Met vreemde karakters en intriges sal Harde woorde jou tyd opslurp

  • 0

Titel: Harde Woorde
Skrywer: Francois Bloemhof
Uitgewer: Lapa
ISBN: 978-0-7993-4433-2
Publikasiedatum: Maart 2009
Aantal bladsye: 397

Klik hier om jou kopie van Harde woorde te bestel by kakahari.net.

 

Harde Woorde, deur die veelsydige en veelbekroonde skrywer Francois Bloemhof, is ’n speurverhaal met ’n kinkel. Maar nee, dis nie net die normale kinkel wat jy in ’n speurverhaal se beseringstyd sal verwag nie. Alles, van die omslag tot die lettertipe tot die karakters en hul interaksies, het ’n aweregse gevoel. Asof die skrywer goed weet hy skryf binne die grense van ’n genre met ’n oorbekende resep, en dan alles in sy vermoë doen om op dié resepmatigheid kommentaar te lewer en grense te verskuif. Die tegnieke voel met plekke geforseer, tog hou dit die boek interessant op baie vlakke en word ’n mens ingeslurp deur die vreemde karakters en hul innerlike intriges.

Begin by die speurder – die vroulike privaatspeurder Alma van der Pool. Hierdie is die derde Bloemhof-boek waarin Alma die snuffelhond is. Sy is nie net uniek as die eerste en enigste vroulike speurder in die Afrikaanse verhaleryk nie; as karakter het sy ook ’n interessante mengsel van eienskappe. Aan die een kant gedrewe, hardwerkend, bang vir niks en bereid om enigiets – selfs haar belangrikste verhoudings – op die spel te plaas solank sy ’n saak vinnig en ordentlik kan oplos. Sodoende is sy ook alleen, geskei, met min vriende oor en ’n moeilike verhouding met haar kind. ’n Weerlose, feilbare vrou wat dikwels weet wat die "regte" ding is om te doen, en dan presies die teenoorgestelde aanvang.

Sy deel hierdie neiging met die manlike hoofkarakter, Cor Esterhuyse. Hy is nog ’n enigma – die land se enigste manlike skrywer van Afrikaanse liefdesverhale. Alleenloper, skrywer, selfgesentreerde, ryk erfgenaam van Kaapstad se noordelike voorstede. Sjarmant en aantreklik, maar met ’n stewige skoot selftwyfel en asosiale neigings wat hom tot ’n klein binnekring inperk. Cor gebruik die paar mense wat wel "naby" aan hom is, skaamteloos as karakters en inspirasie in sy suksesvolle, gewilde debuut.

Dis ’n paar maande na die publikasie, en Cor word die teiken van ’n reeks sinistere gebeure en dreigemente – eiendomskending, vals resensies van sy boek wat na bekende publikasies gestuur word, ’n aanval op sy huishoudster ... Hy roep Alma se hulp in om die raaisel te probeer ontsyfer, hopelik voor die woordspeletjies tot (ernstiger) aksie oorgaan.

Na die blatante manier waarop Cor sy binnekring se karakters, verledes en betrokkenheid in sy lewe net so in sy boek ingeskryf het, het elkeen ’n motief tot haat: “Sy het hulle so sit en kyk: nie net as mense wat kuier nie, maar as karakters in ’n storie. Hulle – of die meeste van hulle – moet baie vergewensgesind wees. As sý so maklik die verbande kon vind, moes hulle mos almal?” (133).

Bloemhof maak sy karakters geloofwaardig deur hul dwalende gedagtes wat spring tussen die groter krisis en klein onbenullighede. Die verteller se fokus verskuif ook kort-kort van een na die ander karakter, soos ’n senuweeagtige kameralens wat in- en uitzoem en nie tot ruste kom nie. Spanning tussen en binne die karakters, besluiteloosheid, selfondersoek en die karakters se worsteling met hul eie donker kante en swak verhoudings word van groter omvang as die blote storielyn. Soos die fokus tussen karakters verskuif en elkeen ’n kans onder die vergrootglas kry, vervaag die grense tussen normaal en versteurd. Na ’n uitputtende raai- en ontrafelproses bly daar niemand oor om te vertrou nie en is elke verdagte in die "whodunnit"-web ewe moontlik die skuldige.

