Yonder: buite haar eie innerlike lewensgrense

  • 0

Witdraai II Kalahari (Bron: Barnard Gallery)

Die kunsfotograaf Lien Botha het vir haar tiende solo-uitstalling die oorhoofse Engelse titel Yonder gekies. In Afrikaans beteken dit “daar” of “daarheen” – ’n beduidenis na iets wat sy ervaar, maar buite haar eie innerlike lewensgrense lê. Hier karteer sy verskillende reise oor ’n periode van twee jaar oor drie lande. Sy dokumenteer landskappe, omgewings wat bewoon en onbewoond is en artefakte in ’n natuurhistoriese museum.

Wat sy aan bod stel, kom voor as rariteite: mense se besittings, soos ’n opgestopte leeu, ’n seleksie uit die uitstallings in Ditsong Natuurhistoriese Museum in Pretoria, ’n blik op beelde in speelparke en verlate landskappe en hul reste.

Wat uiteindelik deurkom, is dat sy die kyker in die fisieke reis intrek, maar nie sonder om jou te laat besin oor die betekenis en doel van tasbare dinge wat eens rigting en betekenis gegee het nie, selfs al is die fleur en die opwinding wat dit eens gehad het, daarmee heen en het dit as herinnering vervaag.

Dit is wat Lien Botha ’n uitsonderlike kunstenaar maak. Sy karteer ’n omgewing met vae aanwysings waarin sy die kyker innooi. Dit kom nie net neer op die uiterlike waarneming nie.

Dis ’n kartering van ’n innerlike begrip wat die behoefte verbeeld na verlangens van inhoude wat deur tyd, afstand en verandering buite bereik is. Opgestopte diere en sementnamaaksels van bokkies moet vergoed vir die verlies aan die natuurlike toestand – beide vir die dier en veral vir die mens wat dit as eienaar opeis.

Wat sy dokumenteer, skyn vir die kyker ontwykend te wees, self onbegryplik, maar dit is juis wat opwindend word – om sin te maak van omgewings wat kenmerke dra van verlies en vervaagde herinneringe. Dit wil voorkom asof sy ’n soort privaat inventaris skep van objekte wat sy op haar reise gevind het. Fragmente van eens betekenisvolle dinge – objekte as besittings en diere in hul natuurlike habitat – maar nou uitgedien is. Niks dra meer die vonk van sy heelheid nie – dis ’n gevoel van lewe wat verby is, selfs nutteloos.

Botha nooi die kyker om sin te maak van die fragmente wat sy versamel het. Tog lyk dit asof wat sy met haar lens vasgevang het, saai en onbelangrik kan wees. Dis juis die illusie wat sy deur nadere betragting omkeer. Alles wat hier is, hét sin gemaak, wás belangrik, hét ’n plek gehad, maar nóú is die waarde daarvan gestroop. Nou is dit herinneringe wat inslaan op nostalgie na wat eens sinvol en mooi was.

Teenoor ’n gevoel van afgeleefdheid en vergetelheid, byvoorbeeld die verwaarloosde begraafplaas op Kenhardt, is daar ’n poëtiese beeld van skoenlappers wat in die uitstalruimte van die natuurhistoriese museum ’n vervlietende skoonheid oproep wat eens hul deel was. Dat die foto geneem is van skoenlappers in die diorama van die museum beduie dat hul bloot eksemplare van natuurhistoriese waarde is, tog is hulle vir die kyker in die oomblik van betragting reëel en broos in hul skoonheid.

Dit is opmerklik hoe Lien Botha die diere in die museum en wat in privaat besit is, nie een lewend nie, aanbied as ’n herinnering van die groter landskap en geskiedenis waarin die dier eens gestaan het.

Op ’n manier speel sy ook met stereotipes – die paradyslike bestaan, hetsy in die vorm van ’n opgestopte leeu nou tuis op ’n sementblad van ’n kusdorpse huis of selfs die plakkaat van parakiete en papegaaie om versterking te wees aan ’n muur van ’n pondok. Die meerderheid van die beelde in Yonder verwys na voëls of diere – gestroop van wat hul natuurlike habitat sou wees. Inteendeel, waar die diere of voëls geplaas is, wys verby hul natuurlike bestaan – dit dui eerder net op reste van wat eens was en onherroeplik verby is.

