur kom nooit alleen nie en haar oeuvre in geheel.
Kleur kom inderdaad seker nooit alleen nie, en ek het die grootste agting vir Antjie Krog as digter, skrywer, spreker en rolspeler by multikulturele konferensies. Maar sy hoef na alle waarskynlikheid nie haar konferensiedeelnames ekonomies te regverdig by haar innerlike rekenmeester nie. Ek, daarenteen, het geen idee of mý eerste belewing as ’n Afrikaanse skrywer by ’n Afrika-konferensie afgeskryf gaan word as ’n goeie of negatiewe ondervinding op ’n buitendien slegte tyd van die jaar nie. Om enigsins ’n betroubare opinie vir die balansstaat te vorm, sal ek die hele ondervinding moet dokumenteer soos ek dit persoonlik - hoe ook al - ervaar. Ek probeer dus doelbewus my gedagtes vry hou van die kragtige Krog-perspektiewe.
Maar sy laat haar nie wegbeveel nie en marsjeer so flink deur my gedagtes dat ek haar naderhand moet berispe: “Wyk tog nou eers, Antjie, en neem jou versoeningstrategieë tydelik met jou saam. Jy hoef mos nie vir my, wat meer as ’n kwarteeu gelede al ’n oorgang gemaak het, te bearbei nie? Hoe anders gaan ek weet of dit die tyd, moeite en onkoste werd was?”
Ek bespreek vir vier nagte in die Shalom-kamer van Die Rusplek-gastehuis en sit vasgegord toe die 06:10-oggendvlug op Woensdag 07 November sy oranje enjins begin opwarm.
*
Die eerste ontplooiing van die Vrystaatse dag is alles behalwe gul. Van die beloofde lughawe-ontvangs en groepvervoer is daar geen teken nie. Ná anderhalfuur besef ek iemand is nie net iewers effens vertraag nie, ek is vergeet - en aanspreeklik vir die ekwivalent van byna ’n halftenk brandstof toe ek twee ure laat voor die New Education-gebou uit ’n taxi klim.
My konferensie-registrasie vind so blitsig plaas dat ek eers later op ’n foto sien met watter uitgelese letterkundiges my naamkaart en kongressak ritssluiters lê en skuur het.
Niemand skyn presies te weet in watter lokaal die kortverhaalwerkswinkel aangebied word nie. Ek weet instinktief dis nie in die hooflesingsaal waarheen meer as een mens my beduie nie, maar laat my saam met die klein gehoor afsper toe die spreker binnestap. Enigiets is nou beter as om besluiteloos buite rond te staan en die stem wat raas “Jy wóú mos kom” te voed. Taiwo Adetunji Osinubi van Kanada se gesprek oor “Critical Mediation and Achebe’s outcasts” is uit die staanspoor interessant en dit word ’n goeie uitruil van tyd. Met elke verwysing na Achebe is dit asof die energie in die lokaal toeneem.
Ná die lesing hervat my soektog. Verby groot uitstalborde vol gelamineerde koerantuitknipsels wat mens se belangstelling in sterskrywers en -musikante prikkel. Maar daar is nie nou tyd hiervoor nie.
My magtig, ’n fasiliteerder en kursusgangers kan tog nie so onvindbaar wees nie! Om en by die sesde navraag bring lig: daar is ’n fout op die program; ek moet na ’n ander gebou op die kampus gaan. Iemand neem my per motor daarheen en beloof om my weer vir middagete te kom oplaai.
Maar helaas is die werkswinkel toe ook nie daar nie … Ja, daar’s ’n drukfout op die program … en ek moet terug na die New Education-gebou, wat ek uiteindelik saam met ene Donald op die passasiersitplek van ’n vragmotor bereik.
Wyk nou sommer die hoogste gestoeltes in, SatAntjie!
*
