Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Desperate Housewife"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Desperate Housewife

Sy vat ’n sluk van haar koffie – swart, sonder melk en suiker, net soos die nuwe dieetplan wat teen die yskas geplak is voorskryf. Met ’n sug van verligting sak sy dan voor haar rekenaar neer. Vandat haar wekker vanoggend afgegaan het, was dinge net chaoties. Asof dit nie erg genoeg is om ’n man en drie kinders uit die bed en reg te kry vir werk en skool nie, moes sy nog in die geharwar help met ’n onvoltooide Lewensoriëntering-taak, omsendbriewe teken, Poena die foksterriër kos gee en haar man help soek na sy karsleutels.

Karen van Loggerenberg dubbelklik op die Word-ikoon. Sy kyk hoe ’n nuwe skerm voor haar oopmaak. Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe en dan begin sy tik:

Hy draai haar om met ’n drif wat onbekend is vir haar. Stadig en sensueel begin hy haar nek lek tot by haar hals. Behendig volg sy nat tong die roete af ondertoe wat die hoendervleis op haar vel vorm. Sy tong trakteer haar tepels, twee parmantige rosyntjies wat instinktief op sy aanraking reageer. Dan lek hy haar verder tot by haar naeltjie.

Die font van die teks pla haar. Times New Roman lyk tog so banaal. Sy verander dit na Arial Narrow. Tevrede, begin sy verder tik:

Hy druk haar plat teen die kombuistafel. Met sy heupe forseer hy haar bene oop. Haar hele liggaam tril in afwagting. Sy is skielik bewus van sy prominente geslag wat haar kloppend en koorsagtig tegemoetkom. Sy weet dat hy haar gaan toedien met dit waarvoor haar lyf al so lank hunkerend smag. Sy trek hom stywer teen haar vas en gee haarself volkome aan hom oor.

Karen van Loggerenberg bloos skielik vir haar gedagtes, maar terselfdertyd ervaar sy ’n vreemde sensasie van ekstase. Sy wens Hannes, haar man, wil haar behandel soos Fabio, die Don Juan in haar erotiese kortverhale. Fabio met die welige bos swart hare, groen oë, aristokratiese neus, sensuele mond, six-pack, gespierde boude en die libido van ’n jong stoetbul. Toe sy en haar vriendin Lena laas week te veel Springbokkies gedrink het toe sy en Koos by hulle kom braai het, het die wulpse Karen skielik in haar ontwaak. Hannes het haar vanaf die braai uit die hoek van sy oog aangegluur namate sy meer uitbundig begin lag het vir Lena se bedpraatjies saam met Koos. Na die braai, toe Hannes in die bed klim, op pad om die bedlampie af te skakel, het sy haarself styf teen hom vasgedruk, haar groot, sagte borste wat teen sy moesierug druk en haar onversorgde huisvrou hande wat so sensueel as moontlik teen sy harige bors afbeweeg tot om die spaarwiel wat Hannes om sy middel saamdra.

“Nie vanaand nie, ek is hardlywig,” het Hannes gesug, die bedlampie afgeskakel, gesug en kliphard gepoep. Karen van Loggerenberg is al vir twee en twintig jaar getroud met ’n man wat seksueel hardlywig is. Sy is al gewoond aan hierdie blokkasie, wat kort na die geboorte van hul jongste kind gekom het.

Haar selfoon lui skielik. “Kaptein, span die seile”, sing Kurt Darren soos haar foon lui. Ja, Hannes van Loggerenberg, dink Karen, as jy maar net jou dekselse seil vir my kan span.

Sy antwoord. “Karen Hallo”.

“Hallo, my liefste vriendin, hoe gaan dit?”  Dis Lena.

“Ag, jy weet mos, as dit nie die een ding is nie, is dit die ander, maar ek kla nie. Hoe gaan dinge daar by jou?”

“Jong, vriendin, ek vat mos nie grond nie!  Kosie het mos ’n rugbybeurs gekry om na een van die topskole hier in die stad te gaan, so ons is nou mos natuurlik druk besig om die finale reëlings daarvoor te tref. En Leentjie se danseksamen is mos oor twee maande en dan is dit nog ’n hele gedoente om haar matriekafskeidrok klaar te kry. En dis mos nie asof dit maklik is om ’n afspraak by Simon Rademan daarvoor te kry nie. Jy weet mos. Ek weet nie hoe ek al my draaitjies gaan kry nie. Ek is ’n bol senuwees, vriendin. ’n Bol senuwees, sê ek vir jou!”

“Ja ek weet”, sug Karen. Sy weet maar alte goed waarvan Lena praat, maar die aansitterigheid in haar vriendin se stem irriteer haar vandag.

“Nietemin liefste vriendin, ek dog ek gee jou gou ’n tinkle net om seker te maak of jy wel nog saam Skouspel toe wil gaan. Hierdie jaar s’n gaan blykbaar ongetwyfeld die beste wees. Ek sidder om te dink dat ons dit moet misloop liefste vriendin.”

