Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Frederick Botha

  • 0

Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

“Desperate Housewife” is een van my werkstukke wat ek tydens my honneurskursus in skryfkuns geskryf het.  Die opdrag het begin as oefening waartydens ons ’n volledige karakter moes skep.  Nadat elke karaktertrek en -eienskap tot in die fynste detail geskep is, moes ons hierdie karakter as hoofkarakter in ’n karaktergedrewe kortverhaal inskryf.  En so is my hoofkarakter, Karen van Loggerenberg, gebore.  My dosent, prof Thys Human, was absoluut versot op haar karakter, en met sy kommentaar sowel as dié van my medestudente het ek verder aan my kortverhaal gaan timmer en skaaf.

Ek het “Petrus” tydens my finale jaar aan die PU geskryf.  Ek het dit vir die skrywer, Fanie Viljoen, gestuur en hy het vir my wenke gegee om dit te verbeter.  Ek het dit ingeskryf vir daardie jaar se Kampus-Talentfees, maar was nie die wenner vir die beste Afrikaanse kortverhaal nie.  Dit het my gemotiveer om terug te gaan en weer aan “Petrus” te werk. 

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Soos uit die vorige antwoord afgelei kan word, waardeer ek alle kritiek, wenke en raad wanneer dit by my skryfwerk kom.  Ek is dikwels te “intens” betrokke by my kortverhale, en juis daarom is die hulp van ’n buitestander vir my so waardevol. 

Ek was baie bevoorreg om saam met die ongelooflike Suzette Kotzé-Myburgh te werk.  Ek dink sy het my skrywerspersoonlikheid baie vinnig verstaan, en dít sonder dat ons mekaar ontmoet het!  Dit was asof sy van die begin af dieselfde visie vir my kortverhale gehad het en verstaan het wat ek met die twee kortverhale probeer bereik het.  Haar uitstekende raad, kommentaar en leiding het gemaak dat ek albei kortverhale volkome kon ontgin.  Sy het my ongetwyfeld gehelp om my skrywerstem te vind. 

Die feit dat ons ’n soort digitale skryfskool ondergaan het, aangesien alle hulp slegs deur middel van e-posse aangebied is, het dit uiters uitdagend gemaak omdat ek persoonlike interaksie verkies en hoog op prys stel.  Daardie hele proses van pleit vir die behoud van elke komma, punt, woord en gedagte kon dus nie lei tot langsame argumente en motiverings nie, wat soms frustrerend was, maar in ’n mate ook makliker om daai bitter moeilike raad van “kill your own darlings” te volg.

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Sjoe, daar is baie.  Een van my skyfkunsdosente het eendag soos volg op een van my gedigte gereageer:  “Jy trek draad met woorde.”  Ek het nie geweet of hy dit positief of negatief bedoel het nie, en het daarom eerder nie gevra nie.

Ander (dalk meer waardevolle) kommentaar of raad wat ek al gehoor of gelees het, is die gewone (maar tog so akkurate) wenke soos “kill your own darlings”, wat seker een van die moeilikste dinge vir enige skrywer is, en om net eenvoudig die hele boud-teen-sitplek-ding te doen en bloot te skryf.  Laasgenoemde vind ek veral waardevol, aangesien ek altyd met ‘n klomp idees in my kop rondloop wat soms maande lank daar lê en broei, maar deur bloot te gaan sit en skryf, kan ek iets van hierdie idees maak, anders bly dit altyd net idees. 

En dan natuurlik:  “As jy wil skryf, moet jy lees, lees en nogmaals lees”, wat seker een van die belangrikste (en lekkerste) wenke is. 

Die skrywer as afloerder, waarnemer of ewige voyeur is iets waarby ek ook aanklank vind.   

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Etienne van Heerden, Ingrid Winterbach, Marlene van Niekerk en Eben Venter.

Etienne van Heerden is myns insiens een van die belangrikste Afrikaanse prosaïste.  Sy werk kry dit reg om my keer op keer te boei, te betower en my lewe te verander.  Hy is een van die min Afrikaanse skrywers wat daarin slaag om ’n uiters literêre teks te skep wat terselfdertyd toeganklik is en ook deur sommige as blote ontspanningsliteratuur gelees kan word.  En dis wat volgens my ’n skrywer meesterlik maak.  Dis asof hy die liefdeskind van Etienne Leroux en Marita van der Vyfer is. Sy roman 30 nagte in Amsterdam is volgens my een van die indrukwekkendste en belangrikste Afrikaanse romans naas Marlene van Niekerk se Agaat.  Dit sit nie in enige skrywer se broek om die taal te ontgin soos wat hy reggekry het met die Tante Zan-verhaallyn nie.    

Marlene van Niekerk is die ideaal waarna elke skrywer strewe (en waarvan hulle dikwels bloot droom of selfs op jaloers is).  Ek staan verstom oor die feit dat iemand in staat is om twee meesterlike romans soos Triomf en Agaat te skep. 

Ingrid Winterbach se karaktergedrewe romans kan my net nie los nie, veral haar fyn en noukeurige waarnemingsvermoë wat in haar skryfwerk neerslag vind. 

Eben Venter het met Ek stamel, ek sterwe en Horrelpoot vir my gewys hoe slim en kreatief, maar tegelykertyd toeganklik, mens kan skryf. 

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Die volgende stap is om aan my eie bundel kortverhale te werk vir moontlike publikasie.      

Ek wil die raad wat ek tydens Nuwe Stories 2 ontvang het, nou ook op my ander kortverhale gaan toepas.  Baie van die kommentaar is dinge wat ek as skrywer weet ek my herhaaldelik aan skuldig maak, byvoorbeeld die hele kwessie van “show me, don’t tell me”.  Ek het ook reeds ’n paar nuwe idees vir kortverhale.

Dalk meer akademies (maar allermins minder kreatief) is daar ook die skryf van ’n doktorale proefskrif in Afrikaanse letterkunde wat wag ... 

 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Frederick Botha se kortverhaal "Desperate Housewife" te lees.

Klik hier om die tweede weergawe van Frederick Botha se kortverhaal "Petrus" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top