Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Elani Venter

  • 0

Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

Ek dink “Hart van swart” handel oor baie onderwerpe waarvoor die meeste mense bang is en wat die meeste mense iewers in hul lewens moet hanteer. Die verhaal gaan oor 'n jong man wat sy suster verloor het in 'n motorongeluk waartydens hy bestuur het, en hoe hy dan ná die tyd drank en dwelms gebruik om van sy smart en skuldgevoelens te ontsnap. 

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Ek is maar nog baie nat agter die ore wat my skryfwerk betref. Dus het die keurder se voorstelle om my storie te verander en te verbeter my aanvanklik half in die gesig gevat laat voel. My skryfwerk is iets wat baie persoonlik is, en uit die aard van die saak was dit vir my moeilik om kritiek oor my storie te aanvaar. Maar na 'n tydjie se dinkwerk en effense kopskuif het ek besef dat ek regtig net kan baat uit die situasie en die keurder se voorstelle. Dus het ek maar my bes gedoen om aan te pas.

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Die beste skryfraad wat ek al ooit gehoor het, is om net te begin. Dis soms vir my die moeilikste: om net tyd te maak en voor my rekenaar te gaan sit en skrýf. Voordat ek kinders gehad het, was dit makliker. Ek was mal daaroor om met 'n groot glas wyn by my rekenaar te gaan sit en in my zone weg te raak terwyl ek skryf. Deesdae is dit effens moeiliker met 'n vyf weke oue baba en ‘n kleuter in die huis.

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek moet bieg en erken dat ek nie juis Afrikaanse boeke lees nie. Dit sal natuurlik ook een van die redes wees hoekom ek so nat agter die ore is wat my skryfwerk betref en so baie leiding van die keurders nodig gehad het. Ek het met Engelse boeke grootgeword en sukkel om Afrikaanse skrywers te vind wat soortgelyk is aan die Engelse skrywers vir wie ek so lief is.

My smaak in boeke is baie wyd; dit hang regtig af van waarvoor ek lus is en in watter stadium my lewe is.

Ek is gaande oor Stephen King; sy skryfwerk is absoluut geniaal en ek kan nie dink dat enigiemand anders naby sy standaard kom wat genre betref nie. Ek is ook baie bly dat ek nie in daardie man se kop hoef te leef nie.

Ek hou ook nogal van 'n Nora Roberts-boek om my romantiese kant te versadig. Ek voel sy skryf realistiese liefdesverhale sonder om oordonderend soppy te wees.

Marian Keyes is nog 'n gunsteling. Sy kombineer haar skreeusnaakse sin vir humor, donker onderwerpe en realistiese storielyne op so 'n wyse dat ek nie haar boeke kan neersit nie.

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Ek gaan kyk hoe ver ek daarmee kan gaan, ja.

 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Elani Venter se kortverhaal "'n Hart van swart" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top