Padveiligheid

  • 0

In hierdie tyd, na die nuus oor die baie sterftes op ons paaie gedurende feestyd, glo elkeen dat hy weet wat die oplossing is. Party blameer drank, waarmee ek nogal kan saamstem, ander sê weer dit is spoed, wat die mense met vinnige motors weer ontken. Die jaers blameer selfs stadige voertuie op die pad, maar myns insiens is dit omdat hulle dan ongeduldig raak en kanse waag met verbysteek.

Die oorsake is natuurlik menigvuldig, maar ek dink dat dit baie kan verbeter as mense hulself meer tyd gun en nie haastig is om hul bestemmings te bereik nie. Aanvaar daar gaan vertragings wees en dat jy dalk etlike ure later by jou vakansieplek of huis sal aankom. Rus elke twee ure en drink dan koeldrank om af te koel, miskien verkieslik iets met suiker en kafeïen om jou energie te gee en wakker te hou. As dit 'n lang reis is, slaap liewers langs die pad oor by 'n herberg.

En, vir my baie belangrik, maak seker jy ken al die padreëls, hoewel jy ook moet let daarop ander padgebruikers dalk nie die reëls goed ken nie. Die owerhede kan 'n ander toetsstelsel inbring wat elke drie jaar gedoen moet word, eerder as om net elke vyf jaar mense se oë te toets: Laat alle lisensiehouers eksamen skryf oor die padreëls en -tekens! Ek glo niks verskerp jou konsentrasie meer as om gereeld die boekie wat vir leerlingbestuurders voorgeskryf word, te bestudeer nie.

Wat dink die ander SêNetters van my voorstel?

Groete,

Varkspek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top