Die landskappe wat sy karteer, is uitgedor en lyk asof dit van lewe ontneem is. Nêrens is daar water nie; trouens dis juis die afwesigheid van lewensgewende water wat dit alles tot stof maak. Die twee uitbeeldings van swembaddens is ’n voorbeeld van hoe die eens florerende simbool in onbruik verval en uiteindelik net ’n herinnering word van ’n vervloë tyd toe mens en natuur kon floreer. Die een bad staan nutteloos, gekraak en vervalle. Verby menslike gebruik. Die tweede swembad het ironies ’n tydelike doel – die stoor van meubels wat ook nie meer in gebruik is nie – ook uit ’n vergange era.

Hierdie verliese van lewe is onherroeplik – niks kan hier herwin word nie. Dui dit dalk op wat Botha wil tuisbring – dat die versnelling van klimaatsverandering so ’n vooruitsig inhou? Is dit dalk die besinning wat sy vra – ook ten opsigte van skaars natuurlike hulpbronne wat nie altyd as vanselfsprekend aanvaar kan word nie?

Twee werke om by te vertoef, is die tweedelige Witdraai I en Witdraai II in die Kalahari. Wat mens dadelik tref, is die wit sementswaan op die sand in die woestynagtige landskap. Heeltemal uit sy plek uit, iewers geplaas waar die simboliese swier daarvan ongedaan gemaak word. Dit is nie in sig nie – dis verwerp. Dit word ’n nuttelose objek wat simbolies eens grasie en skoonheid verteenwoordig het. Waar dit nou is, is dit finaal verwerp – dit lê buite bereik van wat die doel daarvan eens was. Dit maak nie meer sin nie – ook nie meer saak nie. Weer eens wys dit op die deurlopende tema van verlies, verlies as daaglikse bondsgenoot.

Net ’n staaltjie: hierdie swaan het wel ’n geskiedenis: dit was eens die besitting van die kunstenaar Catherina Scheepers wat sy van Bethulie na die Kalahari geneem het. Op hul destydse plaas was dit ook eens die voorwerp van ’n Walter Meyer-skildery. Verbeeld is die swaan wel, maar nou net ’n herinnering van bepaalde ervarings lank gelede wat nie meer saak maak nie. Nou, in die konteks van Lien Botha se uitstalling, is die swaan ’n verworpene.

’n Werk wat my lank tot nadenke gestem het, is ’n foto van ’n foto van die NG Kerk aan die muur van ’n kerk in Richmond in die Karoo. Hoe gelaai is die beeld nie met inhoud nie. Die kerk as simboliese anker van die plattelandse Afrikaners staan nou gestroop van sy waarde – nou net ’n beeld van ’n beeld van wat eens betekenisvol en invloedryk was.

Al die werke van Lien Botha dra GPS-koördinate – so sou jy die spoor daarheen kon neem. Maar hierdie uitstalling en dié reis bied slegs úiterlike rigtings, wat minder beduidend is. Die uitstalling vra om ínnerlik gelees word: om stil te staan by wat ons daagliks uitrangeer en nutteloos maak – om in herinnering te bring wat as verlies afgeskryf is en opnuut die waarde wat dit eens gehad het te bedink.

Vir die geleentheid is ’n genommerde en getekende katalogus beskikbaar. Die essays van Virginia McKenny en Sonja Loots is insiggewend in hul verkenning van Lien Botha se kunstenaarskap.

Dit is ’n belangrike uitstalling – ’n hoogtepunt in Lien Botha se reeds bewese kunstenaarskap. Dit is ’n uitstalling wat meer as een besoek werd is. Dit word aangebied in die Barnard Galery, Mainstraat 55, Nuweland en kan nog tot 1 Mei besigtig word.

FMR Kuns: Lien Botha – haar tiende solo-uitstalling – Yonder
Bespreking deur Amanda Botha. Uitgesaai op Woensdag 2 April 2014.

Lees ook gedagtes oor een van die foto's deur die kunstenaar.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top