Opinion Pieces: Kritiese denkers neem stelling in en ontlok vrae

  • 0


Titel: Opinion Pieces by South African Thought Leaders
Skrywer: Max du Preez
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9780143528234
Prys: R280

Klik hier om Opinion Pieces by South African Thought Leaders te koop by Kalahari.com.

Die omstrede, bekroonde en immer-ondersoekende joernalis en skrywer Max du Preez het nóg ’n boek die lig laat sien – Opinion pieces by South African thought leaders, Penguin (2011). Tien Suid-Afrikaners, plus homself, bespreek kwessies wat hulle na aan die hart lê, en skroom nie om te skok nie. Veral James Myburgh se “After Invictus” sal ’n paar mense laat regop sit.

Eers gee Max ’n oorsig van die afgelope paar jaar – die fokus van die boek is hoofsaaklik post-1994 – en dan skop Njabulo Ndebele af met “Toxic politics: Diary of a bad year”. Die titel van hierdie essay gee ’n aanduiding van die invalshoek van die boek: dis geen juigkommando in aksie nie, maar kritiese denkers.

Of meestal; sommige moet darem nog tersluiks die pre-1994-geraamtes opdiep: die Onheilige Drie-Eenheid (apartheid, kolonialisme en slawerny) eers opstel en dan tiek, tok, tak afskiet. Soos “geblikte” leeus: té maklik ... gaap. Clichés klink alte veel soos klippers in ’n ou baked beans-blikkie. So ook die stelling dat “armoede gewoonlik die gevolg is van doelbewuste onderdrukking”. ’Skies, maar in die Afrika-konteks is dít nou al effe holrug gery. Soms, moet mens erken, is armoede ook die gevolg van baie ander dinge, soos parasitiese regerings en kulture wat al baie lank struggle.

In Max se geval was die apartheidsregime voorheen die gewildste teiken, maar nou is dit die huidige regering met die rooi kol teen die voorkop. Max erken deesdae ruiterlik dat laasgenoemde die vertroue wat hy in hulle gestel het, geheel en al geskend het met die houding van “Africa for the Africans”, ’n slagspreuk wat dalk logies en regverdig klink, maar net so ’n skynheilige bekooksel is as die ou NG-Kerkers wat besluit het wie hulle naaste is en sodoende die Tweede Gebod soos ’n sandsuiker koeksister verdraai het.
Verder is Max ongemaklik met die ANC se uitgangspunt dat “die meerderheid die mense is” (“the people”) en dat húlle dan ook “die staat is” – oftewel, die ANC het net so ’n “goddelike” mandaat as die konings van weleer om despoties te maak en breek en plunder en toe-eien na hartelus. Om alles dan as demokraties te beskryf (heel maklik as jy weet jou ondersteuners is die volstrekte meerderheid), maar kritiek teen die regering amper Ou Testamenties te verbied. Ook uit eie geledere. Dus, tussen die Party (verhewe bo God én Reg, aldus Zuma) eens aan die een kant, en die regering, eens aan die ander kant, is nou geen verskil meer nie. Magslus is die motief ágter alles én die verskoning vír alles: kader-ontplooiing is die metode, en absolute beheer is die doel.

Die skrywers is dit eens dat daar baie dinge verkeerd is met ons land; Shakespeare kon net sowel van Suid-Afrika gepraat het toe Hamlet daai rot geruik het. En Mbeki kan à la Lady Macbeth sy hande begin skrop oor honderdduisende MIV/Vigs-slagoffers wat sy arrogante, verbete ontkennings tot gevolg gehad het toe hy, in die voorspelbare en onbuigsame patroon van die ANC, nóg ’n onbevoegde persoon in ’n sleutelposisie gedruk het wat (soos Jackie Selebi en ander) nie naasteby van die regte stoffasie was nie.

