Regsalmanak: Dink twee keer voor jy appèl aanteken

  • 2

 

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed

 

Kyk, om 'n balju van die hof te wees, is nie aldag 'n maklike werk nie. 'n Balju se taak is om dagvaardings, hofbevele en dies meer by mense en instansies te gaan aflewer. Soms is dit sy onaangename taak om na iemand te gaan en op sy goed beslag te lê ter uitvoering van 'n vonnis van die hof. As die skuldenaar nie betaal nie, moet die balju sy goed per openbare veiling verkoop. Onplesierige en ondankbare werk. Balju's word dikwels gedreig, uitgeskel, beledig, gevloek en soms word die honde op hulle gesit.

Af en toe het balju’s met mense te make wat hulle net eenvoudig ignoreer. ‘n Kollega van my vertel die mooi storie van 'n balju op Heidelberg, Gauteng, wat 'n dagvaarding op 'n bekende ou suurknol op die dorp moes beteken. Toe hy by die man se huis aankom, was hy besig om agter in die groentetuin te spit. Die balju het probeer vriendelik wees: Hy het gegroet, 'n vleiende opmerking oor die man se groentetuin gemaak, uitgevra na die welstand van sy vrou en kinders, gesê wat 'n mooi dag dit is – alles puur verniet. Die man het net eenvoudig aangehou met sy spitwerk. Op geen manier kon die balju sy volle aandag kry om vir hom te verduidelik watter belangrike dokument 'n dagvaarding is en wat hy daarmee moes maak nie. Uiteindelik het hy die dagvaarding 'n entjie voor die man op die grond neergesit en teruggestaan in die hoop dat dít die ou se aandag sou trek. Hy het egter werktuiglik voortgegaan met sy spitwerk en toe hy by die dagvaarding kom, het hy – sonder om 'n oog te knip – dié ook in die grond ingespit.

Ja, om 'n goeie balju te wees, sit nie in elke man – of vrou – se broek nie. Vrou, vra jy? Ja wel, vroue waag hulle ook deesdae op hierdie terrein. Soos die jong dametjie van Windhoek wie se naam ongelukkig nie in die hofverslag genoem word nie, wat maar vier dae in haar nuwe werk as balju was toe sy op ‘n dag in 1979 'n lasbrief op ene Rost moes beteken. As 'n mens so na sy van kyk, klink dit of hy 'n Duitser kon gewees het. Rost was nie sommer 'n gewone ou nie. Hy het homself later in die hof as 'n fiksheidsfanatikus beskryf. Vir oefening het hy karate gedoen, gewigte opgetel en elke dag van sy lewe 'n ent gaan draf. Klaarblyklik was hy ook ‘n beneukte entjie mens.

Die dame wat die lasbrief op Rost moes beteken, het nie geweet waar hy woon nie. Sy het darem sy telefoonnommer gehad en hom toe gebel en onder die voorwendsel dat sy van die poskantoor was, sy adres verneem. 'n Paar minute later het sy by Rost se huis opgedaag. Hy het op 'n seilstoel voor sy huis in 'n swembroek gesit en braai in die sonnetjie. Sy het haar bekend gestel en die doel van haar besoek aan hom meegedeel. Rost wou by haar weet of sy die persoon was wat so pas gebel het. Sy het bevestig en 'n afskrif van die lasbrief aan hom oorhandig en die betekenis daarvan verduidelik.

Toe wip Rost hom en hy raak 'n paar kragwoorde kwyt. Daarvan het die dame nie gehou nie en sy het hom ook die een en ander toegevoeg. Toe klap Rost haar met sy oop hand – só erg dat sy half bewusteloos op die grond neergesak het. Agterna het 'n dokter getuig dat haar wang aan die binnekant gekneus was en dat 'n tand gebreek was. Sewe dae na die voorval het sy nog duiselig geraak, en erge rugpyn en hoofpyn gehad. Dit is duidelik dat Rost die bedoeling gehad het om haar goed seer te maak.

Rost is aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sy verweer was dat hy onder provokasie gehandel het omdat die dame hom beledig het en self na hom geklap het. Die landdros het sy getuienis egter nie aanvaar nie en hom aan gewone aanranding skuldig bevind en gevonnis tot 'n boete van R40 of 10 dae gevangenisstraf. Hierteen het Rost geappelleer.

Waarmee Rost nie rekening gehou het nie, is artikels 304 en 309 van die Strafproseswet1 wat aan die Hooggeregshof die bevoegdheid verleen om 'n appellant se skuldigbevinding op ‘n alternatiewe klag te wysig na skuldig op die hóófklag. In dié besondere geval het die hof dus die bevoegdheid gehad om Rost se skuldigbevinding aan gewone aanranding te verander na aanranding met die doel om ernstige liggaamlike leed te berokken. Vanselfsprekend sou die hof ook die bevoegdheid hê om Rost se vonnis te verswaar om dit in ooreenstemming te bring met die nuwe bevinding.

Toe die griffier van die Hooggeregshof vir Rost kennis gee dat daar 'n moontlikheid was dat hy 'n swaarder straf kon ontvang, het hy hom boeglam geskrik en het hy besluit om sy appèl terug te trek. Aangesien die saak egter klaar op die rol was, moes hy die hof se toestemming vra om kop uit te trek. Dit is 'n saak wat in die diskresie van die hof is, en die hof kan onder gepaste omstandighede toestemming weier. Gelukkig vir Rost is dit toegestaan.2

Die les is dat 'n mens mooi moet dink voordat jy vir elke bakatel na 'n hoër hof appelleer. Min mense weet waarskynlik dat 'n hof die bevoegdheid het om 'n vonnis onder sekere omstandighede op appèl te verswaar.

1Wet 51 van 1977

2S.v. Rost 1980(2) 528 (SWA)

 

  • 2

Kommentaar

  • Willie Schutte.

    Voorwaar waardevolle inligting wat hier deurgegee word, daar is soveel slaggate in die lewe waarin jy kan trap agv onkundigheid en jy jou in ’n situasie kan beland wat in ’n "nagmerrie" kan verander tot nadeel vir jou …

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top