2013 Feesprogram: Hemels

  • 0

Hemels in 2013

Pendeldiens – vir die eerste keer!
Weens die probleme met parkering op Stellenbosch maak die Woordfees vanjaar jou lewe makliker met ’n pendeldiens. Parkeer dus jou motor veilig by Hoërskool Stellenbosch en neem ’n pendelbussie na jou Woordfees-bestemming. Roetes en vertrektye in die middel van die boekie agterop die kaart, asook by www.woordfees.co.za.

Mxit maak jou fees-ervaring maklik!
Mxit is die Woordfees se amptelike sosiale netwerk-vennoot. Om jou Mxit-toepassing op jou foon af te laai, besoek m.mxit.com – gaan na Tradepost> Entertainment> Festivals & Events> Woordfees, en siedaar! Nou het jy toegang tot die feesprogram, kompetisies en inligting met die druk van ’n knoppie op jou telefoon!
Besoek ook gerus die Woordfees se Facebook-blad vir daaglikse veranderinge en spesiale informasie.

14 Jaar hemel op aarde
Kom kyk nostalgies na die programme, plakkate, artefakte en ander reklamemateriaal wat die suksesverhaal vertel van 14 heerlike Woordfeeste! Dié uitstalling belig die geskiedenis en merkwaardige groei van die Woordfees sedert sy ontstaan.
1, 4-8 Maart 08:00-16:30 | US Argief, Wilcocks-gebou | Gratis

kykNET Deurnag Teaterfees
Vir die eerste keer by die Woordfees: ’n Marathon van vyf topteaterstukke in een keer, sodat jy meer kan sien deur die week! Koop een heelnagkaartjie, heerlike eetgoed ingesluit, vir die weggeeprys van R400 – jy sal in die wolke wees! As jy te bang is vir Klaas Vakie, kry gerus enkelkaartjies. (Kyk onder Dramafees vir die teksbeskrywings.)

22:30: Die lelike eend + ’n bottel wyn (R90)
00:15: Deksels + slap chips en 'n Coke (R90)
01:30: Heiland + vonkelwyn en soesjie (R95)
03:15: Hol + Red Bull en Kit-kat (R95)
04:30: 2092 God van klank + koffie en beskuit (R75)
1-2 Maart 22:30 – 05:00 | Klein Libertas Teater | R400 vir die hele pakket

Woord-en-Wyn Paradys
Vir die heel eerste keer op die eerste Woordfeesnaweek: ’n heerlike kuierfees van kultivars, kos en klank – raak feesfiks vir die week deur te kom dak natmaak by die feesterrein! Skuur skouers met van die kunstenaars, skrywers, donateurs en ander glansmense wat Woordfees toe kom. ’n Stemmingskepper wat jou by voorbaat (engel)vlerke sal gee.

  • Ons wy die Boektent in met wyn, in ’n proe-fees soos min, met sowat 15 bekende wynplase wat hulle beste wyntjie voorsit en meeding om ’n prys vir die oorspronklikste en mees gepaste sê-ding by hul stalletjie. So reg in Matie-styl word jy beloon as jy die Woordfeesprogram op-‘swot’: beantwoord vrae daaroor en wen Woordfeeskaartjies!
  • In die Plataankafee wys Mia watter hemelse geregte tydens die fees op jou wag, saam met meesleurende akkordeon- en ander musiek.
  • De Vette Mossel se sand lê en wag vir jou en ’n viskossie sis al op die kole. Dié stukkie paradys word net vir die dag die Drostdy-Hof Wyntuin, met die Tuindwergies en ander wat sorg vir vermaak.
  • Jy kan tussendeur wegglip na feeskunstenaar Wim Botha se indrukwekkende installasiekuns in die Sasol Kunsmuseum of na Evette Weyers se boeiende woord-en-beeld uitstalling langsaan by Stellenbosch Galery.
  • Gaan laai gerus jou kinders af by die veilige kykNET Kinderfees by PJ Olivier en kom klink ’n glasie op Woordfees 2013!

