www.citybooks.eu

  • 0
Rentia Bartlett-Möhl

Rentia Bartlett-Möhl bewoon baie stede. Sy vertel Naomi Meyer van 'n boek wat by die pas afgelope Woordfees 2014 bekendgestel is.

Hallo Rentia. Ons lesers ken jou as die skrywer van Reispapier en die afgelope tyd as LitNet se Nuwe Skryfwerk-redakteur. Jou bande met Vlaandere en Nederland is egter ooglopend as ek na jou biografie kyk. Vertel nog, asseblief?

Hallo Naomi. Tydens my beeldende-kunste-studie by Tukkies het ek Nederlands as ekstra vak gehad. ’n Eerste besoek aan Amsterdam en Utrecht in Desember 2005 het my totaal bekoor. Die Anne Frank-huis, Van Gogh-museum, Cobra-café op Museumplein, die gragte en die fietse – ek was ’n onbeskaamde toeris. Ook was ek gelukkig om in 2007 aan die Jongeren-projek deel te neem – 13 studente van oral oor Suid-Afrika en Namibië is gekies om aan ’n somerskool en ’n studentereis in Nederland en Vlaandere deel te neem. Dit is tydens daardie reis dat ek dieper in die kultuurverskille begin delf het en besluit het om vir een jaar – dit was 2008 – as au pair in Nederland te werk. Daardie jaar het ek vlot Nederlands leer praat by die gesinne waar ek tuis was, vir ’n tydjie by die Zuid-Afrikahuis op Keizersgracht as vrywilliger in die biblioteek gewerk en ook geskilder. My eerste uitstalling, “Een ontmoeting”, is daardie jaar by die einste Zuid-Afrikahuis gehou. In 2010 het ek besluit om in Suid-Afrika met my letterkundige studies aan te gaan. Omdat die Universiteit Stellenbosch ’n buitelandse komponent het as deel van die kursus MA Afrikaans en Nederlands, het ek besluit om die skuif van Johannesburg na die Boland te maak. In 2011 was ek toe gelukkig om vir ses maande met ’n beurs in Utrecht vergelykende letterkunde te gaan studeer as deel van die kursus by die Universiteit Stellenbosch. Ek het deel gemaak van ’n groep MA-studente wat literatuur en kultuurkritiek in Utrecht onder leiding van Geert Buelens studeer het. Die daaropvolgende jaar het ek vir ses maande ’n internskap by die Vlaams-Nederlandse kultuurhuis deBuren in Brussel gedoen. Dit is deur hulle dat ek by citybooks betrokke geraak het. Tans is ek koördineerder van die projek en besig met my MA-skripsie oor die Nederlandse skrywer Arnon Grunberg by Alfred Schaffer.

Het citybooks hieruit ontstaan? Of begin heel voor, asseblief, en vertel vir ons lesers van hierdie boeke se geboorte aanlyn en as harde kopieë?

deBuren maak reeds sedert 2009 citybooks. Verskeie stede regoor die wêreld, maar hoofsaaklik in Europa, word gekies. Vyf skrywers – een Nederlandse, een Vlaamse en drie plaaslike skrywers van die stad skryf – elkeen ’n citybook – ’n reeks gedigte, ’n kortverhaal wat in die stad afspeel, of waar die stad as ’n soort karakter figureer of ’n kritiese essay waarin daar oor die stad reflekteer word. Dan word elke verhaal in Nederlands, Engels, Frans en die plaaslike taal van die stad (in Stellenbosch se geval was dit Afrikaans) vertaal en in al hierdie tale voorgelees en opgeneem. Hierna kom dit aanlyn en kan enigiemand met ’n internetverbinding heeltemal gratis die luisterboeke aflaai: www.citybooks.eu. Tans het deBuren ’n hele biblioteek van stede waaroor daar citybooks geskryf word. Ek het maar net by die projek betrokke geraak tydens my internskap en is verantwoordelik vir die Suid-Afrikaanse sy daarvan.

Saskia de Coster

Hoekom stede en dorpe – en hoe word die dorpe en stede gekies?

