Die panorama in my truspieël voorspel tot sterk bundel

  • 0

Titel: Die panorama in my truspieël
Outeur:Daniel Hugo
ISBN: 9781869192969
Uitgewer: Protea
Bladsye: 64

 

 

 

I

Daniel Hugo beklee ? uitsonderlike posisie binne die Afrikaanse digkuns. Hy het veral die vernufsvers ontgin en besondere hoogtes bereik met die limeriek, die speelse vers en slim toespeling. My gunstelingbundel is Skeurkalender. Maar daar is ook te midde van die speelse en vernufsvers ? sterk melancholiese draad wat deur sy digkuns loop. Enersyds speels, andersyds seer.

Verder is hy ? voortreflike vertaler en dikwels herdigter. Veral sy vertalings van Herman de Coninck is uitstaande. Dit moet steeds as ? vraag gestel word: Waarom is Hugo se vertalings nie in Groot Verseboek opgeneem nie, terwyl ander vertalers wel gekanoniseer is?

Vir die digkuns-liefhebber is sy keuses uit die werk van Ina Rousseau en Olga Kirsch eweneens belangrike versamelings. En ook die werk van Philander benader hy met sorg. Hugo is ? kundige letterkundige en veral sy werk by RSG en sy vele onderhoude met skrywers is van uitstaande gehalte.

Sy jongste bundel heet Die panorama in my truspieël, uitgegee deur Protea met ? voorbladontwerp na ? foto van George Hugo, die digter se seun, en versorg deur Hanli Deysel, wat werklik mooi voorbladontwerpe maak. Die redakteur was die uitstekende Martjie Bosman.

 

II

Die bundel begin met ? motto van De Coninck waarin die verhouding tussen die tydelike en ewige uitgespeel word met ? voorkeur vir die tydelike.

In die programgedig word die afwysing van die metafisika op ? komplekse wyse beskou. “Voyeur” (7) beweer dat God sy rug op ons gedraai het, maar kyk via die maan, ? kosmetiese spieël, na ons:

wat hy daarin sien, sal hom nog ? eeu
of so plesier kan gee en dan finaal laat gru –
mens sou dink God is ? digter: hy leef per-vers.

Tog is God nie afwesig nie. In ? winterkwatryn (28) lees ons:

II

takke knak en dakke kraak
in die noordwes wat loei:
god is weer met ? swaar hand
dié seisoen aan die snoei.

Dit is egter ? God met ? kleinletter. In “Grootdruk” (30), opgedra aan George Weideman, wat weens sigprobleme in groot font moes skryf, word die verhouding met God ook uitgespeel:

God rangskik versreëls
oor die vlakte – ry op ry
lê inkblou berge.

In “Mossie en mens” (55) word God se kosmiese simfonie beskryf.

Die verhouding tussen gedig en lewe is ? bekende tema in Hugo se werk, met die gedig as afbeelding of “glancende kiemzel” (Vestdijk). Die leser word dus gerig na die vers se bindmiddele, en tegnieke word behendig uitgestal. In ? gedig vir Eybers, “Sonland”, word die verhouding tussen Afrika en Europa beskou met die wete dat die digter in sy taal gevange gehou word aan Afrika. Die slot aktiveer ook GA Watermeyer se bekende gedig en die digter maak hier die teks oop na ander gedigte waarin die verbintenis met taal en identiteit beskryf word. Eybers se afstand/verbintenis-spel word eweneens hier geaktiveer.

Die digkuns is ? obsessiewe proses, een waarna die digter vlug (“die donkerkamer van die digkuns”, "Filmologie” (11)), en die gedig is uiteindelik ? proses waardeur sin gemaak word en al wat sin maak.

Die ontginning van woorde se betekenisse, soos in “Die hakkelaar” (12), ? vers oor Barrie Hough, werk behendig rondom die leser se mede-skrywing van wat tersaaklik is. In Roland Barthes se terme word die leser dikwels genoop om ? "scriptible" ("writerly") lesing van die gedig te maak. ? Goeie gedig hoef dus nie ? filosofiese stelling te maak nie; trouens, die gedagte-inhoude is dikwels maar aan die dun kant (“Sinne en sin” (13)), maar die spelende, saam-digtende leser lees nie vir filosofiese waarhede nie.

