Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Ontspoor"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


 

Ontspoor

Op die hoek van Heerengracht en Riebeekstraat lê hy. Byna karikatuuragtig met sy arms en bene in tien verskillende windrigtings gebuig. ’n Gedeelte van sy rugstring lê tussen klein stukkies kraakbeen en breinvloeistof teenaan die paal van ’n stopteken. ’n Massa onherkenbare organe – omring deur ’n oordaad bloed – word binne ’n radius van ongeveer een meter vanaf sy kop aangetref.

Vir die onervare oog mag hierdie dalk lyk na ’n baie lewensgetroue pop wat vir die een of ander skop-skiet-en-afbliksem-fliek in die Moederstad gebruik word, maar dít is hy helaas nie.

Hy is André Liebenberg, ’n régte mens, dertig jaar oud, oorspronklik vanaf Heilbron, maar vir die afgelope drie jaar een van die enigste blanke treindrywers vir Metrorail in Kaapstad. Enkele minute gelede was hy nog in één stuk en springlewendig in die praktyk van die vooraanstaande sielkundige, dokter Erwin Verwey.

Dokter Erwin Verwey roem homself op sy deernis, insig en mensekennis en is selfversekerd in die wete dat hy nog nooit ’n pasiënt aan onnatuurlike oorsake afgestaan het nie.

Die sielkunde is ongetwyfeld sy roeping, maar hy kort ’n vakansie. Hy het jare laas tot bedaring gekom en om dagin-daguit só uitgeput te wees kan eenvoudig nie goed wees vir hom óf sy pasiënte nie.

As sielkundige weet hy maar alte goed dat jy nie kan sê dié een se pyn en swaarkry is belangriker as dáái een s’n nie, maar in hierdie praktyk werk hy al vir jare lank nie meer met dinge soos liefdesteleurstellings of selfbeeldprobleme nie.

As ’n spesialis op die gebied van posttraumatiese stresversteuring, is die deursnitpasiënt wat na hom verwys word, werklik die depressiefste van die depressiewes.

Ma’s wat byvoorbeeld ál vier hul kinders in dieselfde motorongeluk verloor het. Destydse Recces wat in die weermag gedwing was om stukke van die dooie vyand op te eet. Sussies wat as kinders só erg mishandel is dat hulle sommige aande in hondehokke moes slaap en daar vir hulle vertel is die kakkerlakke is hul troeteldiere.

Hy praktiseer al vir byna tien jaar hier op die vyfde verdieping van die Absa-gebou en is gewoond aan ’n lawaaierigheid buite sy kantoor, maar vir die laaste twee minute gil daar’n vrou met soveel dringendheid en histerie dat dit hom laat wakker skrik van waar hy vir ’n wyle op die mat ingesluimer het.

Hy staan op en draai na die venster. Trek sy oë op skrefies en kyk na die toneel onder hom met volslae ongeloof. Dit is dan dieselfde blou hemp wat minute gelede nog hier by hom in die kantoor was.

Hiérdie het hy nie sien kom nie.

***

Die eerste ding wat André Liebenberg gesien het toe hy by dokter Verwey se wagkamer instap, was die sekretaresse met die lekker ass soos sy oorbuig om vir die plante water te gee.

Sy vorige girlfriend het ook só ’n ass gehad, en bene nes ’n skouperd. Hy is vir ’n paar sekondes kwaai jags voor die heavy dinge in sy kop weer begin.

Dis nou al twee dae sedert die ma met die kleintjie op haar rug voor die trein wat hy bestuur het, ingeloop het en selfs vir ’n hardcore ou soos hý was dit nogal rof.

Hoewel hy al baie mense in sy lewe gemoer het (vir plesier of in sy vorige beroep as ’n cage fighter) en dus gewoond is aan pyn en bloed, spesialiseer hy nou nie juis daarin om ma’s en babas met treine dood te ry nie en hy moet erken dat dit nogal aan ’n man vat.

Nie te lank gelede nie was daar ook die keer toe ’n skollie homself des moers toe geval het toe hy probeer trainsurf het op ’n ander trein wat Ben gery het en tóé het Metrorail al begin met hierdie kak dat hulle hom na ’n kopdokter toe wil stuur.

Hy wou hulle nog tune dat sover hý weet, is dit net pissies wat huil en moffies wat op ’n ander ou se bank gaan sit om getroos te word, maar hy is nou al so donners gatvol vir die meid van HR se aanhoudende gebel . . .

