Voëlhokkie-frustrasie

  • 2

’n Tydjie gelede verval die huurooreenkoms op my werkgewer se ou gebou. Met groot fanfare kondig die base toe aan dat ons na 'n nuwe gebou gaan verhuis. Die nuwe gebou is een van daai green buildings, waar die krippe in die badkamers waterloos is, die ligte hulself afskakel as hulle nie beweging optel nie, en al sulke lekker goete.

So terloops, laat die base toe ook val, dis nou 'n oopplankantoor. Wonderlik. Waar ons elkeen voorheen ons eie kantoor gehad het, waarin jy selfs kon poep in jou privaatheid sonder dat ander mense uitpass, word ons verskuif na voëlhokkies. Nie eens "cubicles" nie, nee, sulke lang lessenaars waar die sardientjies vier-vier ingeryg word, met slegs 'n klein partisie wat bo-op die lessenaars staan om jou van jou kollega te skei.

Ons het dus, in die nuwe gebou, geen privaatheid meer nie. Jy kan elke liewe woord hoor van jou kollega se persoonlike en foongesprekke, en nie net wat jou kollega sê nie, maar sommer ook wat die persoon waarmee hy of sy praat, vir hom terugsê aan die anderkant van die lyn. Dan is daar natuurlik die morone wat "conference calls" hou, waartydens drie-drie van hulle saamkoek om die foon, en die ganse vloer elke woord van die conference call kan hoor.

Ongelukkig vir my sit ek aan dieselfde tafel van 'n vrou met 'n vreeslose sosiale lewe. Kom ons noem haar Sosiale Sannie. Elke dag reël dit ballonne vir kinderpartytjies, kerrie-en-rys vir die kerk se kermis, ekstra wiskundeklasse vir haar telgies en Sondag se ete met haar skoonma. Ek weet in die fynste besonderhede presies wat in haar lewe aangaan, want sy sit 2m van my af en ek is 'n onwillige dog gedwonge afluisteraar in 'n iedere en elke van haar talle daaglikse foongesprekke.

Dit is bykans onmoontlik om op jou werk te konsentreer met die konstante geklets en foongesprekke rondom jou, veral omdat ons werkgewer ons ook verbied het om met oorfone op te werk aangesien dit kwansuis onprofessioneel sou wees.

Wanneer iemand 'n verkoue of griep het, veroorsaak die groteske oorbevolking van werknemers dat dit 'n Ebola-agtige epidemie word, want nies Sosiale Sannie, is ek en ses ander mense onmiddellik besmet. Ek is dankbaar dat my kollegas nog nie een of ander seksueel-oordraagbare siekte opgedoen het nie, want ek sit so naby aan hulle dat dit slegs ’n kwessie van tyd sou wees voordat die lot van ons penisillien by die dokter sal moet gaan kry vir Spotted Dick.

Om tee en koffie te kry, is eweneens 'n nagmerrie. Die enkele wasbak is heeltemal oorwerk, omdat daar seker maklik 200 mense op ons vloer saamgekoek sit. Jy staan tou vir 'n goeie paar minute om jou koppie uit te spoel, en jou koffie te kry.

Goed, ek kan uit die werkgewer se oogpunt verstaan hoekom oopplankantore vir hom 'n goeie idee is. Daar op die vyfde vloer, in sy ruim kantoor, sit die direkteur en glimlag oor hoeveel geld hulle spaar in terme van kantoorruimte. Hier op die voorste linies is die motiveringsvlakke egter laag. Verskeie mense het reeds bedank, onder andere omdat die hokkie-hel te erg raak. Ons almal se produktiwiteit, myne ook, is in sy moer, omdat my aandag deurlopend deur die geklets afgelei word.

Maar genoeg daarvan. Laat ek my CV gou uitstuur na nog 'n paar plekke. Hopelik het hulle kantore darem "cubicles."

JP

  • 2

Kommentaar

  • Joe hulle begin maar net die plek inrig vir die Sjinese wat hulle binnekort wil aanstel in plek van al die wittes wat hulle van ontslae wil raak.

    Voorspoed

  • Duitswester, ek glo nie hulle wil net van die "pale faces" ontslae raak nie maar van almal van ons. Dit is ook geen toeval dat die vogelgriep daar by hulle ontstaan het nie, want hulle werk in die hokkies. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top