Mevrou Boervrou, die toordokter

  • 0

Met geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie kan jy ’n berg versit, maar ná verlede week weet ek nou vir seker dat bygeloof so mikroskopies klein soos ’n atoom die aarde dalk uit sy wentelbaan kan gooi.

Ek is twee jaar gelede met ’n sitrusboer getroud.  Ek pas nog nie lekker in die boervrourol nie, maar ek probeer hard. My skoonma het ’n  padstal buite die dorp, waar sy allerhande snuisternye, aandenkings vir die toeriste en tuisgemaakte konfyt verkoop.

Maandag het sy by my gekla oor die opgeskote dorpskinders wat hulle lang vingertjies nie uit haar lekkergoedrakke kan hou nie.

“Die polisie kan niks aan die situasie doen nie, want hulle is net kinders! Hulle maak my bankrot,” het sy moedeloos gesug.

 “Ma,” het ek gesê en my vingers geklap toe ’n blink plan hom voordoen. “Ons maak of die plek getoor is.”  My agtermekaar skoonma het haar fyn neus veroordelend opgetrek, maar ek het vinnig verduidelik.

“Ons kry veertjies en beentjies en koop ’n paar dobbelstene. Dan ‘toor’ ons so bietjie voor die winkel sodat die kinders kan sien. As hulle vra, sê ons hulle wat ons doen, dat mense wat hier steel baie siek kan raak en sommer doodgaan ook. Die storie sal vinnig versprei.”

Ma het van die idee gehou. Daardie agtermiddag het ou Lena kruisbeen buite voor ons agterdeur gesit. Sy was besig om ons aandete te pluk, ’n nekomgedraaide hoender wat nog vroeër die middag op die werf rondgeskrop het. Ek het gegril, maar het dapper langs haar gaan staan. Ek is glad nie meer lief vir hoender vandat ek nie meer netjies verpakte filette in die winkel mag koop nie. Ek het Lena gevra om die vere vir my te hou.

“Hoekom, Mevrou?” wou sy weet.

Ek wou die leuentjie so outentiek as moontlik maak.

“Want ek is mos eintlik ’n toordokter. En Lena, asseblief, noem my Letitia. Mevrou laat my verskriklik oud voel.”

“Oukei, mevrou Letitia.” Lena se oë was groot en bekommerd.

“Jy weet mos hulle steel so by my ma se plek, Lena. Ek gaan die winkel toor en as mense weer daar steel, gaan hulle baie, baie siek word.”

Lena se oë het nog groter geraak. “En hier by die plaas, Mevrou – het Mevrou die plaas ook getoor?”

“Ja, Lena, ek het die plaas ook getoor.” ’n Tweede wolhaarstorie waaroor ek later spyt sou kry.

Dinsdag is ek dorp toe om inkopies te doen en die dobbelstene te gaan soek. Die middag by die huis gekom, is ek met ’n plastieksak die tuin in om vir my skoonma kwepers te pluk. Maar die drie kweperbosse was kaal – nie ’n enkele ryp vrug aan die takke nie!

Ek het my skoonma gebel, maar sy het nie iets van die kwepers geweet nie. My man ook nie. “Lena, het jy die kwepers gepluk?” wou ek weet.

“Nee, Mevrou.”

“Lena, dit was net jy hier by die huis. Weet jy dalk wie dit gedoen het?”

“Nee, Mevrou.”

“Lena, as dit jy was, kan jy maar net so sê – ek sal nie kwaad wees nie.”

“Dit was nie ek nie, Mevrou.”

Woensdag het Lena nie kom werk nie. Haar man, Jakob, het teen middagete met die slegte nuus by die huis aangekom.
Lena is in die nag dood. Ek het yskoud geword. “Sy is getoor, Mevrou,” het hy gehuil.

“Het sy die vrugte gevat, Jakob?”

“Ja, Mevrou.”

Ek was verpletter en het vir drie dae in selfverwyt verdrink tot ek dit nie meer kon uithou nie. Ek het vandag die hospitaal gebel. ’n Hartaanval het arme Lena haar lewe gekos, maar die vreemdste van alles was die groot stuk kweper wat hulle in haar lugpyp gevind het.  

Lees ’n onderhoud met Trish Goosen hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top