“Meneer Liebenberg, welkom. Ek is dokter Verwey,” onderbreek die kop-mechanic sy gedagtes met ’n moerse smile en uitgesteekte hand.

André vat sy hand en druk dit onnodig hard om aan hom te demonstreer dat hy nie die een of ander pushover is wat nou met tissues, tampons en Earl Grey-tee ’n pity party op sy rusbank gaan kom hou nie.

Hy volg Dr. Phil tot in sy spreekkamer en dié wys na ’n stoel terwyl hy steeds inneemlik glimlag. Die man is darem nie onaangenaam nie, dink André, maar hy lyk effens deur die kak en hy is sommer dadelik lus om daai vaak grynslag met ’n plathand van sy bakkies te vee.

Teen die muur hang daar geraamde sertifikate, goeters wat soos kuns lyk, ’n moerse klok en nie ’n enkele foto van ’n vrou of ’n kind nie. Tipies, dink André en voel sommer nóg meer macho terwyl hy gaan sit.

“André, in die afgelope paar weke was daar twee insidente by jou werk wat jou ’n moontlike kandidaat vir posttraumatiese stresversteuring maak”. Hy sê die res amper soos ’n rympie op.

“Vandag is slegs ’n aanvanklike konsultasie om ’n idee te kry of jy inderdaad terapie benodig. Hoewel jou werkgewer jou aangeraai het om my te kom sien, is dit steeds vrywillig. Ek neem dus aan jy is hier omdat jy voel jy benodig wel hulp,” sê-vra hy lui terwyl hykonsentreer om die pen op te tel.

André skuif ongemaklik rond en oorweeg dit vir ’n oomblik om vir Dr. Phil te vertel van Lizette en hoe die storie met háár eintlik die enigste ding is wat hy nie kan hanteer nie. Hy besluit egter daarteen, want dit lyk of die dokter ’n moerse hangover het en sekerlik nie nou in die mood is vir lovey dovey bullshit nie. Hy knik halfhartig instemmend.

“Hoe het jy gevoel toe die vrou met die baba voor jou inloop? Was jy magteloos?” vra dokter Verwey terwyl hy André stip probeer dophou.

André is amper lus om vir Klaas Vakie te vra of hy besig is om asprís te wees. Natúúrlik was hy magteloos, duh. Fok. Hy slaap al vir die afgelope twee aande niks en kots heeltyd, vanoggend selfs gal.

En nét wanneer hy dink hy is weer on top of things, dan sien hy daai vrou se gesig voor hom, báng en onbeskryflik sad, met haar mond so oop asof sy wil gil, maar nie mag nie, want sy het sélf gekies.

Hy dink heeltyd hoe dit sou wees om terug te gaan na daardie oomblik wat hy haar sien en dan sélf by die venster uitspring voor die trein haar tref en op impak die pap babatjie vyf meter van haar rug vorentoe slinger.

Vorentoe, maar steeds op die spoor. God! Hoekom?

Hy dink aan Lizette en hoe sy beslis die regte ding sou kon sê om hom nie soos ’n moordenaar te laat voel nie. Hoe hy altyd beter gevoel het, selfs as sy hom net vasgehou het. Maar daai dinge is privaat en hy vertel dit nie vir ’n vreemdeling nie.

“Nee wat, almal weet mos hoe lank dit vat om ’n bewegende trein te stop. Niemand kan mý daarvoor blameer nie. En as jy wil dom wees, moet jy kak . . . suffer, bedoel ek,” antwoord hy triomfantlik.

Dokter Verwey kyk skepties na die bruingebrande man voor hom. Hoewel hy jonk is, kan ’n mens sien hy het hárd geleef. En hoewel hy sy bes probeer om braaf te wees, is daar tog ’n effense trilling in sy stem en beide sy hande is in vuiste gebal.

Uit jare se ondervinding in die praktyk glo hy natuurlik nie vir ’n oomblik dat André heeltemal so onaangeraak is soos wat hy probeer voorgee nie. Maar hy is moeg en het regtig nie nou die krag om iemand, wat waarskynlik ’n wife beater onder sy blou hemp dra, dáárvan te probeer oortuig nie.

“Ná die insident waar die man van die trein se dak geval het, was daar’n voorval by die werk waar jy in ’n vuisgeveg met een van jou senior kollegas betrokke was. Sou jy jouself beskryf as iemand wat redelik impulsief en aggressief is? Iemand wat oorreageer?” vra dokter Verwey stadig.

