Gerber en Jordaan op toer

  • 0

Die orrelis Herman Jordaan is tans op besoek aan Suid-Afrika en tree op in enkele konserte in Pretoria, die Kaap en Potchefstroom saam met die tjellis Anzél Gerber.

Die eerste van dié konserte is Vrydag 12 April om 19:30 in die NG kerk Waterkloof, Deystraat 353, Pretoria.

Ná ’n blitsbesoek aan Kaapstad en Franschhoek op 13 en 14 April is die twee terug in die noorde vir ’n konsert in die NG kerk Miederpark in Potchefstroom op 16 April om 19:30.

Jordaan woon en werk tans in Londen, maar het die grootste gedeelte van sy orrelstudie voltooi aan die Amsterdam-konservatorium in Nederland met Jacques van Oortmerssen as leermeester en in Den Haag aan die koninklike konservatorium onder die leiding van Jos van der Kooy.

As voorgraadse student aan die Universiteit van Pretoria was sy dosente onder andere Wim Viljoen (orrel) en Stefans Grové (komposisie).

Benewens optredes in Brittanje, het Jordaan konserttoere onderneem na Europa, Rusland en die VSA.

Hy het onlangs ’n CD uitgereik in die Great European Organs-reeks. Dié opname is gemaak op die Harrison & Harrison-orrel in die St. Alban-katedraal in Engeland.

Gerber het na Pretoria teruggekeer nadat sy gestudeer het in die buiteland, hoofsaaklik onder Russiese leermeesters, en toe haar doktorsgraad aan die Londen-universiteit se Goldsmiths-kollege behaal het. Sy gee tans tjello aan die Universiteit van Pretoria.

Sy het na die VSA, Europa en Asië gereis vir uitvoerings en meesterklasse en ook post-doktorale navorsing aan die Temple-universiteit in Philadelphia in die VSA voltooi.

Saam met die pianis Ben Schoeman is Gerber verlede jaar aangewys as die beste duo in die internasionale Ragusa-kamermusiekkompetisie in Si­silië, Italië, en daarna het hulle as algehele wenners die Baronessa Constanza Arezzo Giampiccolo di Donnafugata IBLA-prys ontvang.

Die oorwinning het hulle ’n debuut verseker in die Kurt Weill-saal, die kamermusieksaal in New York se Carnegie Hall, op 2 Mei. Gerber en Schoeman onderneem terselfdertyd ’n konsertreis na talle stede in die VSA.

Gerber en Jordaan se toerprogram sluit in werke van Fauré, Schumann, Vivaldi, ­Boëllmann, Jongen, Rheinberger en Cassadó, maar ook Hendrik Hofmeyr se Crucifixus, ’n vyfdelige werk wat in 2005 vir Gerber geskryf is.

- Kaartjies vir die Pretoria-konsert kos R100 (R40 vir kinders) by die deur. Navrae: 012 460 3457. Kaartjies vir die Potchefstroom-konsert is beskikbaar by die konservato­rium of by die deur 30 minute voor die konsert.

Bostaande berig het op 4 April in Beeld verskyn.


Anzél Gerber (tjello) en Herman Jordaan (orrel)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top