Binne die eerste uur in die korrekte lokaal verdamp my begeerte om te dros. Oswald Mtshali is die fasiliteerder vir die eerste twee dae van die werkswinkel. Hy neem ons groepie van ses eers terug na die basiese fondamente van stories. What is a word? A sentence? Ons vind uit hoe moeilik dit is om ’n totaal onsinnige sin te fabriseer. Ons lees tekste en ontleed die samestelling daarvan. Elke nou en dan sypel die naam Chinua Achebe ’n gesprek binne soos voëlgetjilp wat ’n nuwe begin aankondig. Dit ís voëlgetjilp - sê dit twee maal na mekaar en luister na die klanke wat daaruit voortvloei. Achebe se Things fall apart word die eerste een wat ek op my nuwe leeslys van Afrika-skrywers aanstip. Teen vieruur die middag het elk van ons halfpad geskryf aan ’n kortverhaal wat die volgende dag ingelewer moet word.
Oor die volgende paar dae ontvou ’n wêreld van Afrika-literatuur waarvan ek maar min geweet het. En soos in ’n roman, tree mense verwags en onverwags na vore om hoof- en gasrolle te vertolk.
Lerato Mahono van the wRite associates met wie ek in Johannesburg korrespondensie gevoer het, kom soek my die Woensdagmiddag net na verdaagtyd op. Sigbaar ongemaklik oor al die misverstande van die oggend gaan stel sy my ook voor aan Sindiswa Seakhoa. Ek probeer my indink hoeveel reëlings dit moes geverg het om mekaar op daardie oomblik en plek te kan ontmoet. Hulle verseker my ek kan vorentoe staatmaak op die groepvervoer tussen die gastehuis en die konferensielokale en roep die bestuurder nader. “I’m Thomas your shuttle man; take my number. You can call me any time and I’ll fetch you,”lag die man met die strooihoedjie op sy kop. Net daar maak ek seker dat hy weet ek benodig Sondagoggend vervoer lughawe toe.
My kursusgenote vorder binne die bestek van ’n dag van vreemde gesigte na interessante karakters van wie ek brand om meer te weet. Eunice Molefe wil aan haar familie bewys dat sy kan skryf. Ten spyte van haar Engelse uitspraak wat soms moeilik is om te volg, spreek sy my naam perfek uit. Die jong Seipati Mohapi, weer, praat met die privaatskool-aksent van Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria. Susan, wat die kortverhaal- en poësiewerkswinkels om die beurt bywoon, lyk soos ’n koningin in haar rooi en goue tradisionele Afrikadrag. Lenadine Koza van die Mediese Navorsingsraad is ’n wetenskaplike navorser wat wil leer hoe om boeiende teks vir hoërskoolleerders te skryf. Wat sou hy daar maak? het ek meer as een keer gewonder oor die kaalkop sening van ’n man wat nogal dikwels oor woorde struikel wanneer hy ’n teksgedeelte moet voorlees. Op die tweede dag eien ek hom op die agterplat van ’n roman wat my oog by ‘n boekuitstalling vang. Hy is Nape ‘a Motana, skrywer van Son-in-law of the Boere, met die volgende kommentaar van Maritha van der Vyver op die voorblad: “If stories can break down the walls between cultures, this one is a sledgehammer.” Hy skryf ook kortverhale, is ’n bekroonde dramaturg, en sy filmdraaiboek, The Price of Freedom, was ’n semifinalis vir die New Directions Africa Award. Voor in my kopie van Son-in-law of the Boere skryf hy: “Thank you for believing in my intellectual property.”
Op dag drie maak ons kennis met Ntate Winston Mohapi, skrywer en ’n adjunkdirekteur van die Departement van Kuns en Kultuur. Ons nuwe aanbieder is toe al die tyd Seipati se pa. Hy deel pakke kortverhaaltekste uit en ontsluit vernuftig die onderbou van die verhale. Ek ervaar Can Themba se werk en ’n verhaal deur Wangui wa Goro van Kenia as eenvoudig briljant.
Flaxman Qoopane, ’n oudjoernalis en wêreldreisiger wat ’n biblioteek van meer as 10 000 boeke by sy huis opgebou het, keer my die voorlaaste middag aan vir ’n onderhoud. Tussendeur vertel hy van sy honderde gelamineerde knipsels op die uitstalborde, wat ook heelwat Afrikaanse skrywers insluit. Die man is min of meer ’n ensiklopedie.
Teen Saterdagmiddag kan my skryfbrein kwalik nóg iets inneem en weet ek dat die leerskool uitstekend was. Nou lê nog net die bekroningsgeleentheid voor.
