Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Die siekte"

  • 0

Die siekte: Die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

 


Wat werk?

’n Verhaal wat die leser tot aan die einde boei om dan uit te wys dat hy/sy alles verkeerd geïnterpreteer het, en die verhaal eintlik ’n heel ander “twist” het as vermoed, is ’n lekker uitdaging.

Wat om te lees

  • Die kortverhale van Rita Gilfillan – as voorbeeld van verhale wat emosievol is.
  • Gaan lees oor sielkundige toestande, dat die verhaal met meer oortuiging aangebied kan word.
  • Die afdeling oor “Geboorte en moederskap” in Dogters van Afrika (saamgestel deur Riana Scheepers).

Waarom aan aandag te gee:

  • Dink na oor die keuse van die vertelperspektief. Die verhaal moet van die begin na die einde “verloop” sonder dat dit net ’n blote beskrywing klink van wat gebeur. Ontwikkel die spanning in die verhaal deur die interne konflik van Thomas se ma uit te beeld. Gee vir die lesers ’n aanduiding dat alles nie pluis is nie, maar moenie dat die leser weet wat aan die einde gaan gebeur nie.
    • Jy verwissel ook van perspektief – ’n doodsonde. Jy kan nie oorslaan tussen vertellers nie, daarvoor moet jy ’n nuwe afdeling in die verhaal skep.
  • Ontwikkel jou karakters. Hier is hulle blote beskrywings. Jakob was sexy, haar ma se oë was dood. Thomas is net ’n asempie op haar sleutelbeen. Dit word nie “mense” waarvoor ons simpatie en woede voel nie, hulle bly blote papiermense.
    • Daar is te veel karakters in die verhaal wat almal ’n stem vir opeis. Kyk na die verskil tussen randkarakters en hoofkarakters en vertel die verhaal sonder om voortdurend nuwe  karakters toe te voeg.
    • Lettie se karakter moet stelselmatig ontspoor. Die siekte moet haar nie eensklaps aantas nie, dit moet ontwikkel en spanning in die verhaal skep.
    • Die ma-karakter moet beter in die verhaal verweef word. Sy staan as simbool van die verlede. As onmiskenbare feit dat die volgende geslag oor die siekte van die verlede sal dra omdat in hulle gene is. Maak meer van hierdie karakter en verhaalelement. En wat kom maak sy nou uiteindelik daar?
    • Die pa-karakter wat saans by die tafel sit en huil oortuig nie. Siekte is brutaal en vernietigend. Nie net vir die mens wat siek is nie, maar ook vir dié in die leefwêreld van daardie mens. Dit bring die beste en slegste in ons uit. Dit maak van ons geharde of verowerde mense. Dit blus ons lus vir die lewe ... Dit beïnvloed ons persepsie van die dood. Dit vernietig ons godsdienstige oortuiginge ... Dit laat ons nie net huil nie.
  • Ek is nie oortuig van die milieu waarin die verhaal afspeel nie. Dit is ’n kliniek, maar daar is ook ’n grondpad ... maar sy ry ’n huurmotor nie ’n skorro-skorro-taxi nie. Waar speel die verhaal af? En as dit (soos ek vermoed) in ‘n plakkerskamp is met een van daardie oorvol klinieke, word dit beslis nie reg hier verbeeld nie.
  • Kyk na die beskrywings en stelwyses:
    • Hoe laat jy jouself toe om na iemand te verlang? Emosie kom op in jou, jy verlang, jy kry seer, jy dink terug.
    • Hy het weggehardloop stad toe. Hoekom het hy haar maar nie net verlaat nie?
    • Hoe weet sy sy sal haar ouers nie weer sien nie, én dan verbreek sy kontak met hulle?
    • Ek het al baie beskrywings van kraam gehoor, maar in die literêre bedryf is die beskrywing wat die skrywer aanbied, nie goed genoeg nie. Is dit hoegenaamd nodig om iets oor geboortepyn te sê? Dra dit tot die verhaal by? Is die skrywer besig om die leser te manipuleer?
    • Dit voel amper asof hy niks weeg nie – kan ook mos maar wees dat hy lig is ... amper is nie hier of daar nie ...
    • Moet sy Pep-tekkies dra? Moet sy struikel en glas hoor breek? Alles in een sin.
    • Haar mond val bietjie verder oop – dit is nie moontlik nie. Sy kan haar asem intrek, sy kan verbaas wees, sy kan skrik ... maar haar mond kan nie verder oopval nie.
    • jy kan nie voel hoe jou hart teer pomp nie.
    • Fyn motreën kan nie die wêreld uitgeblyk laat voorkom nie.
    • Jy kan nie aan jou onderlip kou nie.
    • ’n Mens kan nie elke twee minute hoes nie. Hoes is nie aan tyd gekoppel nie.
  • Die verhaal het voortdurende terugwysings na die verlede en die herinnering. Kyk hoe hierdie “onthou” beter geëntegreer kan word in die verhaalstruktuur wat geskep word.
  • Daar is te veel beskrywing. Te veel verduideliking. Die teks vertel en beskryf, dit wys en ontvou nie. M.a.w. die verhaal (soos dit nou staan) lees soos ‘n storie wat bloot oorvertel word. Dit integreer nie die verhaalelemente (karakters, gebeure, vertelperspektief, tydsverloop, dialoog, ens.) tot ’n goeie geheel nie.
  • Gee aandag aan die dialoog. Dit oortuig nie. Kyk ook na die vermenging van Engels en Afrikaans. Lettie druk Thomas sagkens teen haar vas, maar sy guns haarself ook luxury. Watter taalregister is nou eintlik reg?
  • Ek hou van die korter sinne. Dit is ’n effektiewe manier om Lettie se wêreld te verbeeld.
  • Wees versigtig vir te veel byvoeglike naamwoorde.

Die titel moet heroorweeg word. Dit is voorspelbaar.

 

Lees die eerste weergawe van Die siekte

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top