Skrywers en boeke op RSG kry 'n nuwe aanbieder

  • 2

Ilse Salzwedel bied vanaf Woensdag 5 Junie 2013 die program Skrywers en boeke op RSG aan. Sy het met Naomi Meyer hieroor gesels.

Hallo Ilse, geluk daarmee dat jy Skrywers en boeke op RSG vanaf Woensdag 5 Junie gaan aanbied. Vertel vir ons lesers wat die heel eerste boek is wat jy onthou.

Dis moeilik om te sê wat was eerste en wat het ’n bietjie later gekom. My suster Marlize is 13 jaar ouer as ek, en het altyd vir my boeke van die universiteit af gebring. Wanneer sy PJ Schoeman se Op die klein spoortjies gebring het, kan ek nie onthou nie, maar ek dink dit was daar by my vyfde verjaarsdag rond. Dan was daar ook Pieter W Grobbelaar se fabels oor Jakkals en Wolf wat my ma vir my gekoop het. En WA Hickey se Voetvolk van die Bosveld, wat oor die radio voorgelees is en wat my ma toe summier vir my gaan koop het. Die eerste dik boek wat ek self van hoek tot kant gelees het, was Trompie, so rondom graad 2.

Jy is self ‘n skrywer en joernalis. Hoe gaan hierdie agtergrond jou vir die programme wat jy wil aanbied, toerus?

As joernalis beoordeel ek altyd ’n storie aan ’n eenvoudige maatstaf: Wat sou my leser nog wou weet? Met ’n radioprogram is dit dieselfde: jy vra jou vrae namens die luisteraar. Probeer jou in sy of haar skoene indink, en vra die vrae waarop hulle antwoorde wil he. Ek is nie ’n letterkundige nie, maar my ervaring as joernalis sal my hopelik help om die kenners oor elke onderwerp te vind en deeglik uit te vra.

Hoe verskil die radio vir jou as medium om ‘n storie te vertel – en is dit wat jy beoog met jou program, om skrywers hulle stories te laat vertel?

In die verlede was daar ’n spesifieke formaat vir Skrywers en boeke, en ek gaan aanvanklik daarby hou, met effense aanpassings. Die gemiddelde boekliefhebber wil graag meer weet oor verskillende skrywers en meer skrywers se stemme in die program hoor – ons is almal nuuskierig oor meer as net hul boeke, en wil weet waar kry hulle hul inspirasie, hoe gaan hulle te werk om ’n storie op papier te kry, en ook natuurlik wie se werk húlle graag lees. Dus beplan ek om meer sulke gesprekke met skrywers te voer. Die program is nie ’n forum vir resensies of hogere akademiese gesprekke wat die gemiddelde luisteraar uitsluit nie, maar is bedoel om skrywers en lesers met mekaar in kontak te bring rondom boeke, die gemene deler.

Wat wil jy dan graag verder met die program doen – of wat wil jy dieselfde hou as vantevore?

Daar gaan steeds insetsels wees deur onder meer Kobus Burger, Corina van der Spoel, Johan Myburgh, Riana Scheepers en Terrance April, maar ek gaan ook nuwe stemme betrek sodra ek my voete gevind het. Dit sal almal ook ervare boekmense wees. Die program se klem sal steeds val op veral Afrikaanse skrywers en boeke, maar ons sal nie vergeet van interessante Suid-Afrikaanse boeke en skrywers nie.

Jy het nou al die eerste program opgeneem. Wat was lekker, wat was moeilik?

Oe, die tegnologie was aanvanklik moeilik! Dis beslis nie vir sissies en blondines nie. Daar sit nie meer soos in die ou dae van radio ’n klankman in die ateljee wat die knoppies druk en die volume beheer nie. Jy moet dit self doen. Gelukkig kan mens sekere foute na opname regstel. Gelukkig het ek baie hulp van my nuwe RSG-kollegas gekry, en ’n mens leer nogal vinnig om iets so op te neem dat jy nie ure daaraan hoef te redigeer nie. Wat is lekker? Om ook hierdie medium aan te durf. Die radio het in my kinderdae ’n groot rol in my lewe gespeel. As klein dogtertjie in Namibië, destyds nog Suidwes-Afrika, het ek met ’n radio teen die oor grootgeword – letterlik. Ek is eenmaal hospitaal toe vir steke in my been, maar dit was tyd vir die aandvervolgverhaal, en ek wou niks misloop nie. Daar lê ek toe, radio teen die oor, terwyl die dokter die steke insit. Ek was omtrent nege jaar oud, en het vir baie pret in die hospitaal gesorg daardie aand. Daar was daardie tyd nog nie televisie in Suidwes nie. Ek onthou hoorbeelde, soos Fanus Rautenbach se treffende Hemelkinders, die program oor die Duitse weeskinders (wat indirek tot die ontstaan van my boek Onvertelde Stories van Afrikaans gelei het), en natuurlik Jan Spies se stories, wat vir die heel eerste keer op die SWAUK se senders vertel is.

Luister na Skrywers en boeke, Woensdagaande om 20h00 op RSG.

 

  • 2

Kommentaar

  • Baie dankie vir die aanbieding Woensdagaand - onderhoud met Andries Visagie oor  Karnaval en Lent.
    Groete
    TT

  • Pierre de Villiers

    Hallo Ilse. Ek luister gereeld na jou program. As daar nou een "part time" skrywer is wat jy gerus kan inkatrol, alhoewel hy in Engels skryf, is `n waarnemende regter in die hoogeregshof. Hy is vlot tweetalig en `n uitsonderlike mens. `n Man van vele talente.
    Sien http://www.lawlegalklopper.co.za

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top