LitNet Akademies (Regte): Bekendstellingsbrief

  • 0

19 Januarie 2012
Van die Redaksie

LitNet Akademies brei uit na Regte

  • Geakkrediteerde akademiese aanlyn-tydskrif
  • Redakteur van LitNet Akademies (Regte) is Johann Neethling
  • Verdien R15 000 per portuurbeoordeelde artikel, of R5 000 per portuurbeoordeelde aantekening of vonnisbespreking, direk in jou sak bo en behalwe die normale subsidievloei vir navorsing
  • LitNet Akademies vra geen bladgelde nie.


LitNet Akademies

LitNet Akademies is die bekende webwerf LitNet (www.litnet.co.za) se Afrikaanse akademiese joernaal wat reeds sedert Februarie 2008 by die SA Departement van Onderwys geakkrediteer is. LitNet Akademies is die onderafdeling, of node, van LitNet waar portuurbeoordeelde Afrikaanse navorsingsartikels gepubliseer word.

LitNet Akademies staan onder hoofredakteurskap van prof. Etienne van Heerden en bestaan nou uit drie bene, naamlik die Geesteswetenskappe-, Natuurwetenskappe- en Regte-afdeling. LitNet Akademies (Regte) bevat artikels van ’n juridiese aard, wat almal deel van LitNet Akademies vorm. Adviesraadslede vir hierdie afdeling sal mettertyd aangestel word. Die redakteur van LitNet Akademies (Regte) is prof. Johann Neethling.

Regte-redakteur
Johann Neethling
E-pos: neethlingj@ufs.ac.za
Bioskets

LitNet Akademies (Regte) skakel nou met ons onderafdelings vir die Basiese en Toegepaste Natuurwetenskappe en die Geesteswetenskappe. Elke artikel wat hier gepubliseer word, is dus deel van ’n multidissiplinêre en dinamiese benadering binne ’n hiperteksomgewing.

Hierdie geakkrediteerde gedeelte van LitNet is volkome geïntegreer met die LitNet-hiperteksomgewing: Die akademiese artikels wat hier geskakel word, word aangevul deur LitNet-onderhoude, videogrepe op LitNet se YouTube-kanaal, aanlyndebatte op LitNet se SeminaarKamer en resensie-essays in ons node Boeke en skrywers.

  • LitNet Akademies is ’n ooptoegangtydskrif en skrywers behou kopiereg op artikels en ander materiaal.
  • LitNet Akademies vra geen bladgelde van bydraers nie.

 LitNet Akademies (Regte): Nog inligting

LitNet Akademies (Regte)kom in die volgende ononderhandelbare opsigte met tradisionele regstydskrifte ooreen:

  • Dit bestaan grotendeels uit die volledige rapportering van nuwe navorsing, maar bevat ook oorsigartikels oor aktuele onderwerpe. Korter aantekeninge en die bespreking van regspraak word ook vir publikasie oorweeg.
  • Elke gepubliseerde artikel, aantekening of vonnisbespreking is deur minstens twee keurders aanbeveel.

LitNet Akademies (Regte) verskil in ’n paar belangrike opsigte van tradisionele vaktydskrifte:

  • Daar is geen papieruitgawe nie: alles is slegs elektronies beskikbaar. Vanweë hierdie formaat is daar geen beperking op die lengte van artikels nie. Aantekeninge en vonnisbesprekings het egter wel ’n lengtebeperking van 7 000 woorde en moet ook nie korter as 4 000 woorde wees nie. Nadat die keur- en redigeerproses afgehandel is, word alle bydraes onmiddellik op die internet geplaas om die bekendmaking van navorsing sodoende te bespoedig.
  • Daar is geen intekengeld nie: alles is gratis beskikbaar vir enige besoeker aan die webwerf.
  • ’n Hoër vlak van joernalistieke bedrewenheid word van skrywers verwag (kyk asseblief hier onder watter eienskappe artikels moet hê).
  • LitNet Akademies betaal R15 000 per artikel of R5 000 per aantekening of vonnisbespreking direk aan skrywers van gekeurde bydraes. Navor­sers kwali?seer daarbenewens steeds vir insluiting by die normale subsidiestelsel via hulle onderskeie universiteite of ander instellings.
  • Keurders word vir hulle tyd en moeite vergoed.