Klank en ritme en beeld is dus vir die digter Hugo waarom dit gaan, hoewel hy in die vers die verskillende maniere van doen erken.

Vir my is die skitterende “Loflied op die letterkunde” (20) ? hoogtepunt in Hugo se oeuvre en dit is nou onlangs, op Wêreld-Boekedag, tereg in Die Burger aangehaal. Hy wys in hierdie gedig op al die foute en vergissings, die stommiteite en leuens. Maar die gedig dekonstrueer die vorige stelling dat ? gedig nie ? filosofiese waarheid hoef uit te dra nie! Hierdie gedig lewer felle kommentaar op die traak-my-nie-agtige houding rondom die letterkunde wat alte maklik op pad is na ? pulpfabriek.

 

III

Kenmerkend aan Hugo se digterskap vind ons telkens woordspel (Poseidaan) en ? ontginning van die haikoe-vorm in ? hand vol mooi gedigte. “Blanko blad” (27) vra vir ? saamlees met Opperman se Kuns-mis, onder andere. Daar is winterkwatryne wat goed werk en Hugo se vernuf is telkens by sodanige vorme opvallend. Sy bemoeienis met die digterskap word uitgespeel in “Lees by lamplig” (33), waar die digterlike woord as onskadelik gesien word. In “Bestemming” (34) word die titel geaktiveer en word die digterlike proses dan weer as gevaarlik gesien. Die digter is ? klein god wat skep, en gedigte lewer kommentaar op vorige verse of laat dit verval (“met dit gedicht …). Daar is dus verse wat kommentaar lewer op die proses en die eise wat dit aan die digter stel (“Kortsluiting” (42) en “Toe en nou” (44)).

Daar is lykdigte en reisdigte aanwesig in hierdie bundel. En humoristiese verse oor ? kat soos Ogden Nash dit kon doen.

 

IV

Daar is egter verse waar die blik in die truspieël dof en flets is. ? Vers soos “Verdubbeling”(45) illustreer dit by uitstek:

snags terwyl die naakslakke
op die sitkamer se mat
blink spore maak

doen ons op die dubbelbed
(ná ? paar doppe)
ons eie slakding: naak.

Die herhaling van die woord naak is hier onfunksioneel. Die gedig hou dus geen verrassing in nie. Hierdie soort spel eis veral die onverwagse rym of wending op. Dieselfde geld ? gedig soos “Naak” (46). “Paradyskloof” (47) kom eweneens nie verby die voor die hand liggende nie, ofskoon die beeld van die tarentale se geskree wat soos ? geroeste swaai klink, ? oomblik van vervreemding of ostranenie skep.

Trouens Hugo het al vantevore knapper en vaardiger gedig oor ? onderwerp soos “Huwelik” (39).

 

V

In die sterk slotvers, “Die lang pad” (64), is die digter besig met ? bestekopname:

jy word gedwing om ? palindroom te versin:
begin is bestemming en bestemming is begin.

Die tyd het geleer dat ? digter dikwels met ? mindere bundel uitkom by ? sterker bundel. En hopelik is die volgende bundel sonder mis op die truspieël.

Hugo se digterskap is een van vernuf én spel. André P Brink het jare gelede Hugo se digterskap met ? kamerorkes vergelyk. En dis hoe ? mens hierdie oeuvre moet benader en waardeer.

 

Bronne

Barthes, Roland. 1970/1974. S/Z/ An essay. New York: Hill and Wang.

Hugo, Daniel. 1988. Speelse verse. Kaapstad: Tafelberg.

 

Relevante samestellings

Kirsch, Olga. 1994. Nou spreek ek weer bekendes aan. ‘n Keur 1944-1983. Kaapstad: Human en Rousseau.

Philander, PJ. 1996. ‘n Keur uit sy gedigte. Kaapstad: Tafelberg.

Rousseau, Ina. 2003. Die stil middelpunt. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top