Karen voel weer daardie ongekende opgewondenheid in haar binneste roer. Sy kan dit al klaar sien:  sy in die voorste ry, met Nicholis Louw of Snotkop wat voor op die verhoog staan en hul heupe ritmies in haar rigting pomp. Die blote gedagte daaraan maak haar al klaar koorsig. Huisgenoot Skouspel is ongetwyfeld die hoogtepunt van Karen van Loggerenberg se jaar. Dis die een naweek in ’n jaar wat sy van Hannes verwag om huis-huis te speel en te sorg dat die kinders versorg is.

“Maar natuurlik!  Jy weet ek mis dit vir niks!”

“Fantasties!  Net een probleempie liefste vriendin. Jy weet mos ek kan soos in glad nie met die rekenaar werk nie, wat nog te sê kaartjies aanlyn bestel. En nie Koos of die kinders het die geduld om my stap vir stap te wys nie. En boonop is ek so druk besig. Jy weet mos vriendin. Ek sal eenvoudig net nie die tyd kry om dit self te gaan bespreek nie.”

Karen weet waarop Lena afspeel. “As dit seker nie anderste kan nie, kan ék altyd maar die kaartjies gaan bespreek.”

“Is jy sekertjies liefste vriendin?  Ag, jy is ’n engel!  Wil jy dan sommer nie die bespreking vir die gastehuis ook maak nie?  Aangesien jy nou besig is. Ek sal sommer dat Koos die details van die plek vanaand vir jou e-mail. Ek sal met jou regmaak as ons die naweek ry.”

Karen weet dat Hannes nou weer ’n ellelange preek vir haar sou afsteek oor sy toelaat dat Lena haar misbruik, maar Karen vind dit moeilik om vir Lena nee te sê. Karen van Loggerenberg vind dit moeilik om vir enige iemand nee te sê.

“Dis reg, Lena, ek gee nie om nie.”

“Ag, jy is ’n engel van ’n vriendin, Karen van Loggerenberg!  Maar nou ja, laat ek totsiensies sê, ek wil nie die besige huisvrou weghou van al haar moederlike pligte nie.” 

Karen voel skielik baie skuldig, soos ’n Sondagskoolmeisie wat in die pastorie betrap word waar sy onsedelikhede aanvang met die predikantseun.  Sy wonder wat sal Lena sê as sy moet weet dat sy wat Karen is, besig is om erotiese kortverhale helder oor dag te skryf. Nog erger, wat sal Hannes en die kinders daarvan sê?

Karen gee ’n ongemaklike laggie, groet vir Lena en lui dan af. Sy probeer haar opgewondenheid oor Skouspel onderdruk en verder skryf, maar haar gedagtes bly dwaal. Sy onthou skielik dat sy nog ’n draai by die winkels moet gaan maak om sjerrie en suurlemoensap te koop. Sy het op ’n nuwe Huisgenoot-wenresep afgekom wat sy net eenvoudig vanaand moet uittoets:  ’n geurige sjerrie-sampioensop. Ten spyte van haar nuwe dieetplan, gaan sy haarself die voorreg gun om net vir vanaand in te gee. Sy verdien dit sekerlik. Haar oog vang meteens die Best Mom in the World-kouse wat sy saam met haar pienk paar Crocs aanhet. Sy twyfel vir ’n oomblik of sy reg aangetrek is om in die publiek te verskyn, maar die moeite om nou eers iets meer skaflik te gaan aantrek laat haar besluit dat sy die reg het as huisvrou en ma van drie om soms bietjie ontspanne en informeel in die publiek te verskyn.

Karen sien skielik onder in die regterkantste hoekie van haar rekenaarskerm hoe laat dit alreeds is. Sy sal moet wikkel as sy vandag nog hierdie kortverhaal wil klaarkry. Oor ’n paar uur moet sy die kinders gaan oplaai by die skool en dan begin die gejaag weer tussen dramaklasse, rugby, ballet en hokkie. En sy moet nog voor die tyd by die winkels ook uitkom!  Sy vat ’n sluk van haar koffie wat teen dié tyd al yskoud is.

Voor sy verder tik, vang haar oog haar weerkaatsing in die rekenaarskerm:  haar ongewaste hare waarin die grys al hoe meer prominent te bespeur is, die sakke onder haar oë, die lagplooie om haar mond wat dieper voorkom. Dan kyk sy na haar naels wat tot in die lewe in gebyt is. Karen van Loggerenberg onderdruk hierdie beeld en tik dan verder:

Hy trek haar stywer teen hom vas, haar harde tepels teen sy bors. Sy haak haar hakke agter sy boude in. Sy grasieuse beweging tussen haar bene in maak dat sy haar naels diep in sy rug inslaan. Sy snak na asem en byt dan teen sy skouer vas.

Karen se selfoon gaan af. ’n SMS. Dis van haar dogter af: 

Ma, onthou om hokkiesak skool te bring. Ht vrgeet by huis. En stop asb bib vi info oor evolusie, of kyk op wiki. Pretty plz... Lovies

Karen van Loggerenberg druk die Control en S-sleutels op haar rekenaar se sleutelbord. Sy stoor die kortverhaal onder Onvoltooid. Sy sal moet spring as sy vandag nog al haar draaie wil maak.

 


 

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top