Die arrogansie van die ANC & Vennote groei skynbaar eksponensieel sedert 1994, toe hulle nog bang was om hulle kaarte te wys – Myburgh beweer Mandela se hooftaak was om versoening te preek, en soos Eastwood se Invictus getoon het, het hy skitterend daarin geslaag. Maar dit sal lesers dalk verbaas om te lees dat daar nie slegs ’n Rooi en Swart Gevaar was nie, maar ook ’n Witte. Volgens Myburgh (en al lees jy nét sy essay, is dit al die moeite werd om hierdie boek te bekom) was die ANC werklik bevrees dat hulle die meeste wit mense in die arms van die regse partye sou dryf, en sou die planne van die regering te vinnig geopenbaar word, sou daar dalk ’n teenrevolusie wees. Daarom die pakkette en sonsondergangsklousules (maar nooit een vir regstellende aksie nie).

Max trek te velde teen Julius Malema, en noem pertinent dat Zuma “nie ’n oog geknip het” toe dié Mini-me van hom wit mense as kriminele bestempel het nie. Ook wanneer hulle twee dieselfde verhoog gedeel het. Ironies genoeg, noudat Ju-ju uit die ANC geskors is, kan hy nie begryp wat hy verkeerd gedoen het nie. En hoekom nie? Omdat hy dan vir so lank die steun vanuit die regering gehad het, juis om hulle vuilwerk te doen.

Daar word reeds algemeen aanvaar dat dit die rede is waarom hy nooit oor sy rassistiese en opruiende gedrag getug is nie, maar wel dat hy die regering - die allerhóógste ANC - aangevat het oor hulle sleepvoetende optrede teen die “wit misdadigers”. Malema en sy generasie wil nóú die goeie tye beleef waarvoor hulle ouers geveg het.

Myburgh reken dit was van lankal af die ANC se plan om, soos hulle kommunistiese mentors van die struggle-dae hulle geleer het, van die parlement tot by die munisipaliteite te infiltreer en te beheer. Die massas moet tevrede gehou word met kosmetiese veranderings: verteenwoordigende sportspanne en regeringsinstansies, die hele toetie. Maar wanneer dit by dienslewering kom, wel, dan is daar verskonings. Die stelsels is oud, die wittes ondermyn hulle, die staat is bankrot, daar was slawerny en kolonisasie, en so gaan dit aan.

Aangesien apartheid nou al amper twee dekades in sy vlak graf vrot, word nou gepraat nie van ’n postapartheidsfase wat betree moet word nie, maar ’n postkoloniale fase – die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) se Fase Twee. Malema se gebrabbel oor die Ekonomiese Revolusie kom nie van hom af nie; hy is daarmee grootgemaak. En Myburgh vertel ook hoe elke doelwit van lankal af uitgelê is en watter al bereik is.

Intussen begin die massas al meer rusteloos raak – hulle krepeer steeds in townships terwyl die nuwe elite Bling en Breitling en blink van die vet – Jan Rabie se “Drie Kaalkoppe eet tesame” kom by mens op (asook “I luuv democracy!”). En wat is die regering se verweer? Net: die media is onregverdig (“bloody agents?”). Soos Max sê: “[P]opuliste en nasionaliste is amper altyd vyande van die vrye media.” Dus almal maar fasciste onder die vel, watter kleur dit ook al mag wees. Of: niks korrupteer soos algehele mag nie.

Die skrywers lig die onwelriekende optrede van ons polisie uit, en die mislukking van ons onderwysstelsel (onthou “vryheid vóór opvoeding”? – is dit nie ’n menseregteskending nie, een wat sommige onderwysers skynbaar steeds toepas), en statistieke word genoem wat buitelanders sekerlik as propagandisties sal aflag. Maar ons, die burgers van die Bedroefde Land, weet van beter, juis te danke aan die “onregverdige” media, en dit bly steeds ontstellend. Soos Jonathan D Jansen al meermale gesê het.

Toegegee, daar is knoeiers onder onse joernaliste ook – as dominees kan sê hulle kinders is óók stout, want hulle kan maar net met die gemeente se kinders speel, wat kan ons van ons media verwag? Hulle is immers ook maar net uit die volk, en weerspieël die volk ... Die alternatief, naamlik ’n gemuilbande media, met Grootbroer wat elke beweging dophou en die slagspreuk “Sommige kamerade is meer gelyk as ander”, mag egter nooit ons kinders se voorland word nie.