2 Maart 12:00-22:00 | Boektent, Plataankafee en De Vette Mossel | 10 ure | R60

Hemel en aarde
Louise Howlett (sopraan) en Albert Combrink (klavier)
Hierdie jongste produksie deur die veelfasettige duo vertel verhale van heilige liefde en aardse romanse deur klassieke arias, liedere en Broadway-ballades van regoor die wêreld. Dit bewys nogmaals dat musiek die grootste taal van die liefde is.
2 Maart om 15:00 | Fismer| |75min | R110, R80

Die hemel: 30 x 30
Kurator: Nelis Koegelenberg
Kom kyk hoe lede van die Kunsvereniging Stellenbosch in 30 x 30-formaat, in gemengde media, te werk gaan om die Woordfeestema ‘hemels’ uit te beeld.
3 – 26 Maart 09:00-16:00 | Louw Erasmus-saal, PJ Olivier Kunssentrum | Gratis
Opening: 2 Maart 14:30

Tussen hemel en aarde
Installasiekuns deur Herman van den Berg, Pieter Lombaard, Carina Stander, die stem van Chris van Niekerk, en die ryk gedigte van TT Cloete. Produksie: Alexa Strachan
‘Jy kort daai ding wat die Engelse noem the equilibrium of opposites. In my gedigte is daar jubeling, vreugde, maar nie net dit nie. Dit alleen… nee. ’ Omvattende belewenisteater vir intieme gehore.
5 Maart 18:00, 19:00, 20:00 | 6 Maart 19:00 | 7 Maart 18:00, 20:00 | 8 Maart 17:00, 19:00 | 9 Maart 17:00, 19:00 | PJ Olivier | 40min | R50

Gaan diere hemel toe?
Die Egiptenare het nie net mummies van mense gemaak nie, maar ook miljoene van diere (veral katte, valke en ibisse). ’n Aantal van dié dieremummies is onlangs op Stellenbosch met ’n CT-skandeerder ondersoek – wat dit opgelewer het, is ’n groot verrassing! Sakkie Cornelius, Ruhan Slabbert en Anton du Plessis kom deel hul kundigheid.
6 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R40

Straatmylfees
Ter ere van oud-Dagbreker De Villiers Lamprecht se eerste droommyl in SA
Ondersteun deur Namaqua Wines, US atletiekklub, Oud-Dagbrekerbond en Nu'Bar SSW.
Kom neem deel aan een van die 3de Dagbreek/Maties se 3 wedlope – vir mans , dames en elite atlete in Victoriastraat, die middelpunt van die US kampus. R2 000 bonus vir ’n hemelse droommyl! Vermaak tussendeur vir kykers – en ’n gelukstrekking.
Vir navrae en vorms kontak Francois (straatmyl@hotmail.com).
6 Maart 17:30; Prysuitdeling 18:00 / Voor Dagbreek / 90min / inskrywingsfooi R10; tydelike lisensies R20

Bome vir Woorde 2
Aangebied deur Groen vir Lewe
Oproep aan alle natuur- en kunsteliefhebbers: Kom help ’n stukkie aardse paradys skep deur ’n boom te plant. As ons planeet nie groen is nie, kan ons nie hemel op aarde beleef nie – die Woordfees is dus na 2012 permanent groen. Help saam met US studente, skoolleerders en kunstenaars, asook die Stellenbosse Munisipaliteit, om ons koolstofvoetspoor te verklein.
7 Maart 16:00 | Jan Marais Natuurtuin | 60min | Gratis

PVM Velddraf met woorde
Ook ondersteun deur CPharm
Skop stof op in jou taal! Kom hardloop met woorde as registrasienommers. Is jy dalk BOERETROOS, PARMANTIG, TAMELETJIE OF HEMELBESEM?
Ons skop vroeg af met ’n 6km ‘familiejaptrap’of ’n ‘wys-jou-kuite’ 12km aardse vastrap. Kuier lekker met familie en vriende ná die prysuitdeling. Piekniekmandjies, wyn, musiek en hope pret. Uit ’n ander wêreld!
Aanlynregistrasie by www.velddraf.co.za
2 Maart 07:30 (registrasie vanaf 06:30)| Uitkyk wynlandgoed | R65, R35

WOW Karnaval
In samewerking met SON
? Hoogtepunt op die hemelse feesprogram, met kunstenaars soos Emo Adams, Jamali, The Rockets, Salome, Tururu, SON se Battle of the bands-wenners en ook Allen, die singende “car guard”! Stellenbosch 360 se talentkompetisie-wenners tree op vanaf Vrydag 8 Maart om 17:00. Gesonde en veilige gesinsvermaak met stalletjies en pretritte. Vir grootmense bied die biertent heerlike lafenis teen die hitte. Versit hemel en aarde om dit by te woon – jy sal bly wees oor dié groot waarde vir jou geld!
8 Maart, 16:00-23:00, 9 Maart 12:00-23:00 | Van der Stel Sportterrein | R30 volwassenes, R20 leerders en studente

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top