Dit raak soms vergesog hoe verdraaid die hele spul mense en hul gedagtegange is. Daar is afloerdery, afguns, aggressie, agterdog, agterbaksheid – en dis net die a-woorde waarmee mens hulle kan beskryf. Die skrywer werk weer eens bewustelik hiermee. Dis asof hy antwoord: onthou, die waarheid (met ander woorde die "ware gebeure" in die boek) is vreemder as fiksie. Deurentyd meet karakters dinge wat gebeur, of hul reaksies daarop, aan hoe dit “in 'n boek” sou gebeur het, soos waar Cor dink: “My asem stol in my keel. Sulke uitdrukkings kom nie normaalweg by hom op nie; dit hoort in 'n boek …” (157).

Karakters se taalgebruik skep 'n goeie werklikheidsgevoel. Baie idiomatiese taalgebruik en segswyses word eie aan elke karakter op 'n manier wat amper in 'n sitkom tuis hoort. Dit werk goed as 'n spanningsverligter en mens kan jou verkneukel in die maniertjies en uitdrukkings van "onse mense". Dit is ook geloofwaardig – jy herken byvoorbeeld die eie manier waarop mense met bekendes praat, soos ’n paar karakters wat vir Cor as “ons skrywer” aanspreek.

Nog 'n stuk "werklikheid" wat in die boek ingeskryf word, is die verskyning van 'n paar Suid-Afrikaanse skrywers en letterkundige figure uit die "regte lewe". Die skrywer verduidelik dit ook op die agterflap – dat hy nie “'n oortuigende skrywer-karakter [kon] hê as hy nie kontak met werklike skrywers het nie”. Hy laat ook toe vir die moontlikheid dat dit juis die boek se gevoel van werklikheid vir 'n leser kan verminder, eerder as om dit te verskerp. Vir my is dit ongelukkig so – dit herinner my dat hierdie net 'n storie is, en dat karakters uit die "regte lewe" eintlik glad nie daar hoort nie.

Op die ou end is hierdie skryftruuks, soos om openbare figure as karakters te gebruik, of telkens gebeure af te speel teen hoe dit "in ’n storie" sou gebeur, interessant as mens dit krities wil ontleed. Maar as mens net wil ontsnap en meegesleur word in 'n goeie spanningsriller, onderbreek dit die aksie te veel. Dit voel soos om in die see te duik en te probeer visse kyk, maar sonder 'n snorkel of gasbottel, sodat jy heeltyd moet opkom vir lug.

Die plasing – in die hede en in Kaapstad – werk uitstekend. Die aksie wissel tussen 'n klomp plekke: karakters se huise, inkopiesentrums, Cor se strandhuis, die Kaapse snelweë. Dit skep deurgaans 'n baie teenwoordige, geloofwaardige omgewing vir die gebeure. Dis meer as 'n agtergrond: motors, bedelaars, of mense wat verbyloop terwyl die karakters koffie drink, verskyn vinnig op die toneel vir 'n stukkie kommentaar of 'n vinnige blik uit 'n ander hoek en verdwyn dan weer. Die stad en die gewone mense daarin dra by tot die spanning en temas van gebroke en ingewikkelde verhoudings, obsessie, voorstedelike angst, agterdog en 'n gespanne leefstyl wat jou deur die boek bybly.

Bloemhof skryf sintuiglik – die omgewing se reuke, kleure en klanke word aanmekaar ingespan om by te dra tot die gebeure. Dit gee lekker vleis aan die storie, maar voel tog hier en daar geforseerd en oorbekend. Honde wat blaf en takkies wat onheilspellend kraak laat nie meer maklik mens se nekhare rys nadat honderde flieks en boeke dit reeds probeer doen het nie.

Op die ou end is die speletjies wat die skrywer met die genre en die leser speel (net soos wat die booswig van die storie woordspeletjies met Cor speel), vir my die boek se grootste minus én sy grootste aanbeveling. Dis intelligent en krities geskryf en wys jou heeltyd hoe laf ’n misdaadroman (of ’n liefdesverhaal, of enige soort populêre literatuur) eintlik kan wees. Maar as jy net ’n goeie, spannende riller wil lees en jou laat meesleur deur die boek, kry jy nie wat jy soek nie. Daarvoor sal ek die skrywer salueer – vir sy weiering om die massas te lepelvoer met nog meer van dieselfde.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top