Ndebele waarsku oor die groot gaping wat tussen die ouer generasie van die ANC en die jeug ontstaan het, en weer eens is Malema en sy jong liga/neomafia die sprekende voorbeeld. Ndebele skryf oor vetkat-politici, oor “morele angs” in ons gemeenskap, oor die ANC wat van Zuma ’n afgod gemaak het, met gepaardgaande onaantasbaarheid; en sy belangrikste punt is dat die ANC binne enkele jare die rykste politieke party in die wêreld geraak het.

In enige staat kan iemand ryk word net indien iemand anders armer word – geld kan nie net gedruk word soos Robert Mugabe gemaak het en dan is almal summier ryk nie (ongelukkig juis die teenoorgestelde) – en as mens vra wat die ANC gelewer het in ruil vir die rykdom, kan die antwoord net wees dat hulle hul kiesers besteel het: die klassieke rowerstaat, wat met hulle werkermiere, die kaders, die land soos ’n slagoffer-liggaam oortrek het en tot op die been kaal stroop.

Anthony Altbeker skryf oor misdaad, nóg ’n olifant in die kamer – en weer eens is die statistieke, as dit met ander lande s’n vergelyk word, verontrustend. Hy haal William Faulkner aan: “Die verlede is nooit dood nie. Dis nie eens verby nie.” Want hy wat Altbeker is, reken dat die hoë vlak van geweld in ons land te danke is aan die onderdrukking van die pre-1994-periode. Sulke stellings is soos skokbehandeling: jou knieë skop styf, en dalk verder op, tot jou brein wil kook. Want hoewel hierdie argument nie sonder meriete is nie, voel mens dat hier tekens van tonnelvisie is; van selektiewe historiese perspektiewe: dit hang dus af van hoe ver jy in die geskiedenis wil teruggaan – die mens is al duisende jare op aarde, waartydens almal al ’n beurt gehad het om aan te jaag, maar hoe ver gaan Altbeker terug? Niks verder as 360 jaar, met die Nederlanders se koms nie. Eintlik fokus hy op minder as ’n eeu gelede, op apartheid: “[T]he roots of violence in South Africa, then, implicate apartheid. The second implicates resistance.” Ja, almal weet apartheid was ’n euwel, maar kom nou, hoekom is daar soveel misdaad (soos honderde groepsverkragtings) onder die postapartheid-generasie? Ek is jammer, mnr Altbeker, maar dis ’n simplistiese verklaring. Hoewel swart onderdrukking allerweë die ergste in die bekende (lees: gedokumenteerde) geskiedenis van Suid-Afrika was, steeds kan dit nie al oorsaak wees van wat ons tronke 300% bo kapasiteit opvul nie. Ja, die geskiedenis lewer verdoemende getuienis – dis byvoorbeeld so dat die sterftes van swart mense in Britse konsentrasiekampe selfs meer was as aan Boerekant, wat die verfoeilikheid van rassehiërargieë weer eens aan die kaak stel, maar tog – daar was ook ander gevalle in ons omgewing, soos Afrikaners onder Britte, Basoetoes onder Zoeloes, Masjonas onder Matabeles, en Matabeles én Zoeloes onder Britte. Oorsese voorbeelde is daar sekerlik ook: luister wat Billy Joel en Laurika Rauch sing – net die noem van plekname is genoeg om mens te laat sidder: of dit Nagasaki of Boipatong is; makisaki, dis ewe erg. En die soort geweld waarvan ons nóú en híér praat, het tog nie daarná by elkeen van daardie plekke outomaties gedy nie? Mens kan dalk eerder aanvoer dat spesifieke sosiale toestande mense op allerhande wyses beïnvloed, en dié reaksies word dan deel van hulle denke en later ook deel van hulle kulture, maar nie binne ’n eeu of twee nie. Dit gaan dus oor reaksie op eksterne invloede, gebaseer op interne eienskappe, soos waarneembaar op ’n spesifieke tydstip. Nes twee kinders uit dieselfde gesin heel verskillend kan ontwikkel. Mense mag baie dieselfde voorkom, maar as tropdiere word ons beïnvloed deur ons leiers, deur (oor)heersende denkpatrone.