’n Artikel in LitNet Akademies het die volgende eienskappe:

  • Die hoofdeel van die artikel lyk op ’n haar na soos ’n tipiese artikel in ’n toonaange­wende vaktydskrif, en is ewe oorspronklik en van dieselfde hoë gehalte. Dit moet in Afrikaans wees.
  • Die artikel word vergesel van ’n uitgebreide Engelse opsomming, gemik op kundiges in die betrokke vakgebied, met al die belangrikste resultate behoorlik in konteks uiteen­gesit. Dit moet tussen 1 000 en 1 500 woorde lank wees. Indien nodig, sal LitNet Akademies die opsomming in Engels laat vertaal.
  • Die inleiding van die artikel is op byna-populêr-wetenskaplike vlak. Die bedoeling is dat enige leser van LitNet die inleiding grotendeels moet kan volg. Die volgende dien as algemene riglyn: ’n regsgraad behoort voldoende te wees vir iemand om die hele inleiding te verstaan.
  • Bestaande Afrikaanse vaktaal word gebruik in sover dit van toepassing is, en nuwe vaktaal word desnoods geskep.

’n Aantekening of vonnisbespreking in LitNet Akademies het die volgende eienskappe:

  • Die  aantekening of vonnisbespreking lyk op ’n haar na soos dieselfde publikasie in ’n toonaange­wende regstydskrif, en is eweneens oorspronklik en van dieselfde gehalte. Dit moet in Afrikaans wees.
  • Die aantekening of vonnisbespreking word vergesel van sowel ’n Engelse as ’n Afrikaanse opsomming,  gemik op kundiges in die betrokke vakgebied, met al die belangrikste resultate behoorlik in konteks uiteen­gesit. Opsommings moet 300 woorde lank wees.
  • Bestaande Afrikaanse vaktaal word gebruik in sover dit van toepassing is, en nuwe vaktaal word desnoods geskep.

Die verwagte leserspubliek van LitNet Akademies bestaan aan­vanklik uit:

  • Wetenskaplikes wat in die vakgebied van ’n bepaalde bydrae belangstel en as gevolg van die elektroniese voetspoor daarop afkom (byvoorbeeld via Google of versameldatabasisse soos Sabinet).
  • Nuuskieriges wat op LitNet rondsnuffel en LitNet Akademies besoek. Akademiese bydraes word op die LitNet-tuisblad en -nuusbrief bemark (LitNet en LitNet-blogs het tans ±67 000 unieke gebruikers per maand) en onderhoude word met sommige outeurs ge­voer om die navorsing verder bekend te stel. Aanlynseminare word ook aangebied oor sake wat in akademiese bydraes aangeroer is. Verder het LitNet Akademies sy eie gespreksruimte waar lesers hulle menings oor bydraes kan lug en daaroor in gesprek kan tree. Ook onderhoude wat met skrywers gevoer is, kan hier gevind word.

Artikels vir LitNet Akademies se Regte-afdeling kan nou voorgelê word. Besoek LitNet Akademies se webblad vir verdere inligting, asook vir die stylriglyne.

Laat ons ook gerus weet indien u belangstel om met die portuurbeoordeling van artikels, aantekeninge en vonnisbesprekings te help. Stuur asseblief ’n kort CV, insluitend ’n aanduiding van u spesialiteitsveld, aan akademies@litnet.co.za. Keurders ontvang tans R1 250 (artikels) en R500 (aantekeninge en vonnisbesprekings) per keuring.

Bydraes of navrae kan gestuur word aan die Regte-redakteur, Johann Neethling, by akademies@litnet.co.za, of skakel die LitNet-kantoor by 021 886 5169.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top