Marius Crous gesels met Loftus Marais oor sy debuutbundel

  • 0

As student in die kreatiewe skryfkundeklas aan die Universiteit van Stellenbosch was ek bevoorreg om saam met Loftus Marais en (prof) Willle van der Merwe onder Marlene van Niekerk se begeleiding gedigte te skryf. Ek voel amper soos die ginekoloog se assistent wat van die begin af daar was toe die gedigte verwek is, hulle gegroei het en gebaar is. Binne die Afrikaanse letterkundediskoers is daar mos altyd die suspisiefaktor, so laat ek my kaarte op die tafel sit. Oor na Loftus:

Verduidelik vir my die interessante titel van jou bundel, Staan in die algemeen nader aan vensters. Wie is Billy Collins wat jy in die motto aanhaal?

Die bundel gaan op 'n manier oor kyk. Dalk is daar net 'n graadverskil tussen kyk en poësie. Maar mens kyk nie net nie, mens raam, mens dress dinge op met gordyne en hortjies - daaroor is daar ook iets te sê. En ruimte is belangrik in die bundel, en dis ook 'n ander ding van vensters: hulle veronderstel 'n sekere kamer. So, daar word met sien en plekke gespeel, en die titel, 'n reël uit een van die gedigte, aktiveer dié spel op interessate maniere.

Billy Collins is 'n wonderlike Amerikaanse digter. (Vergewe hom dat hy US Poet Laureate was tydens Bush-jare.) In een van sy gedigte skryf hy, "at one point the moon appeared/ looking like the top of Shakespeare's/ famous forehead". Ja. Hy het net soveel insigte oor vensters as oor voorkoppe - en vandaar die motto.

Jy dra die bundel aan jou ma op. Skryf sy ook, of het jy die liefde vir skryf en die poësie by haar gekry?

My ma skryf nie, nee. Sy is in die onderwys. My ma was gelukkig nooit 'n sóórt ma nie. Ek het op skool gewoond geraak aan al die moontlike tipiese Boland-ma's: dié wat in Kombi's rondgejaag het en die netballemoene gesny het, die obese basaarbaksters, die ewig-lugverkoelde tea ladies, die bourgeois-boheme met hulle deurmekaar hare en pottery-klasse, ens. My ma was en is net haar doodnormale ingewikkelde self, en sy moedig my aan en ondersteun my heeltyd, soos 'n briljante onderwyser. En sy is baie mooi.

Hoe inspireer jou vriende, jou beminde(s) en jou familie jou om te skryf?

Vriende moet snaaks wees, bemindes moet mooi wees, en familielede moet jou herinner aan die string psigoses waarvandaan jy kom. Ek is gelukkig omdat dit meestal inderdaad só met die mense rondom my is. En dan maak hulle soms jou oë oop, so in die verbygaan sonder dat hulle dit weet, oor iets wat skerp is, of pragtig is, of complicated is, en dan dra jy 'n gedig aan hulle op.

Hoe verloop jou skryfproses? Wat prikkel jou gewoonlik om te skryf? En hoe verloop die proses dan verder?

Dit wissel maar met elke gedig. Meestal sien ek iets, of hoor ek iets, en maak 'n nota. (Ek het eenkeer 'n Moleskin-notaboek gehad, maar toe sien ek eendag een van daai UCT Hiddingh Campus ponces peinsend in ene skribbel, toe gooi ek myne weg, want dit lyk darem net te precious. Deesdae skryf ek maar agter in my dagboek.) En dan gaan sit jy later met musiek en koffie voor die rekenaar en skryf en skrap totdat jy met 'n stukkie gekondenseerde taal sit. En dan, so vyf dae later, lees jy dit weer en as jy nie embarrassed is deur wat daar staan nie, save jy dit in die "Nuwe Gedigte"-folder in "My Documents".

Mens kan aflei uit die gedigte dat jy besonder wyd lees. Is dit noodsaaklik om wyd te lees? Is jy nie bang vir beïnvloeding nie?

Mens is altyd bang vir invloede. Maar ek is banger dat ek gevoel verloor met wat tans in die letterkunde aangaan - maar dis ook nie hóékom ek lees nie: ek lees omdat ek regtig nie anders kan nie.