Word apartheid dan as sondebok misbruik, selfs so immoreel as wat dit wel was? Ja, want: mens moet eerder kyk na ’n konglomeraat van redes, soos verstedeliking, van presies wáár swart kulture was toe hulle skielik in die moderne tyd ingeboender was, en verál die frustrasie van ontneming en ontheming, asook die frustrasie van sukkel om te kompeteer in omstandighede wat hulle nie pas nie. Ander kulture, soos in die Weste én Ooste, moes deur verskeie vagevure gaan (oorloë, epidemies, religieuse konflik, ens), so dit het nie net uit die lug geval nie. Toe die migrasies destyds uit Afrika plaasgevind het, het die konsep van agtergeblewe nie tóé al ontstaan nie? Soos die Jood gesê het: “Location, location, location”, of om op die regte plek op die regte tyd te wees.

Ook Darwin se opmerking oor aanpasbaarheid, eerder as krag en intellek, kom ter sprake. Geen komplekse probleem het eenvoudige of enkele ontstaansredes nie – slawerny is byvoorbeeld derduisende jare oud, en gebeur steeds (en wie steur hulle daaraan dat daar nou miljoene slawe is?) – is ons dan nie nou almal skuldig dat ons niks daaraan doen nie?

Nee, ek vermoed om apartheid die skuld te gee vir alles is soos om ’n agterent alleen te blameer vir onwelriekende klankies.

Hierdie ongelyke-speelveld-situasie sien mens immers ook in die VSA en Australasië, waar moderne, georganiseerde kulture die inheemse mense destyds onkant betrap het en eenvoudig oordonder het. Europa se sentrale geografiese ligging het onder andere meegehelp dat die voorsprong op daardie tydstip verkry is – handel, oorlog, ens het informasie-uitruiling meegebring, en as mens vandag kyk waar mense woon wat nou aan die agterspeen suig, is die patroon duidelik genoeg. Die huidige instroming van swart mense na Europa toon boonop dat mense altyd sal migreer as hulle in staat is om dit te doen. Ook baie van ons voorste swart professionele mense emigreer, wat tot die reeds gevaarlike “brain drain” bydra. Dis nooit ras nie, die k-woord is “kultuur”: gedeelde waardes, motivering om te presteer – dis die naam van dáái olifant.

Nietemin, hierdie rondswaaiery van ou sondes is eintlik al wat my oor die boek irriteer, en dis nou agter ons vir die doeleindes van hierdie bespreking. Mens hoef gelukkig nie met alles saam te stem wat in hierdie opiniestukke geskryf word nie – ons geniet tans nog dié demokratiese reg. Elkeen het ’n opinie en ander s’n stimuleer mense om deel te neem aan die gesprek en só die lig op olifante te skyn. Wittes, swartes vales ... almal is maar olifante. Elkeen gevaarlik uit eie reg. Maar hoekom banger wees vir sommiges? Intimideer Big Brother ons tot hou-jou-bek-en-hou- jou-tande?

Carmel Rickard spreek die probleme van ons regstelsel aan – of altans die ANC se probleme daarmee. Rickard noem dat die regters deesdae veel meer in die kalklig is as vóór 1994, maar beweer (amper as ’n verskoning) dat regters nie vandag wil voel hulle is in Engeland nie. Daar is dus ’n aansienlike verandering in die regsbank se kultuur, want dis mos Afrika, en daarom word alle leiersposisies ook deur swart regters beset. Ongelukkig, sê Rickard, was daar ook talle swak aanstellings, te wyte aan die ambisieuse verteenwoordigingsdoelwitte. Rickard vra ook of die media wel hulle plek en doel sal leer ken en nie net sal fokus op sensasionele “judicial follies” nie. Wel, seker, solank die regters nie aanhou met blapse maak nie ... hulle is leiers, meningsvormers, rolmodelle, en moet verantwoording doen, soos hulle beskuldigdes laat verantwoording doen vir húlle dade.

Leonie Joubert, daarenteen, skryf oor iets heel anders, maar ewe belangrik –  omgewingskwessies: Hoe lank kan Suid-Afrika nog die besoedeling van natuurlike hulpbronne, veral water, bekostig? Die antwoord is dat ons rééds nie meer kan nie – sy praat van “running on empty”. Weer eens gaan dit oor die onbevoegdheid en onverskilligheid van die regering, wat minder omgee vir die gesondheid van die gewone bevolking as vir die elite se bankstate.