André wonder of hy hom moet vertel van die oggend wat hy Lizette se kefferbrakkie byna doodgeskop het. Of daai keer toe hy ’n bierglas in die orige bedelaar se gesig gebreek het? Nee, liewer nie. Dit lyk nie eintlik of Dr. Phil nou sulke nuus sal kan hanteer waar hy so met sy vingers teen sy slape vryf nie.

“Daai bra het getender vir ’n snotklap toe hy kom neuk het met die skoflys,” antwoord hy dan net nors.

Dank God dit is amper vyfuur, dink dokter Verwey. ’n Mens kan nie tot iemand soos André Liebenberg deurdring as jy nie een honderd persent paraat is nie.

“Ek kan verstaan dat dit jou kwaad gemaak het,” paai hy. “Voel jy soms dat dinge te veel raak vir jou? Voel jy só oorweldig dat jy nie uitkoms sien nie? Het jy al ooit selfdood oorweeg?”

Halleluja, dink André. Hierdie ou is darem nie heeltemal onnosel nie. Hy wil hom vertel dat hy elke oggend wonder of vandag sy laaste dag gaan wees. Of vandag die dag gaan wees waarop hy gaan snap.

Hy wil hom vertel dat hy niks het om voor te leef nie en hoe hy elke kans wat hy ooit gehad het met dwelms en drank opgefok het. Hoe sy ma gesê het dat sy dit nie meer kan vat nie. Hoe hy ’n tweede kans gekry het met Lizette. Maar dat hy dít ook opgemors het. Hy wil hom so graag vertel, maar hy kán nie.

“Selfdood klink soos iets wat moffies met wit handskoene doen. Was dit nou regtig nodig vir hulle om daai naam ook te gaan staan en verander?” vra hy sarkasties en grinnik vir sy eie grap.

Dokter Verwey loer na die klok. Hy rammel sy standaardtoespraak vir moeilike pasiënte af. En besluit om sommer al volgende week verlof in te sit.

“André, ek vermoed jy ly aan skok en dat die ware gebeure van eergister nog nie tot jou deurgedring het nie. Dit is dikwels moeiliker vir mans as vir vroue om oop te maak, maar namate jou sessies met ’n sielkundige vermeerder, glo ek dat jy daardie persoon in jou vertroue sal neem. Ek wil graag een van my kollegas aanbeveel.”

André soek nie ’n kollega nie, hy soek vir Dr. Phill. Sure, hy was dalk bietjie hard op hom en die man staar sommer nou al openlik na die klok, maar hier is iemand wat omgee oor hoe hy voel. Beste van als is dat hy ook nie sal kan judge oor hoe hy Lizette behandel het nie. Moffies is die laaste mense om te mag judge.

“Kan jý nie my sielkudige wees nie?” vra hy skor. Hy wil hom alles van Lizette vertel. Van haar lekker lyf en lang blonde hare en haar flat in Bothasig waar hy altyd welkom was. Van hoe sy gesê het sy is eerder alleen as saam met iemand wat sy bedonnerdgeid op háár uithaal en haar uitskel vir ’n hoer. En van toe net verdwyn het saam met daai doos by haar werk.

“Ek is ongelukkig met verlof volgende week en daarna is ek redelik vol bespreek. Maar ek kan jou die versekering gee dat my kollega een van die beste sielkundiges in Kaapstad is. Die sekretaresse sal vir jou sy kontakbesonderhede op pad uit gee. En ek sal met hom reël dat hy vroeg volgende week vir jou plek maak.”

André staan op. Voor hy by die deur uitstap, draai hy om en glimlag in dokter Verwey se rigting wat nou elke greintjie inspanning gebruik om nie op die mat te gaan lê nie.

“Dankie, Dokter, vir jou tyd.”

***

Die hysbak na die grondverdieping is stampvol en bedompig. André staan agter in die hoek en voel effens naar. Iemand se foon begin aanhoudend daai irriterende Nokia-ringtone lui wat hy so haat. Dit hou nie op totdat hulle onder is nie.

Hy bly in die hysbak agter terwyl almal anders uitklim.

En dan druk hy die knoppie wat hom na die drie en dertigste verdieping toe neem.

 


 

Lees die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

Klik hier vir die kortlyskandidate

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top