Wie is jou gunsteling Afrikaanse digter? En nie-Afrikaanse digter?

As ek een moet kies: Wilma Stockenström. En dan, op die oomblik is ek behep met 'n Amerikaanse digter genaamd Mark Doty. Sy werk is so ekonomies en elegant. As sy gedigte 'n vrou was, dink ek hulle sou 'n bietjie soos Kristin Scott Thomas gelyk het.

Gepraat daarvan. Jy is bekend as die literêre speurder tydens die Melanie Grobler-debakel. Hoekom het jy dit openbaar gemaak? Of voel jy jy moes dit anders hanteer het? Hoekom is mense so sensitief vir sulke aangeleenthede?

Wel, eerstens, ek is nie spyt ek het dit openbaar gemaak nie - lesers het mos 'n reg om hierdie tipe van goed te weet as hulle bundels koop en lees. Miskien sou ek wel minder gung-ho en selfvoldaan wees in die aanklag as ek alles weer moes oordoen; dis nou nie asof sy 'n reeksmoordenaar is nie.

Ek dink mense is maar so sensitief oor sulke aangeleenthede omdat almal verleë is. Die Afrikaanse letterkundekringe is ook maar klein; almal het 'n vriend / ? vested interest / 'n vyand om die hoek.

Ek dink ek sou jou werk opsom as synde 'n ontluistering van die bekende. Stem jy saam?

Dit klink baie indrukwekkend, so ja, ek stem saam.

Plekke soos byvoorbeeld Kaapstad speel ? belangrike rol in jou gedigte. Hoekom skryf jy so graag oor die Kaap?

Ek sou graag iets ougat wou sê soos: "Omdat mens hier heeldag in die skadu van 'n moerse metafoor lewe - Tafelberg - hoe kan jy dan nie begin vergelyk en rym nie?" Maar ek dink die waarheid is eerder dat mens maar skryf oor dit wat om jou is.

"Daddy" (32) plaas jou bundel binne die tradisie van die gay-literatuur in Afrikaans. Wat is jou mening oor die tradisie en hoe sien jy jou posisie binne hierdie tradisie?

Ek weet nie of ek 'n "posisie" binne die tradisie het nie. Ek bewonder skrywers soos Koos Prinsloo en Johann de Lange, en ek is trots op die Afrikaanse gay-tradisie waarbinne húlle wel posisies het. Mens kan net nie oor gay clubs of gay morning afters skryf sonder om 'n knik in hulle rigting te maak nie, hoewel jy dalk ander dinge as hulle met jou woorde wil aanvang.

Verwysings na die popkultuur kom deurgaans in die bundel voor. Daar is goeie balans tussen ernstige en populêre kultuur in jou werk. Hoekom?

Ek dink dit gaan maar net weer oor die feit dat ek skryf oor dit wat om my is, die wêreld waarin ek lewe. Radiohead sê net so baie vir my soos Wallace Stevens.

"Die digter as rockstar" (40) is een van my gunstelinge. Dit spreek die tradisie van die Afrikaanse poësie aan en herskryf dit in moderne idioom. Is dit maklik(er) om sulke tipe gedigte te skryf?

Makliker in die sin dat dit meer fun is. Rebelsheid, sarkasme, 'n gevloek: hierdie dinge het hulle eie energie wat die skrywery aaanjaag op 'n totaal ander manier as byvoorbeeld unrequited love of 'n gewonder oor die Tragies-Liriese kwaliteite van die eensame bloekomboom - you get my drift?

Jy het die skryfkundekursus by Marlene van Niekerk deurloop. Hoe het die kursus jou gebaat in jou skryfwerk? Kan mens iemand leer skrywe?

Marlene is 'n fenomeen, en 'n konstante bron van inspirasie. 'n Digter kan nie leer dig nie, maar iemand met 'n slim hand kan vir hom wys dat die digkuns ook, en altyd, 'n ambag is, 'n dissipline, 'n alewige selfredigering. Ek voel die kursus was ook op 'n sekere manier 'n time machine - dinge wat ek baie langer sou gevat het om op my eie te besef en te ontwikkel, het binne die verloop van drie jaar in 'n skielike vreeslike growth spurt gebeur. Ek is oneindig dankbaar daarvoor.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top