Verwey beweer dat armoede meestal die gevolg is van “een of ander vorm van doelbewuste onderdrukking”. Dus sou dit beteken dat die armoede in die plakkerskampe te danke is aan wit onderdrukking - apartheid, kolonisasie, ens. Maar dit sou ook beteken dat die bydraende invloed van kultuur - dié van die armes - geïgnoreer word: aangesien kultuur in kort die manifestasie van ‘n sekere denksisteem is, moet die welvaart van elke kultuurgroep minstens deels ook daaraan toegeskryf word, wáár ook al op aarde, wánneer ook al in die mens se geskiedenis. Om te beweer dat alles wat met mense gebeur, te danke is aan ander mense of ander kulture, is ondeurdag, en in Suid-Afrika se geval ook paternalisties - asof swart mense byvoorbeeld nie in staat is om na hulself om te sien nie. Asof hulle geensins die meesters van hulle eie lot kan wees nie. Het die Struggle dan nie die teendeel bewys nie? Die “Weste” word skynbaar as dominante kultuurbasis erken deur aan hulle soveel seggenskap in Afrika se lot toe te ken. Mens wonder tog of dit nie soms oordryf word nie. Boonop moet ons as Suid-Afrikaners dringend begin om verantwoordelikheid vir onsself, ons dade en ons kinders se toekoms te aanvaar. Afrikaners was nie arm in die Depressietyd (1930’s) nét weens Britse onderdrukking nie; dit was ook omdat hulle hier in Afrika, weg van die kulturele, wetenskaplike en ekonomiese spilpunt van die noorde, geïsoleerd geraak het van vernuwing. Ja, geografies het die Weste ‘n voordeel, maar met harde werk en opvoeding, soos Jonathan Jansen altyd propageer, kan mense hulself ophef. Blaamverplasing, soos in die Mbeki-era endemies geraak het, los geen probleme op nie; samewerking wel. Ek vermoed Verwey sukkel nog om dié kopskuif te maak, soos die meeste ander Suid-Afrikaners ook.

Wanneer Verwey sê: “When we talk about poverty we can mean the absence of the basic material requirements needed for survival in most places, times and cultures”, is dit werklik asof mens in ’n donker kamer staan en skielik gly ’n soeklig deur die vertrek. Vlugtig sien mens groot ore, ’n paar lang tande en ogies wat knip-knip teen die skerp lig. En dan is dit weer donker. Hoekom? Oor die ontkenning.

Ja, ontkenning en blaamverplasing steek maar steeds kop uit onder liberales. Maar tog, soos Max wel erken het, moet dit traumaties wees om na dekades ontgogel te word deur die sogenaamde moreel-verhewenes wat uit Berg Olimpus getuimel het. Dalk moet eerder ingeval word by Mandela se siening dat wanneer mense lank genoeg in konflik was, niemand meer weet wie die eerste klip gegooi het nie as by Elna Boesak se oproep dat wittes op die hoeke van strate moet staan en om vergifnis smeek.

Maar Verwey verkies om daai soeklig net baie vinnig te laat skyn – “[I]n breë trekke kan gesê word dat armoede nie toegeneem het in Suid-Afrika nie, en daar is ’n aansienlike mate sekerheid dat dit verminder het.” Die herhaalde gebruik van die frases “aansienlike sekerheid” en “min twyfel” deur hierdie skrywer laat by my min twyfel dat daar met redelike sekerheid aanvaar kan word dat dié skrywer self nog ongetwyfeld in ’n aansienlike mate van ontkenning verkeer oor wat in die land aangaan.

Verwey gee wel toe dat armoede die gevolg is van ’n komplekse stel faktore en dat geen kitsoplossing bestaan nie. Ook sê Verwey dat “ons moet waak daarteen om nie alewig ’n gebrek aan kapasiteit as toepaslike rede vir mislukkings [...] te gebruik [nie].” Vernuwende denke en genoegsame motivering vir suksesvolle oplossings is nodig; hy reken dat die huidige struikelblokke nie onoorkombaar is nie. Seker nie, maar terwyl dit van die mense verwag word, wat teen die staat moet kompeteer, in stede van ondersteun word, sal dit moeilik gaan.