*
Vroeg Saterdagaand bevind ek my vir byna ’n uur saam met die groep SALA-benoemdes en metgeselle in wat die holding room genoem word. Niemand weet eintlik waarom ons daar is nie, maar ons word binne gehou en die vensters tril naderhand soos die sjerrietjies vloei en die desibels styg. Wat seg ons korrespondensiepapiere nou weer? “Pre-event briefing and drinks with the minister of Arts and Culture” –of het ek klaar te veel sjerrie in?
Mens steek vas wanneer jy die yslike makietieplek betree. Is dit die Callie Human-saal hierdie of ’n flonkerende ruimtejuweel? Orkesinstrumente staan op- en ingestel. Enigeen kan sien hier luier ’n groot partytjie. Met die uitsondering van twee mense is ons tafel versigtig Afrikaans. ’n Martini van benoemdes, uitgewers en beoordelaars.
Die verrigtinge begin met ’n video oor Raks en Sindiswa Seakhoa se baanbrekerswerk met die ontstaan en uitbreiding van die SALA-toekennings. Dié aantreklike en professionele egpaar werk kaalarm, onvermoeid, en organiseer en inspireer. Sonder hulle sou daar geen SALA-toekennings gewees het nie en was Bloemfontein daardie aand ook net Bloemfontein.
By tye gebeur dinge vinnig, en dan sloer dit weer. Iemand aan tafel wonder hoe lank die voorgeregvissie al onder die sellofaan om die bord skuil. Maar daar’s nie fout nie; hy swaai nog amper vin. Was dit onvanpas? Ek kan nie sê nie. Is dit nie maar die klas ding waaroor gaste by groot onthale wonder as daar vooruitbereide visgeregte bedien word nie? Of kom kleur sowaar nooit alleen nie?
Voor die bediening van die hoofgereg het Winston Mohapi ’n verrassing vir my. Hy stel my voor aan die einste Wangui wa Goro wie se verhaal my so beïndruk het. Ek word gevul met ’n mengsel van verwondering en spyt. Want sy is dan die vrou wat my dae lank al in die gastehuis van ’n afstand af fassineer. Kon ek dit nie maar eerder geweet het nie?
Albei seremonie-aanbieders is vroue. Afrika-selebriteite welsprekend en gemaklik in hul glansrolle. Slegs nou en dan verwys hulle na iemand as comrade. Meer as een keer is dit net hul sjarme wat ’n benardheid beredder, soos toe ’n agterverhoog-faux pas veroorsaak dat die aankondiging van die Afrikaanse-poësie-wenner uitloop op die voortydige kat uit die sak laat van die ontvanger van die prys vir Engelse poësie. Lebo Mashile verdien ’n fooiverdubbeling vir die wyse waarop sy dáárdeur skaats. Ek wonder of die kategoriewenner wat sy driespoorpad verhoog toe bly verloor, ooit sal weet hoeveel takt sy moes gebruik om hom steeds respektabel te laat lyk?
Ons tafel lewer twee wenners op: SJ (Fanie) Naudé in die kategorie beste Afrikaanse debuutwerk met Alfabet van die Voëls en Sonja Loots, wat die K Sello Duiker-gedenkprys inpalm vir Sirkusboere. Ek voel bevoorreg om in hul sukses te kan deel. Dis aandoenlik om te sien hoe die jong familielid wat Fanie vergesel, hom teen die kop soen. En ook hoedat Sonja nie afgesit word toe haar skoen breek op die presiese oomblik dat sy verhoog toe begin stap nie. Geen eenskoen-hink vir dié sirkusboerin nie: sy pluk albei uit, gaan staan kaalvoet langs die Minister en doen wat sy moet doen. Terwyl sy besig is met haar toespraak, tref die ironie tussen hierdie situasie en haar boek my – soos die boerekarakters moet sy ook maar voortgaan met die show.
Dit word ’n trotse aand vir Afrikaans wanneer nog vier Afrikaanse skrywers vereer word. Maar dis net so ’n trotse aand vir Engelse en ander Afrikatalige wenners. En daar, in die vreugde van wen en taalgroepe, word ons saamgesnoer tot ’n eenheid wat uitmuntendheid van die woord herken, erken en waardeer.

