Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Carla Kargaard

  • 0

Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

Twee van my verhale is in die bundel opgeneem.

“Vergeet-my-nie” is ’n ou Unisa-taak wat al vir ’n paar jaar in my laai lê, en ek het hom uitgekrap en ’n bietjie afgestof vir die kompetisie. Die verhaal handel oor die hartseer van alleenwees. ’n Eensame Karoo-vrou kry ’n onverwagse besoeker uit haar verlede. Hierdie man was nog altyd haar swak punt en krap haar Sondagoggend heeltemal deurmekaar.

Ek het “Alledaagse insomnia” geskryf terwyl ek in ’n fancy hotelkamer gesit en uitkyk het oor die see. My ma het gebel en my gesê dat die hond waarmee ek grootgeword het, doodgery is. Dit het ’n hele klomp emosies aangewakker en die verhaal het binne die volgende twee uur die lig gesien. “Alledaagse insomnia” is dus ‘n vermenging van die werklikheid en fiksie. Ek dink jongmense bereik deesdae redelik vinnig finansiële sukses, en die verhaal spreek van die ontevredenheid wat volg as mens té vinnig té veel het. Generasie X se fake Facebook-lewe word ook onder die loep geplaas.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Ek het die proses as baie positief ervaar. Ek dink egter dit het baie gehelp dat ek reeds in lewende lywe saam met Suzette gewerk het tydens Nuwe Stories 1. Ek verstaan die proses en vertrou haar oordeel ten volle, en daarom was dit maklik om haar Word-doc-comments te volg. Ek het ook my vrae en voorstelle aan haar deurgestuur en sy het daarop geantwoord.  Dit het dus nie gevoel asof ’n buitestander aan my stories peuter nie, maar eerder soos ’n gesprek met ’n mentor.

Dit was ook vir my lekker om die ander deelnemers se verhale op LitNet te gaan lees. Iets wat vir my regtig wonderlik is van die digitale era, is dat dit so maklik is om gesprekke te begin. Ek en een van die ander skrywers het op Facebook begin gesels. Mens skryf gewoonlik in ‘n vakuum en jy voel maklik onseker; daarom is dit lekker om met ’n medeskrywer te gesels oor al die stories, drama, alleenheid en vreugde van skryf.

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Die beste raad wat ek al gehoor het, kom uit ’n baie simpel tienerfliek oor ’n joernalis wat undercover in ‘n hoërskool gaan werk het. Die raad wat sy gekry het, was: Write what you know. Daai lyntjie het deur die jare by my gebly en ek probeer om dit so goed as moontlik toe te pas. Ek voel dat ek dinge, mense, omgewings en emosies wat ek ken, beter kan beskryf en dat die stories meer geloofwaardig is. (Dit bring natuurlik ook uitdagings mee as vriende of familie hulself in mens se verhale herken, en ek weet nog nie lekker hoe om daardie probleem te oorkom nie. Enige raad van gevestigde skrywers?)

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Please don’t kill me, maar ek is nie ‘n baie groot leser nie. (Ek dink al die Unisa-take het boeke tydelik vir my geruïneer.) As ek egter wel lees, probeer ek soveel as moontlik by die skrywer leer.

Chris Barnard se geloofwaardige dialoog was vir my ‘n eye opener.Mens kan die karakter se persoonlikheid aflei deur slegs na die dialoog te kyk. Ek waardeer ookDana Snyman se raak beskrywings van die lewe in klein dorpies en afgeleë gebiede.

Nog ’n goeie leerskool is mense se stories oor die algemeen – ek sit altyd met oop ore in die haarsalon of langs my ma se kombuistafel (waar die dorp se skinderstories vertel word). Hierdie alledaagse situasies bied wonderlike idees.

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Ek hoop so. Ek sal beslis weer vir Nuwe Stories inskryf as ek die geleentheid kry. En as ek eendag braaf is, sal ek graag my hand wil waag aan ’n jeugroman (maar ek wil nie wilde beloftes maak nie).

 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Carla Kargaard se kortverhaal "Alledaagse insomnia" te lees.

Klik hier om die tweede weergawe van Carla Kargaard se kortverhaal "Vergeet-my-nie" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top