Nuwe Stories-onderhoud: Lezandra Thiart

  • 0

1. Wie is Lezandra Thiart?

Ek is ’n denker en ’n dromer en ’n realis (wanneer dit nodig is) alles saam. Ek het nog nie besluit of ek myself regtig as ’n skrywer beskou nie – ek dink nie jy kan jouself na een kortverhaal ’n skrywer noem nie. Maar ek glo in die toekoms sal nog stories my vind; die wêreld is te vol stories om jouself daarvan af te sluit.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

My reis na Nuwe stories het heel toevallig gebeur. Ek het die kortverhaal ’n hele paar maande voor die tyd reeds geskryf en was nie van plan om dit vir iemand te laat lees nie. Ek het op daardie stadium as assistent by die Universiteit van Pretoria se Afrikaans-departement gewerk en ek het opdrag ontvang om die inligting van die kompetisie onder die studente te versprei. Aangesien ek ook ’n student was, het ek toe besluit om in te skryf net om te sien of daar iets van kom. Nou ja. 

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

My kortverhaal ondersoek in ’n mate die psige van iemand wat herhaaldelik tot aggressiewe dade gedryf word, maar wie se siklus moontlik deur die krag van vergifnis verbreek kan word.

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek kan nie een skrywer werklik uitsonder as my gunsteling nie, maar ek geniet veral die romans van E Kotze (Toring se baai en Hoogty). Daar is iets omtrent die manier waarop Kotze die klein dorpies aan die Weskus beskryf wat enige stadsmens sal laat see toe trek.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Fees van die ongenooides deur PG du Plessis is my gunsteling-boek in Afrikaans. Ek het ook ’n groot liefde vir dramastukke, dus lees ek graag verhoogtekste.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Nee. Ek glo as jy te ver vooruit beplan, is die kans baie groot dat jy teleurgesteld gaan wees. Dag vir dag is gewoonlik meer my spoed. Ek glo wel dat ek in die volgende vyf jaar nog sal skryf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top