Toe die supersterre van Afrikamusiek eers met hul klankmuti begin, rys mense een na die ander uit tafelsitplekke om op die plek hul liggame oor te gee aan die verleidelike ritme. Nie ’n tooisel-in-die-wind-oorgawe nie, maar wat vir my lyk na ’n paring met die musiek wat neerslag vind in die beheerste swaaiing van regop ruggraat en heup.
Selde tevore was ek so trots om Afrikaans en van Afrika te wees, maar ook selde tevore het my Afrikaans-wees my so verlam as op daardie oomblik. Ek sou bitter graag ewe spontaan wou saamgedans het, maar ek is helaas té Afrikaans.
*
Sondagoggend op die lughawe storm “Thomas the shuttle man” op my af en wil weet waarom ek hom nie gekontak het nie. Ek is te skaam om te sê die stiptheidsrekord van die vervoer het my op ’n taxi laat besluit. “I waited for you,” sê hy beskuldigend, maar lag asof hy verstaan. Ons omhels mekaar en toe ek omdraai, roep hy agter my aan:”Send me your new book!”
Die 2012-SALA-kategoriewenners is:
Beste Afrikaanse debuutwerk: SJ Naude, Alfabet van die voëls
Beste Engelse debuutwerk: Yewande Omotoso, Bom Boy
K Sello Duiker-gedenkprys, Afrikaans: Sonja Loots, Sirkusboere
K Sello Duiker-gedenkprys, Engels: Diale Tlholwe, Counting the coffins
K Sello Duiker-gedenkprys, Sesotho: Nhlanhla Maake, Manong a lapile
Poësieprys Afrikaans: Johann Lodewyk Marais, Diorama
Poësieprys Engels: Ingrid de Kok, Other Signs
Joernalistiekprys: Jenny Crwys-Williams vir haar ouvre
Literatuurprys vir vertaling uit Engels na Afrikaans: Francois Smith, David Kramer: ’n Outobiografie
Kreatiewe niefiksieprys, Afrikaans: Hannes Haasbroek, ’n Seun soos Bram
Kreatiewe niefiksieprys, Engels: McIntosh Polela, My Father, My Monster
SALA-voorsittersprys: Wyle BW Vilakazi – Sebenzile Yolanda Vilakazi het dit namens haar pa ontvang
Lewenslange bydrae tot die letterkunde, Tshivenda: Ndivhudzannyi Emelina Sigogo vir haar oeuvre.

Bibliografie
Taljard, Marlies. 2010. Kleurvol hibried: Kleur kom nooit alleen nie en die talige ruimte van saambestaan. LitNet Akademies.
https://www.litnet.co.za/Article/kleurvol-hibried-kleur-kom-nooit-alleen-nie-en-die-talige-ruimte-van-saambestaan.
Pearce, Robert J. 2012. Nog steeds ’n kwessie van ras en kleur. LitNet. https://www.litnet.co.za/Article/nog-steeds-rsquon-kwessie-van-ras-en-kleur.
Krog, Antjie. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.
Fotogallery:
Alle foto's is deur Jannie Coetzer geneem.

Die Callie Human saal.

Sonja Loots

Francois Smith

Hannes Haasbroek

Johann Lodewyk-Marais

Nadine Gordimer

Douwleen Bredenhann
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Douwleen, net die manier waarop jy hierdie geskryf het, verstaan ek waarom jou skryfwerk benoem word vir literêre pryse. Dit is ’n voorreg om jou verslag te kan lees.
Baie dankie Maankind, ek waardeer hierdie woorde van jou.