PEN Afrikaans Nuusbrief: April 2017

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

As boekbesprekings en boekenuus vir jou goeie nuus is, loop ons April-nuusbrief oor van goeie nuus. Ons skop af met 'n gulde geleentheid vir almal wat nog altyd boeke wou resenseer.

'n Dag lange resensiekursus aangebied deur twee top-skrywers

Netwerk24 in samewerking met NB-Uitgewers en PEN Afrikaans nooi 30 voornemende resensente uit na ’n dag lange resensiekursus.

Daar sal twee kursusse aangebied word: een op Saterdag 3 Junie in Mediapark in Johannesburg, en een op Saterdag 5 Augustus by NB-Uitgewers in Kaapstad.

Die aanbieder van die kursus in Johannesburg is die skrywer Francois Smith, wat die laaste twee jaar ook ’n dosent in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat is. In Kaapstad neem die bekende skrywer en resensent Kerneels Breytenbach kursusgangers deur hul passies.

Jo Prins, redakteur van Boeke24, sê die kursus is ’n manier om terug te ploeg en om die poel resensente nie net groter te maak nie, maar om in die gehalte van resensies te belê.

“Ons is altyd op soek na nuwe stemme wat boeke op ’n toeganklike manier vir voornemende lesers kan ontsluit. Ons agenda is onbeskaamd: die boek. En om lesers ’n eerste, kritiese, maar regverdige blik op die boek te gee.”

Die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 April. Die kursus kos R500. Kursusgangers gaan vooraf ’n splinternuwe roman uit die NB-stal kry om ter voorbereiding te lees en te resenseer. Dié resensies sal dan ná afloop van die kursus op PEN Afrikaans se webportaal gepubliseer word.

Belangstellendes kan Jo Prins kontak by jprins@24.com.

Daar is net plek vir 15 mense in Johannesburg en 15 in Kaapstad. Moet dus nie op jou laat wag nie!

Kursusgangers moet op hul eie stoom by die lokale kom. Kursusmateriaal en versnaperinge vir die dag sal voorsien word.

Nog 'n boekebonus met die komplimente van Taalgenoot

PEN Afrikaans werk al geruime tyd saam met die redaksie van Taalgenoot om met hulle vriendelike vergunning dié tydskrif se boekverwante inhoud digitaal beskikbaar te maak op ons webportaal.

Met die jongste Taalgenoot (omslag hierbo) word ons samewerking uitgebrei met die eerste in 'n nuwe rubriekreeks wat PEN Afrikaans aanbied: Boeke wat skrywers laat skryf.

In die nuwe Herfs 2017-uitgawe kan jy lees watter boeke Kerneels Breytenbach, PEN Afrikaans se voorsitter, geïnspireer het en wat hy as skrywer uit hierdie boeke geleer het.

Die Herfs 2017-uitgawe, is nou beskikbaar op die rakke van uitgesoekte Exclusive Books-winkels. Indien jy wil inteken op die tydskrif of graag wil skryf vir Taalgenoot, klik hier vir verdere besonderhede.

Indien jy nog nie Taalgenoot se Somer 2017-uitgawe onder oë gehad het nie, kan jy al die inhoud wat relevant vir lesers, leeskringe en skrywers is, gratis in PDF-formaat aflaai.

  • Klik hier vir die Oppirak-afdeling met resensies van die volgende boeke: Zip! deur Nataniël, Die dood van ’n goeie vrou deur Chris Karsten, Vir die voëls deur François Bloemhof, Dorado deur Tom Dreyer, en Waar die oog van stil word deur Ilse van Staden. 
    Hierdie afdeling sluit ’n musiekresensie van Mymymy se debuut-EP, Beter as ons s’n, asook ’n artikel deur wyle Stephanie Nieuwoudt in – “Lesbiërliefde kry lyf”. Hierin skryf Nieuwoudt oor vroueskrywers wat in die laaste drie jaar sterk lesbiese hoofkarakters aan lesers bekendgestel en op dié manier hulle genres verruim het. Sy gesels met Bettina Wyngaard en Celesté Fritze oor hul werk.
  • Klik hier vir “Wanneer digkuns en animasie trou” –’n artikel deur Donnay Torr oor Diek Grobler se Filmverse 2, wat animasies van gedigte deur Jeanne Goosen, Nathan Trantraal, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Andries Bezuidenhout, Boerneef, Heilna du Plooy, Martjie Bosman, Joan Hambidge, Marlise Joubert, Johann de Lange en Ronelda S. Kamfer bevat.
  • Klik hier vir ”Op pad na êrens… of nêrens” – ’n artikel deur Danie Marais oor die opbloei in die Afrikaanse rolprentbedryf waarin hy wonder: Is die Groot Afrikaanse Rolprent al gemaak? En indien nie, wie gaan dit maak? Waaroor? Met watter geld?

'n Oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings in Maart

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2017 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dié oorsig sluit ook skakels in na boekbesprekings of -gesprekke en voorlesings wat op die radio of TV uitgesaai is, waaronder interessante TV-onderhoude met HemelBesem, Dan Sleigh en Marita van der Vyver. 

Indien jy weet van ander publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Die wenners van die 2017 Akademie-pryse

PEN Afrikaans sê hartlik geluk aan Lien Botha, Daniel Hugo, Amy Jephta, Antjie Krog, Bibi Slippers en Carel van der Merwe wat almal vanjaar vir hul werk deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer word.

Klik hier vir meer inligting oor die pryswenners.

Nuwe Afrikaanse boeke in April

Ten slotte is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste vir April kan hier afgelaai word. 

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top