Ook die ander bydraende skrywers, insluitende Jonathan Jansen, het hoop vir die toekoms, maar dat ons mekaar beter moet leer ken alvorens ons mekaar kan respekteer as gelykes, soos ons Grondwet vereis, is gewis. Politiek word egter nog te veel bedryf téén mekaar, om selfsugtige redes, terwyl kultuur, die sleutel tot kennis van mekaar, van die “kennis in mekaar se bloed” (as ek Jansen skeef kan aanhaal), nie as sodanig erken word nie. Een stap in dié rigting sal die verpligte aanleer van mekaar se tale wees (een swart taal per provinsie sal genoeg wees), want om ’n taal te leer is om aan ’n kultuur bekendgestel te word. Intussen kan ons nie fouteer deur aan die oopste moontlike debatte oor daai groot diere in ons kamer deel te neem nie. Die alternatief is dat ons deur hulle vertrap mag word, en nie eens weet wat ons getref het nie.

Kerry Cullinan en Anso Thom het ’n olifant saam aangedurf, naamlik die gesondheidskwessie, dog eers deur die apartheidspook op te roep en dán uit die Grondwet aan te haal oor die reg om toegang tot genoegsame mediese dienste te hê, en voedsel en water – heeltemal aanvaarbaar. Mbeki se MIV/Vigs-ontkenning word weer genoem, asook ontstellende statistieke: volgens Cullinan en Thom is die kanse dat swart kinders volwassenheid kan bereik, 7 uit 1 000, terwyl dié van wit kinders 67 uit 1 000 is. Die toestande in die voormalige tuislande is besonder onrusbarend en al het die ANC binne tien jaar 700 klinieke gebou, gaan dinge vinnig agteruit. Hier word regstellende aksie weer belig as ’n vername oorsaak en die binnegevegte oor mag in die regering is weer eens ter sprake.

Wat my effe dronkslaan, is hulle verwysing na die heropbou van die gesondheidsektor. Van wanneer af praat hulle? Pre-1994 of meer onlangs? Dit herinner aan Mbeki se “African Renaissance”. Wat presies was dit waarna hy verwys het? Alweer horries-skimme en ontkenning? Kan ons nie maar net ophou karring aan stokou propaganda en vir die toekoms beplan nie? Dis dan juis hierdie boek se boodskap: ons moet die realiteit in die oë kyk, al flap hy sy ore en trompetter luidkeels. Dis moeilik om op olifante se tone te trap, maar wat is die alternatief?

Opvoeding as kwessie word deur Eric Atmor, Dylan Wray en Gillian Godsell ge-“gang tackle”: Oliver Tambo word aangehaal wat gesê het dat die kinders ons toekoms is. Wel, dié idee is niks nuut nie, maar dis steeds waar. Hulle opstel oor die waarde van geskiedenis as vak het my hart warm laat klop – dat mens leer om konteks te verkry en mense beter te leer ken, krities te dink, en beter besluite by die stembus te maak ... dis nou te sê as die ou siekte van verdraaiings en propaganda nie inkruip in so ’n stelsel nie. Die grootste probleme in ons onderwysstelsel is, om weer vir Jansen by te trek, wat hy al lankal sê – hoofsaaklik dít: ’n aanvaarbare werksetiek onder onderwysers, en behoorlike bystand vanaf ouerkant. Uiteindelik moet ’n nuwe, progressiewe en mededingende denkraamwerk geskep word wat meriete het en nie onder die oorbekende vooroordele inmekaarsak nie.

Opinion pieces by South African thought leaders is ’n moedige poging om sekere stellings te maak, soms dít wat ons almal dink, maar nie wil sê nie, en daardeur vrae te ontlok: mens kan nie oor die kwessies dink sonder om ook jou eie voorveronderstellings en vooroordele te ondersoek nie. En in die skerp, genadelose lig sien jy elke plooi en puisie. As jy eerlik is en nie alweer die veiligheid van groot skaduwees verkies nie. Dít is egter op beide skrywer en leser van toepassing.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top