Die koekieboek
Maritza Breitenbach
Paddycat Uitgewers
Beskikbaar by www.offtheshelfbooks.co.za
R180
In 1996 is Eve Ensor se Vagina Monologues vir die eerste keer opgevoer en van hierdie obskure begin het dit gegroei tot ’n internasionale produksie. Ensor se projek was gebaseer op sowat 200 onderhoude wat sy met vroue gevoer het oor onder meer hulle sienings van seks en hulle belewenis van menstruasie, geweld en verkragting.
Plaaslik het Maritza Breitenbach eers The Cookie Book en nou onlangs Die koekieboek in vertaalde vorm laat verskyn. Op haar webblad noem Breitenbach dat sy snags wakker word en wonder hoekom sy juis ’n boek oor die vagina moes skryf. Sy is geen ginekoloog nie en is nog minder ’n pornograaf. Daar was ook altyd by haar die behoefte om openhartig met haar kinders oor hulle seksualiteit te praat, maar sy het nie oor die nodige woordeskat beskik nie.
Nou, hier moet ek toegee: dié boek het my laat voel soos die karakter in Angela Carter se Passion of New Eve; soos iemand wat op ’n planeet beland het waarvan hy niks weet nie, en waarvoor hy ’n heilige vrees het. Freud het nie verniet van die vagina as die donker vasteland gepraat nie. En ek het al van die vagina dentata gehoor. Eweneens was ek bedag daarop dat ek maklik van ’n tipe voyeurisme beskuldig kon word omdat ek met soveel gretigheid die boek gepak het.
Net soos in die geval van Isabelle Allende se Aphrodite word elke hoofstuk smaakvol geïllustreer en is dit gewis ’n pluspunt dat ons die lewenswetenskaphandboeksketse gespaar is. Of die oopvouende orgidee vir die deelnemers aan byvoorbeeld Boer soek ’n vrou oor die ware plesierpunte van die vroulike liggaam gaan leer, weet ek nie.
Fassinerend was die stories oor reuke en die herskep daarvan in parfuum om die juiste muskusse van die liggaam te herskep. So word daar in Duitsland ’n geur met die naam Vulva ontwikkel wat mans dryf tot hoëre ervarings van libidinale plesier.
Maar mens moet nie frappant wees oor dié boek nie. Dis ’n nuttige boek vir beide mans en vroue, want ek weet daar is heelwat inligting in hierdie boek waarvan geharde straight mans ook nie weet nie. En dan praat ek nou nie van inligting oor vreemde parfuumgeure of die etimologie van die woord klitoris nie. Kyk maar net na die inhoudsopgawe (http://www.thecookiebook.info/die-koekieboek) – die woorde spreek vanself:
Deel 1: Die Ontdekking van ons Feestelike Voue
- Wat Noem Ons die Gleufie
- Die Naakte Waarheid
- Die Vroulike Snu(i)f
- Paradoks – Heuningpot of Hindernis?
Deel 2: Koekiekundigheid: Die Lewenssiklus van ‘n Vagina
- Dogtertjies se Dingetjies
- Die Vroeë Tienerjare
- Maagdelike Reinheid
- Seksuele Gemeenskap
- Swangerskap en Geboorte
- Die Oorgangsjare
Deel 3: Koekie-Coiffure: Boskasie Dekorasie
- Tatoeëring en Liggaamsdeurprieming
- Kleur, Kap en Kartel
- Haarsorg Sonder Sorge
Deel 4: Koekemakranka: Mediese Afdeling
- Die Histeriese Vrou
- Vaginale Infeksies
- Seksueel-Oordraagbare Siektes
Deel 5: Kulturele Norme en Waardes
- Koekies wat Byt
- Hoe Meer Mense, Hoe Meer Dinge
- Genitale Skending
- Verering en Verheerliking van die Vulva
- Leer Ken en Koester.
Hieruit kan afgelei word dat die boek oor meer handel as net menstruasie en maagdevliese – twee woorde wat die standaardwoordeskat van jou deursnitman uitmaak. Selfs gewaagde aspekte soos genitale skending wat eie is aan etlike kultuurgroepe word bespreek. Dit ten spyt, is hierdie beslis nie ’n swaartillende handboek oor die vroulike geheimenis nie. Daarvan getuig reeds die titel en die opskrifte van die onderskeie afdelings. Veral deel 4 dink ek sal die meeste mans maar verbyblaai en hulle vroue na die ginekoloog verwys.
Ek hoop hierdie boek verkoop goed en kry ’n wye leserspubliek, want ek dink dis nodig dat die vaginamonoloë eerder dialoë sal word en mans en vroue mekaar sal uitvra en saam sal ontdek. Veral ook dat kinders met ’n nuwe blik na seksualiteit sal kyk. (Wonder of daar genoeg stof sou wees om ’n boek oor die penis te skryf?)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Nou toe nou!
Ek het gedog ons gaan oor koekiesbak praat, altans so het ek gedink toe ek vinnig die voorkant van die boek lees, maar gou besef dat dit oor heel ander koekies gaan. Dankie die resensie. Dit klink na 'n boek wat op elke vrou se rak hoort.
Trienie
Waar kan ek die koekieboek in die hande kry. Geen van my plaaslike boekwinkels het dit of stel belang om dit the kry nie.
Hi
Wil graag 2 van die Koekieboeke bestel - hoe maak mens?