Die idee is dat die leser na die stad verplaas word sonder om sy of haar huis te verlaat. Gewoonlik word stede gekies wat minder bekend en voor die hand liggend is. In plaas van Berlyn, sal deBuren byvoorbeeld Potsdam kies; in plaas van Brussel, Charleroi; in plaas van Antwerpen, Oostende. Die idee is dat kunstenaars en lesers aangemoedig word om te reflekteer oor ’n stad, die geskiedenis, hede, tale en toekoms daarvan. Die citybooks is egter nie ’n manier om die stad te bemark of toeriste aan te moedig om dit te besoek nie; eerder om dialoog te stimuleer oor die invloed van ruimtes en stede op mense en kulture.

Stellenbosch is gekies om die eenvoudige rede dat deBuren die US Woordfees as plaaslike vennoot kon inspan. Die US Woordfees nooi elke jaar ’n Nederlandse en ’n Vlaamse skrywer om uit eie werk voor te lees en onderhoude toe te staan. Dus het die verbande reeds bestaan en was dit betreklik eenvoudig om ’n citybooks-projek hier te loods.

Ook is Stellenbosch gekies vanweë die bande wat dit met Nederland en Vlaandere het; die skakel met die Europese vasteland is ooglopend op die dorp, en veral tydens die Woordfees sigbaar. En tog weerspieël die ruimtelike ordening van die dorp steeds die ruimtelike ordening van apartheid. Dit is ’n dorp met ’n onstuimige en opbloeiende geskiedenis van slawerny, die wynbedryf en opleiding. Dit is daardie kontraste wat ons wou ondersoek.

By die US Woordfees 2014 is die Stellenbosch-citybook bekendgestel. Bekroonde skrywers wat hierin opgeneem is: Marlene van Niekerk. En ek sien pas Saskia de Coster het ’n groot prys in Europa gewen. Hoe kies jy watter digters in die boeke tuiskom?

Die Vlaamse skrywer Saskia de Coster en die Nederlandse digter Arjen Duinker het verlede jaar die Woordfees besoek. Saskia de Coster het al ’n menigte tekste vir deBuren geskryf en was dus ’n maklike keuse. Sy is ’n jong skrywer wat reeds baie gewild en suksesvol in Vlaandere is. Dit was die eerste keer dat Duinker ’n citybook vir deBuren geskryf het. In 2001 het Duinker die Jan Campert-prys vir sy bundel De geschiedenis van een opsomming (2000) ontvang. Misschien vier vergelijkingen (2002) was vir die VSB Poësie-prys van 2003 benoem, terwyl De zon en de wereld (2004) daardie selfde prys in 2005 gewen het. deBuren het dus die geleentheid om met hom saam te werk met beide hande aangegryp.
Alle skrywers word goed finansieel vergoed vir hulle bydraes. ’n Geleentheid om jou werk in Nederlands, Frans en Engels vertaal gesien te word, is iets waarvoor nie baie skrywers nee sal sê nie. Die blootstelling aan ’n internasionale leserspubliek is nog ’n voordeel van die projek.

City One Minutes: Stellenbosch from deBuren on Vimeo.

Ek kyk na die YouTube-video’s op julle werf en snap dat julle ’n gans ander beeld van Stellenbosch vertoon as hoe die dorp se beeld in die land bekend is. Nie juis historiese geboue word gesien nie, maar eerder plakkershuise van Kayamandi. Is citybooks ’n soort stem vir die narratief wat nooit gehoor of gesien word nie?

Die Nederlands-Surinaamse filmmaker Emma Lesuis het vir citybooks Stellenbosch ’n reeks cityoneminute-films gemaak. Elke uur van die dag stem ooreen met ’n enkele minuut in Emma se 24 een minuut lange films, sodat die 24 films saam ’n gewone dag op Stellenbosch weerspieël. Vir haar cityoneminutes het Emma op ’n wynplaas in Stellenbosch gewoon. Dit was vir haar interessant om die bruin plaaswerkers af te neem, aangesien sy self van gemengde afkoms is en maklik toegang gekry het tot ’n wêreld wat vir haar baie anders as haar eie is. Op hierdie blad: http://www.citybooks.eu/nl/steden/p/detail/stellenbosch kan haar cityoneminutes (heel onderaan gesien word).

