2013 Feesprogram: Woord-ure

  • 0

Woord-ure

Wandeling oor argitektuur
Wil jy sien en hoor hoe opwindend en interessant argitektuur is? Hoe geboue die storie van ’n dorp vertel? Kultuurhistorikus Matilda Burden laat jou met ander oë kyk na die Eikestad se argitektoniese juwele. Vanjaar is daar twee roetes: Maandag, Woensdag en Vrydag na die middedorp; Dinsdag, Donderdag en Saterdag na die Braak.
4-9 Maart 17:00 | vertrek van Erfurthuis | 60min | R40, bespreek by 021-887 2937

 

 
Bettina Wyngaard

Vuilspel
Aangebied deur Umuzi
Bettina Wyngaard praat oor die harde werklikheid van geweld teen vroue en die sterk vrouekarakters in haar tweede roman Vuilspel. Moenie dié opkomende talent misloop nie.
4 Maart 11:00 | Erfurthuis | 50min | R40

So amper waar
Aangebied deur Umuzi
François Loots gesels oor sy nuwe roman Rooi Jan Alleman, waarin hy die lewe van die Afrikaner-kommunis Bram Fischer onder die loep neem. ’n Fassinerende blik op ’n omstrede historiese figuur!
4 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | R40

My pad met engele
Kom luister saam na Belinda Bras-Nel se verhale oor ervarings met hemelwesens. Sy bespreek haar nuwe boek My pad met engele en vertel hoe haar engele haar tot bemagtiging gelei het. Wil jy hoor hoe om ’n engelboodskap te ontvang?
5 Maart 11:00 | Boektent | 50min | R50

Net soos jy is
Aangebied deur CUM-uitgewers
Baie vroue voel soms dat hulle net nie goed genoeg is nie, maak nie saak hóé hard hulle probeer nie. Milanie Vosloo wys jou hoe om dié leuen vir goed nek om te draai. Kom ervaar hoe hemels dit kan wees om aanvaar te word – net soos jy is!
5 Maart 12:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Die eerste Grieks-Afrikaanse Bybel
Aangebied deur CUM-uitgewers
Met Hermie van Zyl, Herman du Toit en Sua du Plessis
Al ooit gewonder hoe Bybelvertalings werklik gedoen word? Met die Interliniêre Bybel sien jy vir die eerste keer hoe die Grieks stap vir stap Afrikaans geword het.
5 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Superster van die Sjoa
Anne Frank, wie se dagboek in meer as 60 tale vertaal is, het ’n kultusfiguur geword. In dié lesing ondersoek Lina Spies die pynlike diskrepansie tussen Anne as eensame dagboekskrywer en gebroke slagoffer van die Sjoa (Hebreeus vir ‘vernietiging’), teenoor haar beeld as verheerlikte postume superster.
6 Maart 12:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Treurgrond
Aangebied deur Kraal Uitgewers
Na heftige openbare reaksie op Treurgrond – 20 jaar van plaasaanvalle is besluit om dié boek by te werk. Met treffende kunswerke van Pauline Gutter, gedigte en nuwe navorsing oor die hel van plaasaanvalle, word Treurgrond ’n boekmonument ter ere van die slagoffers. Die bekende Dirk Hermann is aan die woord.
6 Maart 15:00 | Erfurthuis | 50min | R50

Die Lam van God
Aangebied deur Die Vriende van Afrikaans
Die uitdrukking ‘Die Lam van God’ het ’n diepsinnige betekenis regdeur die Bybel. Die veelvlakkigheid van dié simboliek het literêre, beeldende én musiekkunstenaars deur die eeue aangegryp. Hoe dit uitdrukking vind in poësie,

uitbeeldings en klank is die tema van hierdie multimedia-aanbieding.
7 Maart 09:00 | Erfurthuis | 50min | R40

                                                                                                                        Lina Spies


Dan Sleigh
Aangebied deur die ATKV
Die gevierde ATKV Prosapryswenner Dan Sleigh praat oor sy historiese roman Afstande. Hy vertel hoe Nagri, die laaste Joodse profeet, 2 400 jaar gelede moeitevol die pad vir sy Verlosser in die woestyn berei, oortuig dat dit ’n Griek gaan wees. Nagri – die woedende digter van Psalm 137, die eunug wat sy geld op straat aan prostitute weggee – se verhaal lê tussen die Ou en Nuwe Testament. Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
7 Maart 10:00 | Boektent | 50min | R50

PEN Afrikaans
Alles oor PEN Afrikaans: Sonja Loots, EKM Dido en Heilna du Plooy stel die leidsliede voor, vertel van die opwinding oor hul amptelike erkenning as 'n PEN-sentrum, gesels oor die webwerf op LitNet en gee 'n kykie in planne en bedrywighede.
9 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Manlikheid in krisis?
Aangebied deur Griffel Uitgewery
Met Juliana Claassens, Stella Viljoen en Chris Broodryk
Mediabeelde vertel ons daagliks dat manlikheid saamhang met magsug, geweld en kits-bevrediging. Drie bydraers tot Sacred Selves: Essays on Gender, Religion, and Popular Culture praat oor misdaadfiksie, glanstydskrifte en film, en besin oor man-wees in Suid-Afrika.
9 Maart 15:00 | Erfurthuis | 50min | R40


Barakat

Maak kennis met die opwindendste jong stemme in Afrikaans: Adrian Different, Rimestein en Pieter Odendaal. Soms moet daai laaste stukkie van die beste woordkonkoksies weggebêre word om later geniet te word. Stiek uit en kom experience hoe ’n barakat gepak moet word sodat die savouries nie met die soetgoed mix nie!
10 Maart 16:00 | Boektent | 50min | R20 by die deur

Rimestein

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top