As die verskillende verhale gelees en beluister word, sal dit egter duidelik word dat Stellenbosch uit verskillende perspektiewe belig word – Marlene van Niekerk het byvoorbeeld die pretensieuse koskultuur van Stellenbosch krities beskou; Clinton du Plessis het ’n verhaal vertel van ’n bruin skrywer wat deur die nuwe bedeling as gevolg van sy kleur en intelligensie bevoordeel is. ’n Groot deel van die verhaal speel af in die huis van ’n prostituut in ’n gegoede deel van die dorp. Saskia de Coster se hoofkarakter verf die kalklyne van die sportvelde van Coetzenburg; en my hoofkarakter is ’n Stellenbosch-digter in Brandwacht wat aan die einde van haar loopbaan staan en verraai voel deur haar biograaf. Dus almal uiteenlopende stemme en perspektiewe.

Stefan Arno Möhl

Naeltjie-beskou. Wil mense dit doen? Is dit nodig? Of is dit nie wat julle doen nie? Is dit nie wat alle letterkunde behoort te doen nie?

Literêre tekste word toenemend gesien as ’n aaneenskakeling van stemme en ’n voedingsbodem van verskillende interaksies wat op mekaar sinspeel – iets wat deBuren se citybooks baie konkreet wys. Hierdie interaksies beteken nie net die tradisionele skakeling tussen skrywer, leser en karakter nie, maar ook die interaksie met teenstrydige eras, verlore en vergete tekste en talle “tale” wat in die kulturele en sosiale werklikheid gevind word. Dit is wat ek dink goeie letterkunde doen.

Jou agtergrond is, soos jy reeds vertel het, ook die beeldende en visuele kunste. Jou man is wonderlik as fotograaf. Is julle twee verantwoordelik vir die video’s, die foto’s, of wie doen wat?

My man, Stefan Arno Möhl, was die fotograaf van citybooks Stellenbosch. Hy het self gevind dat dit baie moeilik is om Stellenbosch te fotografeer – juis omdat die dorp se berge, witgekalkte huise, eikebome en waterslote al op soveel toeristiese foto’s pryk. Natuurlik het hy ’n ander perspektief gesoek en het besluit om die Stellenbosch- buurtwag op hulle nagtelike togte deur die dorp te vergesel.

Soos ek reeds gesê het, Emma Lesuis het die video’s gemaak. Ook het ’n groep studente van die Departement Joernalistiek en Beeldende Kunste ’n reeks eenminuutfilms oor Stellenbosch gemaak. Ek het dit alles net koördineer.

Hoe gereeld verskyn citybooks? Watter dorpe en stede is al besoek en wat is volgende op die lys?

Gaan kyk gerus na die hele biblioteek van stede wat reeds gemaak is en in progressie is: http://www.citybooks.eu/nl/steden. deBuren is tans gaste in die Indonesiese hoofstad Djakarta, waar ’n reeks citybooks gemaak word, asook in Hasselt en Genk in Limburg: http://www.citybooks.eu/nl/nieuws/p/detail/nieuwe-steden-hasselt-genk-jakarta.

Ek wil deBuren graag oorreed om volgende in Suid-Afrika Bloemfontein en Soweto te doen. Dit hang natuurlik alles van befondsing af, en of ons plaaslike vennote kan opspoor.

Prakties: hoe werk dit? Laai mens dit af, luister jy, kyk jy, koop jy? En waar?

Hier vind jy ’n lys van al die internasionale skrywers wat reeds deel is van die citybooks-netwerk: http://www.citybooks.eu/nl/schrijvers.
citybooks Stellenbosch kan hier afgelaai word.  Alle verhale, alle opnames, vertalings, gratis op dieselfde blad. Stefan se foto’s van Stellenbosch is hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top